October 2018

LOUISE KUNZ, SA Graan/Grain redaksiespan

Volgens ’n artikel op fin24.com het Justin Spratt, sakebestuurder van Internet Solutions, gesê ’n mens moenie huiwer om ’n goeie idee na te boots nie. Jy hoef dus nie die wiel te herontwerp nie, maar as jy ’n plan beraam om dit te verbeter en meer doeltreffend te laat funksioneer, waarom nie?

Die Boerepatentkompetisie wat jaarliks deel vorm van die gewilde NAMPO Oesdag, gee aan planmakers ’n geleentheid om hul innoverende denke ten toon te stel. Sommige deelnemers verbeter ’n reeds bestaande produk of werktuig om dit gewoonlik meer koste-effektief en doeltreffend te maak.

Een van die deelnemers wat sy innoverende denke in vanjaar se kompetisie aan die dag gelê het, is mnr Martiens Prinsloo, ’n pekanneut- en lusernprodusent van die Hoopstad-omgewing. Prinsloo het sommer drie patente ingeskryf – ’n viertrek-vurkhyser wat dit makliker maak om in hulle omgewing se sanderige toestande te werk, ’n spilpuntwiel met ’n lang lewe en ’n besproeiingspyp met ’n langer leeftyd.

Spilpunt-verbetering
Omdat staalpype deel vorm van die struktuur van die spilpunte, veroorsaak pype wat oor tyd dunner raak en begin lek, dat spilpunte knak. Om pype te vervang, beteken koste en dat besproeiing vir ’n wyle gestaak moet word. Tydens ’n besoek aan ’n plaas in die Wes-Kaap het Prinsloo gesien hoe om hierdie uitdaging aan te spreek: Haal die water uit die staalpype.

Hy en sy seun, Tienie, het aan die werk gespring en nou hanteer UPVC (ongeplastiseerde polivinielchloried)-pype die water, terwyl die staalpype slegs vir die stutwerk van die spilpunt ingespan word (Foto 2). Hy noem dat verskeie van sy spilpunte (27 torings) reeds op dié manier funksioneer en besonder effektief werk.

Om verdere waterskade aan die staalpype te verhoed, word die PVC-pype onder die pype waardeur die water gewoonlik vloei, geplaas. Dit word dan op die dwarsyster vasgemaak en hang netjies met bloudraad vanaf die boonste pype (Foto 3). By die middelpunt van die spilpunt is ’n verlengstuk ingevoeg om die ou staalpype op te lig sodat die ander pyp ingelas kan word. Die PVC-pyp word met ’n Agrico rubber boot aan die spilpuntsenter gelas (Foto 4). Om te verhoed dat pype uitspring as gevolg van die waterdruk, word die pyp deeglik aan die punt van die staalpyp van die spilpunt vasgemaak.

’n Gat word met ’n gatsaag in die PVC-pyp geboor (sien Foto 5a) en skroefdraad (taps) word ingedraai. Hy gebruik selfgemaakte skroefdraadsnyers (Foto 5b), ’n Netafim-passtuk (adaptorFoto 5c) word dan in die PVC-pyp ingedraai. Dan word Netafim blank pyp met ’n 15 jaar-waarborg (’n pyp sonder enige druppers) daarin gedruk as die down pyp wat die water na die sproeier vervoer. Voor gebruik word die UPVC-pype met ’n goeie kwaliteit wit verf bedek om dit teen die son te beskerm.

’n Wiel wat hou
Dié pa-en-seun-span het ook ’n oplossing vir pap bande op ’n spilpunt: Staalwiele (Foto 6). Al is koste van die staalwiele dieselfde as dié van vervangingsbande, hou die wiele heelwat langer as rubberbande. Dit is ook nie geneig om slote in die landerye te trap nie, aangesien hoekysters op die loopvlak vasgesweis word sodat die wiel vastrap en nie gly nie.

Die wiele, wat effe kleiner is as die rubberbande, kan uit ’n enkel staalplaat van 8 mm gesny word – wat koste kan verminder.

Vir meer inligting, kontak Prinsloo by 082 652 4112.

Publication: October 2018

Section: Focus on irrigation