October 2018

MARLEEN SMITH, SA Graan/Grain medewerker

Ter wille van spoed in ’n immer-krimpende plantvenster het ’n familieboerdery van Kokstad in KwaZulu-Natal van geenbewerking na strookbewerking oorgeskakel. Mnr Guy Holmes boer saam met sy pa, Trevor, op die plaas Inungi, op die Transkei-grens. Hulle verbou uitsluitlik mielies – beide op droëland en onder spilpunt.

Holmes sê hulle het al minstens agt jaar gelede van konvensionele na geenbewerking oorgeskakel. Dít het ’n enorme kostebesparing bewerkstellig; onder meer gebruik hulle nou die helfte van die diesel wat hulle vroeër gebruik het. Hierdie besparings was benewens ander betekenisvolle voordele, soos ’n herlewing in grondgesondheid en die feit dat kontoere spoedig nie meer nodig was om aflooperosie in die bek te ruk nie.

Hulle boer op beide eie en huurgrond in die omgewing van Kokstad en Cedarville. Hul lande is uiters uiteenlopend – van plat lande tot dié met skerp hellings. Tans plant hulle jaarliks ongeveer 1 250 ha mielies per jaar, waarvan sowat 250 ha onder spilpunt is, met normaalweg rondom 600 mm tot 800 mm reën per jaar.

Hul gemiddelde opbrengs op droëland is ongeveer 10 t/ha en onder die spilpunte rondom 12 t/ha tot 14 t/ha.

Ryp soms tot in November
“Ons plantvenster is klein en dit voel asof hy net al hoe knapper word,” sê Holmes. Dikwels is daar net 20 dae om al die hektare mielies te plant om seker te maak hulle spring die ryp vry. Hulle het onlangs weer ryp en sneeu in November gekry – en dit ryp dikwels nog tot in Oktober.

In planttyd word daar dwarsdeur die dag en nag geplant. Soms was dit al nodig om binne twee weke al die hektare geplant te kry.

“Ons het voorheen geenbewerking gedoen, maar ek vind dat ’n strookbewerkingsplanter die werk aansienlik vinniger doen. Met die geenbewerkingsplanter waar die kunsmis op die planter is, gaan dit veel stadiger. Met ’n 12-ry-planter kon ek in ’n 24-uur-dag met geenbewerking 60 ha tot 70 ha geplant kry. Met die strookbewerkingsplanter, sonder die kunsmis op, plant ek 150 ha in ’n 24-uur-dag.”

Dit beteken hy kan met een, pleks van twee, planters die werk gedoen kry.

Presisie kardinaal
Die jongste John Deere-planter wat ten volle vir presisie toegerus is, met ’n driepunt-aanhegting wat verdere presisieplant op hul lande met die hellings bevorder, word gebruik. Hy vind dat dié planter makliker in die bergagtiger dele met kleiner lande bestuur kan word as wat die geval is met ’n groot geenbewerkingsplanter. Outomatiese stuur met GPS op die trekker is, volgens hom, in die stelsel noodsaaklik.

Holmes, wat op die plaas grootgeword en skoolgegaan het, sê hulle het ’n paar jaar gelede, toe vleisbeespryse op ’n laagtepunt was, begin om al hul weiding vir gewasproduksie aan te wend. Deur beeste te verkoop en meer saaigrond by te huur, het dit die boerdery binne drie jaar vanaf ’n skaars winsgewende onderneming met 200 ha lande tot op die heersende 1 200 ha plus se gewasproduksie geneem.

Hulle berg ’n groot deel van hul oes op die plaas en hul opbergingskapasiteit is tans 8 000 ton.

Vroeër het hul sojabone beproef, maar vind dat mielies steeds die gewas is wat konstant die beste in daardie klimaat vaar.

“Danksy verminderde bewerking en presisietoediening het ons oor die jare ons stikstoftoediening aansienlik gesny,” sê Holmes. Bekalking en die gebalanseerde toediening van fosfate en kalium bly egter vir hom besonder belangrik.

Versuring
Sy grondkundekonsultant, mnr Cobus Burger van die firma SGS, meen ook dat bekalking van die grootste belang is in ’n stelsel soos dié wat Inungi toepas.

“Ondergrondse versuring tref geenbewerkingsprodusente, wat die kalk net op die grond uitstrooi, dikwels onverwags,” sê Burger. “Met strookbewerking kan die kalk egter op die bewerkte rye diep neergesit word, wat dié uitdaging verlig,” meen hy.

Volgens hom is nog ’n uitdaging met geenbewerking dat voedingstowwe soos kalium ondergronds ontgin word, maar nie aangevul word nie. In Holmes se stelsel kan hy die kalium vóór planttyd ondergronds bandplaas en met planttyd het hy die opsie om bykomende kalium toe te dien.

Burger sê geenbewerking het vir die Holmes’e reeds merkbare verbeterings bewerkstellig. Hul bogrond het reeds verdonker, maar die hindernis was tyd – hulle wou graag voor plant hul kunsmis in die grond kry.

Publication: October 2018

Section: On farm level