Produksiekoste: Gróót prysstygings in insette op pad

Petru Fourie, landbou-ekonoom en navorsingskoördineerder, Graan SA
Gepubliseer: 13 Oktober 2021

1486

Deel 2 besproeiing

Met planttyd wat stadig maar seker nader kom, moet daar weer somme gemaak word om die winsgewendheid van somergraangewasse met mekaar te vergelyk. Die ontleding van bruto marges is ’n algemene manier om die relatiewe winsgewendheid van graangewasse te toon.

Hierdie artikel is die tweede in ’n reeks oor produksiekoste en gee ’n riglyn betreffende die winsgewendheid van besproeiingsgewasse. ’n Vorige artikel in die September-uitgawe het gefokus op die winsgewendheid van mielies teenoor sonneblom en sojabone.

Kernpunte vir komende seisoen

Duur insette
Heelwat rooi ligte is aan die flikker vir die komende seisoen. Kommer word uitgespreek oor plaaslike kunsmispryse wat maand tot maand gestyg het tot waar dit tans op rekordhoogtes staan. Daar is boonop rede vir dié kommer, aangesien kunsmis sowat 30% tot 35% van ’n mielieprodusent se veranderlike produksiekoste uitmaak. Indien die gemiddelde styging van kunsmispryse volgens ’n NPK-verhouding vanaf Augustus 2020 tot Augustus 2021 vergelyk word, het dit met ’n drastiese 65% gestyg! Verdere uitdagings vir graanprodusente behels ’n moontlike tekort aan noodsaaklike insette, soos byvoorbeeld glifosaat – die produsent se vernaamste middel om onkruidbeheer te bestuur.

Goeie kommoditeitspryse
Die Safex-vooruittermynkontrakte vir die verskillende kommoditeite bring egter hoop wanneer daar na die komende seisoen se winsgewendheid gekyk word. Die plaaslike graan- en oliesademark word goed deur die internasionale mark ondersteun weens ’n skerp styging in vraag na grane en oliesade uit China. Verder beleef gedeeltes van die Amerikaanse produksiegebied droë toestande en pryse verhandel tans op relatief hoë vlakke.

Weervoorspelling
Met die oog op die komende seisoen is dit belangrik om te weet wat ten opsigte van reën vir dié seisoen voorspel word. Weervoorspellers is optimisties oor die komende seisoen nadat bekendgemaak is dat ’n La Niña-patroon besig is om te versterk. ’n La Niña-verskynsel behoort ’n redelik goeie reënvalseisoen oor die somerreënvalgebied tot gevolg te hê. Weens dié waarskynlikheid van goeie reën kan goeie oeste realiseer – wat tradisioneel weer druk op plaaslike pryse plaas. Met internasionale pryse wat plaaslike pryse tans ondersteun, is dit belangrik dat produsente die internasionale mark fyn dophou om die risiko en geleenthede in die mark te volg wanneer besluite geneem word.

Samestelling van begrotings
Produksiekoste verskil radikaal van buurman tot buurman weens elke graanprodusent se eie stelsel, die tipe boerdery-eenheid en produksiepraktyke. Elke produsent word aangeraai om sy eie somme te maak en daarvolgens besluite wat die beste vir sy unieke omgewing en situasie is, te neem.

Insetpryse
Kunsmis: Plaaslike kunsmispryse is tans op rekordvlakke vir stikstof (N), fosfaat (P) en kalium (K) en het veral die afgelope paar maande skerp toegeneem. Verskillende aannames word met die opstel van die begrotings gemaak; in die geval van kunsmis (die grootste deel van ’n produsent se veranderlike koste) is ’n gemiddeld van al die kunsmismaatskappye se pryslyste vir N, P en K bereken en in die begrotings geïnkorporeer. Op ’n gemiddelde basis het die samestelling van N, P en K in die mieliebegrotings met ’n drastiese 46% gestyg.

Brandstof: Met die berekening van brandstofkoste is vooruitskattings met behulp van toekomstige rand/dollar-wisselkoerse en toekomstige ruoliepryse vasgestel (September 2021, Desember 2021 en Junie 2022). Die toekomstige brandstofprys is uiters moeilik om te bepaal, maar die verwagting is dat brandstof jaar op jaar met sowat 14% sal styg.

Chemie: Die styging in chemiese produkte varieer tussen onkruid-, insek- en plaagdoders. Die vernaamste verwagte stygings raak onkruiddoders, met insek- en plaagdoders wat minimale veranderings toon. Geen kortings is in ag geneem tydens die opstel van die begrotings nie.

Kostestruktuur van begrotings: Die kostestruktuur van die begrotings bestaan uit veranderlike en vaste koste. Die veranderlike koste sluit byvoorbeeld verskansingskoste en oesversekering in, maar dit kan van die totale koste afgetrek word indien dit nie van toepassing is nie. Die vaste of oorhoofse koste is uitgawes wat aangegaan moet word of daar geproduseer word of nie. Alhoewel vaste koste wesenlik van produsent tot produsent verskil, word ’n x-bedrag daarvoor voorsien om ’n beraamde totale produksiekoste te bereken.

Produksiekoste-uiteensetting en winsgewendheidsvergelyking
In die artikel word ‘n tabel en grafiek ten toon gestel. In die tabel word beraamde produksiekoste (veranderlike sowel as vaste koste) vir die komende produksieseisoen (2021/2022) uiteengesit. Die tabel en grafiekevergelyk die insetkoste per item, gelykbreekpryse en opbrengste asook bruto marges met mekaar.

Besproeiing
Tabel 1 dui die beraamde produksiekoste vir besproeiingsgewasse vir die Noord Kaap en Limpopo vir die komende seisoen (2021/2022) aan. Volgens berekeninge is die veranderlike koste om mielies onder besproeiing vir ’n 14,0°t/ha opbrengsmikpunt in die Noord Kaap te produseer ’n skokkende R31°997/ha terwyl dit sowat R25°094 vir ’n 12,0°t/ha opbrengsmikpunt in die Limpopo is. Hierdie kostes sluit nie ’n verskansingskoste in nie, indien produsente nie van sekere van die kostes gebruik maak nie kan dit slegs van die totale veranderlike kostes afgetrek word. Die jaar-op-jaar styging in die beraamde besproeiings produksiekoste kan grotendeels aan die styging van die kunsmispryse sowel as die verskansingskoste toegeskryf word. Indien dié Safex-prys teen die beraamde begrote insetkoste (slegs veranderlike koste) realiseer, moet ‘n besproeiingsprodusent in die Noord Kaap sowat 11,87°t/ha stroop terwyl die gelykbreek in Limpopo rondom 8,52°t/ha is.

In Grafiek 1 word die marges weereens tussen verskillende gewasse getoon, nou net onder besproeiing. Opsommend toon die grafiek dat sojabone se winsgewendheid beter as dié van mielies is. Volgens dié syfers is dit duidelik dat produsente hulle veranderlike kostes vir mielies sal kan dek maar die prentjie lyk heelwat anders indien die vaste koste komponent in berekening gebring word. Met die in agneming wat die vaste koste is mielie produksie onder besproeiing besonders uitdagend en moet bo-gemiddelde opbrengste behaal.

Grafiek 1: Margevergelyking tussen gewasse onder besproeiing vir die Noord-Kaap en Limpopo.

Slotsom
Die winsgewendheid van enige gewas is ’n funksie van die kommoditeitsprys, opbrengs en produksiekoste: Indien enige van hierdie faktore gevolglik verander, verander die winsgewendheid van die bepaalde gewas. Weens kommoditeitspryse, tydens die skryf van hierdie artikel, teen baie goeie vlakke (ondersteun deur hoë internasionale pryse) vir die komende seisoen verhandel is graan en oliesadeproduksie oor die algemeen relatief winsgewend. Dis nie algemeen dat al die pryse van die somergraangewasse op relatiewe hoë vlakke verhandel nie en heers daar ‘n groot dankbaarheid vir die beter graan ekonomiese situasie waarin die bedryf homself bevind. Uitgesluit die boonste, is die geweldige stygings in die insetkoste, spesifiek kunsmis, wel ‘n groot kommer.