Skedulering – besproeiing se belangrikste inset

Dup Haarhoff, hoof: Landboukundige Dienste, GWK
Gepubliseer: 1 Oktober 2020

1798

Die belangrikste faktor wat opbrengs en kwaliteit beïnvloed onder besproeiingstoestande, bly na al die jare steeds waterskedulering.

In die skematiese voorstelling (Figuur 1), wat die GWK-span in sy benadering tot presi­sie­boerdery volg, kan duidelik gesien word (in grys gemerk) watter geweldige rol water en waterverwante aspekte in die opbrengste speel.

Figuur 1: Hierdie figuur stel die holistiese benadering wat GWK tot presisieboerdery het, voor. Let op die grys gedeeltes – dit vorm die fondasie van optimale bestuurspraktyke vir goeie waterskedulering.

Anders as onder droëlandtoestande, kan watertoedienings tot so ’n mate beheer word dat dit optimale groei en produksie be­vorder. Vir optimale besproeiingskeduleringstoestande moet die fisiese kondisie van die grond optimaal wees. Die bestuur van die totale hidroulika in die grond is net soveel eenvoudiger indien alle grondfisiese hindernisse uit die weg geruim word. Natuurlik speel grondbiologie en grondchemie ook ’n betekenisvolle rol by optimale grondtoestande. Die begrip “waterskedulering” moet dus in ’n holistiese konteks gesien word, waar ’n wye verskeidenheid faktore die effektiwiteit daarvan beïnvloed.

Hoe moet waterskedulering benader word?
’n Groot fout wat produsente maak as dit by waterskedulering kom, is om so te fokus op puntdata (daar waar die meetpunt staan) dat die groter prentjie (ruimtelike verspreiding) van die eenheid wat bestuur word, misgekyk word. Dit is noodsaaklik dat afstandswaar­neming gekoppel word aan puntdata om sodoende te verseker dat realistiese en toepaslike wateraanbevelings gedoen word.

Die gebruik van puntdata deur meetinstrumente (probes) gee vir die produsent ’n aanduiding van die hoeveelheid water wat benodig/gebruik word deur die plant. Dit dui ook aan hoe die hidroulika op daardie spesifieke punt werk (hoe lank neem dit water om deur spe­sifieke grondlae te beweeg, ensovoorts). Laasgenoemde is weer van belang om die hoeveelheid water wat per toediening plaasvind, te voorspel. Indien die grondprofiel besig is om uit te droog (dieper lae waar wortels voorkom), moet groter hoeveelhede water toegedien word – indien die profiel hierdie hoeveelhede water kan hanteer. Moet ook nie te lank wag om weer water te gee nie, sodat die haarwortels nader aan die grondoppervlak nie afsterf weens droogte nie. Daar moet dus ’n fyn balans wees tussen wanneer water gegee word en die hoeveelheid water wat gegee word.

Een van die grootste kopsere onder besproeiing, is afloop en afloopbestuur. Indien die infiltrasietempo van grond oorskry word, kan dit ernstige probleme veroorsaak weens afloop. Laasgenoemde kan duidelik afgelei word uit die grafieke wat deur sekere meet­instrumente (continuous logging) genereer word. Afloop word die meeste geassosieer met groot hoeveelhede water wat uit ’n spilpunt loop of met die wielspore af beweeg. Die mikrohoeveelhede water wat vanaf klein oppervlaktes na naburige gedeeltes afloop, doen ook baie skade, maar word nie noodwendig raakgesien nie. Die pro­bleme word geëskaleer wanneer kunsmis deur die stelsels toegedien word. Konsentrasies van water en kunsmis wat soms in sekere areas akkumuleer, kan tydelike toksiese effekte tot gevolg hê. Hierdie probleme word groter indien daar nie effektiewe primêre bewerking (indien nodig) gedoen is, wat ’n homogene groei­medium tot gevolg het nie.

Gewasspesifieke strategie
Nog ’n aspek wat waterskedulering effektief maak, is die feit dat daar ’n strategie per gewas moet wees ten opsigte van hoeveel en wanneer water gedurende die groeisiklus gegee moet word. Laasgenoemde sal wissel tussen gewasse en daar word voorsien dat dit in die toekoms tussen kultivars ook sal varieer. Hierdie strategie sal deel uitmaak van die produsent se beplanning en sal ’n invloed hê op toedieningstye van verskeie ander middele, soos onkruidbeheer, swamdoders en bemesting.

Die strategie kan ongelukkig slegs deur spesialisvakkundiges saamgestel word wat jare se ondervinding van die spesifieke gebied en ander hulpbronne het.

Heelwat variasies in waterskedulering kan voorkom ten opsigte van beplanning tussen kultivars, grondsoorte en bestuurs­praktyke (byvoorbeeld geenbewerking, minimum bewerking en konvensionele praktyke). Wees dus versigtig vir resepte, alhoewel dit handig te pas kan kom vir beplanningsdoeleindes.

Daar is ongelukkig nie een resep wat vir almal sal werk nie. So sal gronde wat geneig is tot versouting anders hanteer word as gronde sonder daardie probleem. Wanneer koring geplant word, mag sekere aanplantings – teenstrydig met die norm – meer gereeld water kry as in ander gevalle om sodoende die soutkonsentrasie (veral tydens saailingtyd) in die grond beter te bestuur. Hier speel die kwaliteit van water natuurlik ook ’n rol.

Suurstof speel ’n deurslaggewende rol tydens besproeiingskedulering (Foto 1 en Foto 2). Moontlike keer- of verdigtingslae kan veroorsaak dat die aanbe­velings varieer van die normale om sodoende te voorkom dat anaërobiese toestande ontstaan.

Optimale wortelontwikkeling in aërobiese toestande.
Anaërobiese toestande ontstaan weens ’n verdigte laag wat voorkom.

Die goue reëls van waterskedulering

  • Dink holisties en wees bewus van die verskeie faktore wat ’n invloed op mekaar kan hê.
  • Grondfisika – maak seker die grond se fisiese status is optimaal.
  • Weet tot waar die gewas se wortels ontwikkel het deur gebruik te maak van profielgate.
  • Effektiewe stelsels is noodsaaklik – let ver­al op na druk en waterverspreiding.
  • Maksimum suurstof. Maak seker dat daar ten alle tye genoeg suurstof in die grond is – voorkom anaërobiese toestande.
  • Voorkom afloop, aangesien dit op ’n mikro- sowel as ’n makrovlak baie skadelik is.
  • Monitering – kalibreer meetpunte deur middel van ’n grondboor en moniteer deur gebruik te maak van satellietbeelde wat ’n ruimtelike oorsig bied.
  • Goeie kommunikasie tussen alle partye betrokke by waterskedulering is ononderhandelbaar.

Opsommend
Fokus daarop om die basiese dinge reg te doen, dan sal waterbestuur eenvou­diger wees. Die produsent moet sorg dat wortels optimaal kan ontwikkel, dat daar geen mensgemaakte keerlae in die grond voorkom nie en dat die waterverspreiding van die besproeiingstelsel reg volgens die ontwerp werk. Hou altyd in gedagte dat suurstof een van die deurslaggewende faktore is om in ag te neem tydens die bestuur van water. ’n Betekenisvolle konsep om te verstaan en te monitor is dié van watergebruiksdoeltreffendheid (WGD). Die produ­sent moet altyd weet hoeveel kilogram produk en hoeveel rand hy per millimeter water genereer.

Kontak Dup Haarhoff by GWK Landboukundige Dienste vir meer inligting.

Lees ook Pietman Botha se artikel oor die keuse van besproeiingsgewasse deur op dié QR-kode te klik. Hy bespreek hoe om hierdie belangrike keuse te maak deur te verwys na die bestuur van besproeiingsbeperkinge en te kyk na wins/ha en wins/mm.