November 2018

PAUL JANSE VAN RENSBURG, NADINE SCHUTTE, PROFF JOHNNIE VAN DEN BERG en STEFAN SIEBERT, Geïntegreerde-plaagbestuurprogram, Eenheid vir Omgewingswetenskappe, Noordwes-Universiteit

Die grootskaalse verbouing van gewasse lei tot die transformasie van die natuurlike habitat, sowel as die fragmentasie van oorblywende habitat. Dit mag tot ’n afname in biodiversiteit lei.

Daar is tans bitter min inligting oor die diversiteit van Arthropoda (insekte, spinnekoppe en myte) in landbou-ekostelsels in Suid-Afrika beskikbaar. Hierdie soort inligting is noodsaaklik om ons in staat te stel om die insekgemeenskappe in hierdie stelsels beter te verstaan en om die belangrike ekostelseldienste wat hulle verrig, effektief te benut. Hoë diversiteit dra definitief by tot natuurlike biologiese beheer van plae.

Arthropoda word dikwels as skadelik gesien en oor die algemeen as plae van gewasse beskou. Hierdie siening is egter nie heeltemal korrek nie. Landbou-ekostelsels huisves uiters hoë getalle Arthropoda wat tot voordeel vir die produktiwiteit van hierdie stelsels is. Die biodiversiteit van Arthropoda in landbou-ekostelsels lewer belangrike ekostelseldienste aan die produsent, insluitend die sirkulasie van nutriënte, die regulering van die mikroklimaat, hidrologiese prosesse, die detoksifikasie van chemikalieë, biologiese beheer van plae en bestuiwing.

Verskillende insekspesies verrig verskillende ekostelseldienste en insekte wat soortgelyke dienste lewer, kan in funksionele groepe saamgevoeg word (Tabel 1).

Daar is ’n groot tekort aan data oor biodiversiteit, sowel as die ekostelseldienste wat dit aan landbou in Suid-Afrika verskaf. Om hierdie rede is daar tans twee studies aan die Noordwes-Universiteit onderweg om, onder meer, die biodiversiteit in sojaboonproduksiestelsels te ondersoek. Hierdie projekte dra by tot die identifikasie van prioriteitspesies vir die bewaring van ekostelseldienste – veral die natuurlike vyande van landbouplae.

Hierdie studies volg op ’n soortgelyke studie deur dr Monique Botha, wat gefokus het op diversiteit van plante en insekte in mielieproduksiestelsels. Haar opnames het ’n totaal van 846 plantspesies en 1 689 Arthropoda-morfospesies, wat in mielielande en die aangrensende natuurlike habitat voorkom, opgelewer.

Tot dusver het hierdie navorsing ’n groot verskeidenheid Arthropoda gedurende die 2017/2018-seisoen se opname op sojabone opgelewer (Grafiek 1). Daar is onder andere ’n groot verskeidenheid sapsuiende stinkbesies in sojaboonlande gevind. Daar is ook ’n groot aantal parasitiese wespes, ’n verskeidenheid predatore (veral spinnekoppe en liewenheersbesies), asook ’n groot aantal bestuiwers versamel wat tot produksie en onderhoud van die natuurlike habitat rondom sojaboonlande bydra.

Gesonde natuurlike veld is uiters belangrik om insekdiversiteit in naasliggende landerye te verhoog. Hierdie natuurlike veld verskaf hulpbronne aan voordelige Arthropoda-groepe, insluitende skuiling en alternatiewe voedselbronne.

Tydens die afgelope seisoen se opnames is ’n groot aantal Schoemansvlooie (of oorkruipers) (Foto 1) en liewenheersbesies (Foto 2), wat belangrike predatore van plantluise is, in die natuurlike habitat wat aan sojaboonlande grens, gevind.

Groot aantalle roofwantse (Foto 3), wat predatore is van veral larwes van byvoorbeeld bolwurms, is ook in en om sojaboonlanderye versamel. Die natuurlike veld rondom sojaboonlande is daarom ’n belangrike bron van predatore wat na lande toe beweeg wanneer die produksieseisoen ’n aanvang neem – waar hulle dan belangrike ekostelseldienste lewer.

Na afloop van die afgelope seisoen se opnames blyk dit dat groenstinkbesies (Nezara viridula) (Foto 4) die dominerende plaag op sojabone is. Astyluskewers (Astylus atromaculatus) het ook algemeen voorgekom en kan skade aanrig indien hulle in aansienlike groot getalle tydens die blomperiode teenwoordig is.

Larwes van sporadiese plae soos Afrika-bolwurm (Helicoverpa armigera), landmeterwurm (Thysanoplusia orichalcea) en Sondagsrokkie (Cynthia cardui) het algemeen voorgekom, maar nie in hoë getalle nie.

Die aantal plaaginsekte wat in sojaboonlanderye versamel is, het slegs 0,01% van die totale Arthropoda-getalle opgemaak. Hierdie plae word besonder effektief onderdruk deur ’n verskeidenheid van natuurlike predatore en parasitoïde. Die hoë insekdiversiteit in sojaboonlande verlaag die risiko vir insekplaaguitbreke en lewer daarom ’n belangrike ekostelseldiens. Die onderhoud van ’n diverse insekgemeenskap is derhalwe tot voordeel vir sojaboonprodusente.

Publication: November 2018

Section: On farm level