Hoeveel kos dit om ‘n mm te besproei?

Gepubliseer: 27 September 2021

2110

Besproeiingskoste word deur ’n paar hooffaktore beïnvloed, naamlik:

  • die ontwerp van die stelsel met die pompe, damme
  • en die besproeiingstelsel;
  • elektrisiteitskoste van die stelsel; en
  • die herstelwerk aan die stelsel.

Een van besproeiingsboerdery se grootste uitgawes is die elektrisiteitrekening. Dit is ’n koste wat ’n gewas se winsgewendheid ingrypend kan beïnvloed en ongelukkig nie iets wat sommer uitermatig verminder kan word nie. Die stelsel se ontwerp kan boonop maklik die spilpunt in ’n “skuldpunt” laat verander. Dit is dus noodsaaklik dat die ontwerp absoluut korrek gedoen word. Laat ’n kundige soos ’n landbou-ingenieur wat in die ontwerp van besproeiingstelsels spesialiseer, die stelsel ontwerp.

Die koste asook ontwerp van die stelsel word bepaal deur die volgende faktore in ag te neem:

  • waterbron (dam of boorgat)
  • gewasbehoefte (mm/dag)
  • tipe stelsel (spilpunt, drup of sprinkel)
  • grootte van die stelsel
  • stelseldoeltreffendheid
  • ure per week wat besproei word
  • vloeitempo (m³/h)/ha
  • waterdiepte (m)
  • statiese hoogte (m)
  • stelseldruk (m)
  • wrywingsverliese (m)
  • pompdruk (m)

Hierdie aspekte word gebruik om die motor- en pompgroottes (kW/ha) te bepaal.

Met die motor- en pompgroottes bekend, kan die elektrisiteitsverbruik asook die koste van herstelwerk aan die motor bepaal word. Die koste word gebaseer op ’n motor se lewensverwagting van 20 000 uur, met ’n jaarlikse gebruik van 2 500 uur. Die algemene herstelwerk van die motor is 10% van die gemiddelde aankoopprys, gedeel deur die lewensduur van die motor.

Die geweegde elektrisiteitskoste van die motor behoort bepaal te kan word deur die motorgrootte met die kragfaktor (KVA benodig) te vermenigvuldig, wat die elektrisiteitsverbruik gee. Deur die elektrisiteitsverbruik met die geweegde elektrisiteitstarief te vermenigvuldig, word die gemiddelde elektrisiteitskoste bepaal.

Ander vaste koste, wat bestaan uit waardevermindering en rente, kan ook bepaal word om sodoende die totale koste te bereken.

Hierdie berekende syfers kan egter besonder baie van die werklike syfers verskil. Die grootte van die motor en die pomp asook hul effektiwiteit het ’n definitiewe invloed op die koste. Daar is verskeie instansies wat produsente kan help om die stelsel se effektiwiteit te verbeter. Dit kan in sommige gevalle tot gevolg hê dat die koste per millimeter daadwerklik daal.

Met die elektrisiteitskoste bekend, kan die stelsel se koste per millimeter bepaal word, maar die tyd van elektrisiteitsverbruik kan weer eens die somme beïnvloed. Eskom se tariefstruktuur is van so ’n aard dat die hoeveelheid ure asook watter ure per dag besproei word, die rekening beïnvloed. Hul Ruraflex-tarief het drie strukture per 24 uur, naamlik piek, standaard en nie-piek vir die verskillende dae van die week. ’n Vol week het 168 uur, waarvan piektyd 25 uur; standaardtyd 62 uur en nie-piektyd 81 uur uitmaak. Die tariewe kan in ’n tyd van hoë aanvraag (Junie tot Augustus) heelwat hoër wees. Die tyd van die dag het ook verskillende tariewe. Piektye soos vroeg in die oggend en laat in die middag se tarief is baie hoër as laat in die nag. Produsente moet weet wanneer die pompe aangesit word – dit kan die koste drasties beïnvloed.

Spilpunte moet ontwerp wees om ’n sekere hoeveelheid water (wat ’n funksie is van die spitsgewaswaterbehoefte in ’n spesifi eke klimaatsone) oor ’n gegewe area toe te dien. Die korrekte ontwerp neem kapitale koste en bedryfskoste in ag deur die totale jaarlikse koste te minimaliseer. Die kapitale koste behels wat vir die toerusting (pompe, pype, sproeiers) betaal word en die bedryfskoste is wat vir elektrisiteit betaal word. Hierdie hoeveelheid elektrisiteit is ’n primêre funksie van die vloeitempo (hoeveelheid water wat per uur gepomp word) vir die druk (hoogteverskil, druk benodig vir die sproeiers en wrywing in die gekose pypdiameter) waarteen dit gelewer moet word. Weer eens is hierdie nie eenvoudige berekeninge nie.

Felix Reinders, ’n bekende landbou-ingenieur, het ’n tabel saamgestel om die koste per millimeter te bereken. Uit hierdie tabel, is dit duidelik dat daar ’n beduidende verskil is in die koste van verskillende grootte stelsels. Die vaste koste vir die transformator speel ’n groot rol asook die koste wat aangegaan moet word om die pompe te installeer. Dit beklemtoon net weer hoe deurslaggewend die ontwerp van die stelsel is.

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991.