Geïntegreerde gewas- en aangeplante weiding-gebaseerde lewendehawe-produksiestelsels – Deel 8: Lusern (Medicago sativa)

3782

Hierdie artikel is die agtste in ’n reeks artikels wat spesifieke gewasspesies vir aangeplante weiding bespreek wat ’n belangrike rol in BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies speel. Benewens dat die fisiese, chemiese, hidrologiese en biologiese eienskappe van die grond verbeter word, kan sulke spesies, insluitend een- of meerjarige dekgewasse, ook met sukses as veevoer gebruik word.

Lewendehawe-produksiestelsels is in baie opsigte van die benutting van aangeplante weidingspesies afhanklik – in hierdie geval as ’n aangeplante weiding-rusoesgewas, en kan dus ’n geïntegreerde komponent van BL-gebaseerde gewas-aangeplante weiding-rotasies word.

Dit is egter noodsaaklik om ’n aangeplante weidingspesie te identifiseer wat aan die vereistes vir ’n dubbeldoelgewas voldoen, met ander woorde vir lewendehawevoer en grondherstel.

Medicago sativa/Lusern (Lucerne)

Lusern is ’n langlewende, regop meerjarige peulgewas met ’n uiters diep penwortelstelsel, en met pers blomme en spiraalvormige peule. Die groeipunte ontwikkel vanaf die kroon.

Lusern is ook bekend as die koning van hooi. Dit is smaaklik, met ’n hoë voedingswaarde, maar veroorsaak opblaasprobleme wanneer dit onbeheerbaar bewei word. Van al die meerjarige spesies wat gebruik kan word om ’n goeie gehalte weiding te verskaf en wat noemenswaardige grondherwinningseienskappe het, is daar geen beter spesie as lusern nie.

Hierdie spesie is die geskikste vir besproeiingstoestande, veral vir hooiproduksie, maar daar is kultivars wat geplant kan word waar dit net deur reën gevoed word en wat beter vir weiding aangepas is.

Landbou-ekologiese verspreiding

Lusern kan op grond van sy winterdormansie in nege verskillende klasse verdeel word. Dit is by ’n wye verskeidenheid situasies aangepas, van klei- tot sandgrond en koue tot warm gebiede. Dit oorleef in toestande met so min as 400 mm reën per jaar, veral in grond met ’n goeie waterhoukapasiteit.

As gevolg van sy diep penwortelstelsel, is dit ’n relatief droogtebestande spesie. Hierdie spesie is sensitief vir suur en versuipte grond. Vir praktiese doeleindes is die volgende drie hoofgroepe van belang: Winterdormant (dormansie 2 tot 5); nie-winterdormant (dormansie 7 tot 8); hoogs nie-dormant (dormansie 9 tot 11).

Lusernkultivars word volgens hulle groei-aktiwiteit gedurende die winter geklassifiseer. Hoe laer die dormansieklas (bv. klas 2), hoe meer winterdormant en hoe stadiger sal die wintergroei wees.

Aan die ander kant van die spektrum is klas 9 tot 11 kultivars nie winterdormant nie en sal gedurende die winter groei. Die benutting van die kultivars stem ook met die dormansieklas ooreen. Die laer klasse is meer geskik vir weiding, klas 5 tot 8 kan as dubbeldoelig geklassifiseer word, terwyl klas 9 tot 11 hoofsaaklik vir hooiproduksie bedoel is.

Bestuur en benutting

Winterdormante kultivars is die beste vir weiding, die nie-winterdormante kultivars vir weiding en vir hooi, en die hoogs nie-dormante kultivars vir hooi. Geënte saad kan vir die grootste gedeelte van die jaar geplant word (net nie in die winter nie).

Gebruik 4 kg/ha saad onder droëlandtoestande (reënval in die omgewing van 500 mm per jaar) in rye met tot 18 kg/ha onder besproeiing. Wanneer vir weiding gesaai word, kan 5 kg/ha tot 20 kg/ha geplant word, afhangend van die reënval en die grondgehalte.

Die beste tyd van die jaar om te plant, is hoofsaaklik in die herfs (Februarie tot Mei), aangesien onkruid in hierdie tydperk stadiger ontkiem en groei en minder mededinging verwag word, maar daar moet onthou word dat lusern wat korter as 100 mm is aan rypskade blootgestel word. Alternatiewelik kan lusern in die lente geplant word (Augustus tot September), wat die voorkeur-planttyd op die Hoëveld is.

Wanneer lusern in rye geplant word, moet dit met ’n spasiëring van 600 mm tot 900 mm uitmekaar wees. Op die Hoëveld word rye van 30 cm dikwels gebruik wanneer die aangeplante weiding deur skape bewei word. Dit verseker dat skape nie die kroon van die lusern beskadig nie.

Wanneer dit onder besproeiingstoestande geplant word, word breedwerpige saai aanbeveel as die saad behoorlik gekonsolideer (gerol) word. Onder hierdie besproeiingstoestande is produksie in die somerreënvalgebiede ongeveer 15 ton/ha, hoewel 20 ton/ha al aangemeld is. Lusern word dikwels in gemengde aangeplante weiding geplant, en indien dit saam met ander spesies geplant word, is dit makliker om vir weiding te gebruik, met ’n kleiner kans dat die diere sal opblaas.

Hoewel lusern by baie grondsoorte kan aanpas (uitgesluit alkaliese, brakgrond), gedy dit die beste in diep sandgrond.

Onder droëlandtoestande groei dit beter in grond met ’n relatief vlak watertafel van tussen 2 m tot 6 m, maar dit groei veral nie op grond wat dikwels versuip is nie.

Dit is van die uiterste belang dat grondontledings uitgevoer word om te verseker dat die grond se pH in die omgewing van 6 tot 7, grondfosfaat (p)-vlakke ten minste 35 mg/kg, en kalium (K) 120 mg/kg tot 150 mg/kg is. Daar word dikwels verwag dat die grond ’n molibdeen (Mo)-tekort sal hê, en daar word sterk aanbeveel dat Mo toegedien word, óf met ’n lagie- óf ’n verpillingsproses.

Lusern gedy ook in grond met ’n hoë kalsium (Ca)-inhoud en dus sal hierdie spesie baie baat by die byvoeging van kalsitiese kalk as die grond se pH te laag is.

Instandhoudingsbemesting is belangrik en veral vir sandgrond kan die K en P dikwels beperkend wees as gevolg van die oes van lusern vir hooi. Een ton hooi verwyder ongeveer 20 kg K/ton en 3,5 kg P/ton. Beweiding hersirkuleer egter die meeste van hierdie elemente terug in die grond deur die mis van die diere.

Lusern as peulgewas het die vermoë om sy eie stikstof (N) uit die atmosfeer te bind. Dit is ’n merkwaardige eienskap wat hierdie plant so doeltreffend en waardevol maak. Vir hierdie proses om moontlik te wees, is dit egter noodsaaklik dat die saad wat geplant moet word, met die regte stam van Rhizobium-bakterieë geënt word. As hierdie proses reg uitgevoer word, sal die plantwortel geïnfekteer word, knoppies sal op die wortelstelsel van die plant ontwikkel en die N sal begin bind.

Benewens die produksie van hooi van lusern, kan oorweging gegee word om in hoër reënvalgebiede kuilvoer te produseer. Die maak van hooi van lusern kan dikwels moeilik wees as gevolg van onvoorsiene nat en bewolkte toestande, maar inkuiling is onder hierdie toestande moontlik. Die suikerinhoud van lusern is redelik laag en dit is raadsaam om dit met ander gewasse te meng, soos met sorghum of mielies en/of deur molasse by te voeg.

Bestuursuitdagings

Die hoogste risiko wat bestaan wanneer lusern benut word, is die moontlikheid dat herkouers ’n toestand ontwikkel wat opblaassiekte genoem word. Hierdie toestand kom voor as gevolg van ’n spesifieke proteïen in die plant wat uiteindelik verantwoordelik is dat die herkouer versmoor.

Om opblaassiekte te voorkom, word daar aanbeveel dat die aangeplante weiding op ’n volwasse stadium bewei word, dat daar droë hooi en genoeg drinkwater verskaf word, en dat honger diere nie toegelaat word om te wei nie. Bloat Guard word ook beskou as ’n produk wat vir diere gegee kan word om te verhoed dat dié toestand voorkom.

Vanuit ’n produksieperspektief, met die intensiewe verbouing van lusern is siekteweerstand baie belangrik en talle van die hoër-dormansiesoorte is bekend vir hierdie eienskap. Lusern moet nooit oorbewei word nie, aangesien dit tot die indringing van gras kan lei.

Lae grondfosfaatvlakke word ook beskou as ’n rede vir grasse om lusernlande binne te dring, en ’n mens sal die onkruiddoders moet gebruik wat beskikbaar is om grasonkruid in lusernlande te beheer.

’n Goeie stand hooi.

 

’n Lusernblom.

Grondbewaring en gesondheidsvoordele

Hierdie meerjarige peulgewas-aangeplante weiding is al suksesvol regoor die land geplant. Dit produseer nie net ’n goeie gehalte ruvoer nie, maar as gevolg van sy diep wortelstelsel het dit die vermoë om ’n beduidende hoeveelheid organiese materiaal in die grond op te bou.

Hierdie spesie se algemeenste eienskap is om atmosferiese stikstof op te neem en in hoëkwaliteit-plantproteïen om te skakel, wat indirek die grond se N-vlakke vir daaropvolgende gewasse verhoog.

Daar kan ’n residuele grondstikstof van 130 kg/ha tot 350 kg/ha wees (afhangende van die manier waarop die lusern bestuur is) wat vir ’n daaropvolgende gewas beskikbaar is.

Volgens Crocker (2003) elimineer die kweek van lusern die behoefte aan stikstof (N) bemesting 3,5 jaar lank in die volgende vyf gewasse. Lusern verbeter ander faktore, soos grondorganiese koolstof en algehele struktuurstabiliteit, vergeleke met deurlopende graanverbouing en grond wat lank braak lê.

Diereproduksie-aspekte

Lusern word beskou as die beste peulgewas om in Suid-Afrika te plant, en word gewoonlik gebruik om goeie gehalte hooi te produseer, veral onder besproeiing.

Wanneer lusern vir weiding gebruik word, is dit belangrik om die volgende aspekte in gedagte te hou:

  • Moenie toelaat dat diere meer as 24 uur op ’n keer daarop wei nie.
  • Moenie dat ongekondisioneerde diere lusern vreet nie – gee hulle ’n rukkie om by die hoë gehalte weiding aan te pas.
  • Moet nooit toelaat dat honger diere lusern vreet nie, en maak seker dat daar genoeg water beskikbaar is vir diere om te drink.
  • Die eerste jaar van lusern moet lig bewei word.
  • Wanneer lusern bewei word, word daar aanbeveel dat medium gehalte hooi terselfdertyd verskaf word sodat die tannien in hierdie hooi die proteïen wat vir opblaassiekte verantwoordelik is, kan afskei en só die risiko van die voorkoms van opblaassiekte kan verlaag.
  • Daar word dikwels aanbeveel dat lusern veiliger is om bewei te word as dit in sy volle blomstadium is.
  • Sommige diere, soos Merinoskape, is minder vatbaar vir opblaassiekte.
  • Vanuit ’n oogpunt van gehalte kan ’n ru-proteïen van so laag as 19% en so hoog as 25% verkry word, met onderskeidelik ’n verteerbaarheid van 65% tot 75%.

Graangewasproduksie

Nadat ’n tipiese rusoesgewasstelsel met lusern vir ’n tydperk van ongeveer drie tot vyf jaar gebruik is, behoort die grond genoeg herstel te wees om eenjarige graangewasse onder ’n BL-stelsel te kweek. Onkruiddoders maak die aangeplante weiding vinnig dood en die aangeplante weidingreste bly op die grond se oppervlak, wat bedekking verskaf wat erosie beperk en waterinfiltrasie bevorder, asook hulle tempo van mineralisasie verminder.

Wanneer ’n besluit geneem is om die rusoes te beëindig, moet alle aangeplante weidingskomponente beskou word as “onkruid” wat verwyder moet word. Dit moenie meer as bron van voer vir lewende hawe gesien word nie.

Lusern moet gewoonlik verwyder word ’n seisoen voordat graangewasse geplant word om toe te laat dat die grondprofiel met water aangevul word. Mielies kan die volgende somer geplant word, of twee jaar na mekaar geplant word (“gestapel” word), gevolg deur ’n onderbreking met ’n een- of tweejaar-peulgewas (soos sojabone) aanplanting.

’n Geskikte geenbewerkingsplanter moet gebruik word om die graangewasse direk in die reste van die aangeplante weidingsgewas te plant sonder enige ander bewerkingspraktyk wat die grond versteur. Normale onkruid- en plaagbeheerpraktyke moet gevolg word. As gevolg van die residuele grondstikstofvlakke kan die volgende mielie-oes se N-bemestingsvlakke vir ten minste die volgende twee jaar (met ander woorde in die gestapelde rotasie) met 50% verminder word.

Die ideale stadium om hooi te sny.

 

Te laat vir hooi, maar goed vir weiding om opblaassiekte te voorkom.

Gevolgtrekking

Hierdie peulspesie het ’n bewese produksierekord en kan as ’n veeldoelige gewas met beduidende voordele gebruik word. Dit het nie alleenlik die vermoë om die grondgehalte te verbeter nie, dit verskaf ook ’n gewas met ’n hoë waarde en uitstekende voergehalte tydens hierdie tydperk van grondherwinning.

Dit het geen stikstofvereistes nie en kan sy eie stikstof uit die atmosfeer bind, wat omgeskakel word na goeiegehalte-plantproteïen, asook beduidende hoeveelhede residuele grondstikstof vir die daaropvolgende graangewasse.

Die beweidingsbestuur van hierdie spesie kan moeilik wees, maar as lusern met ander gewone subtropiese grasse soos Eragrostis curvula en Digitaria eriantha gemeng word, kan dit weiding van ’n hoë gehalte sonder ernstige teenkwaliteitfaktore verskaf.

Vir meer inligting, kontak dr Wayne Truter by wayne.truter@up.ac.za, prof Chris Dannhauser by admin@GrassSA.co.za, dr Hendrik Smith by hendrik.smith@grainsa.co.za, of mnr Gerrie Trytsman by gtrytsman@arc.agric.za.

Verwysings

Crocker, G. 2003. Lucerne boosts cereals in crop rotations, Agnote DPI-429. Tamworth: Australia.