Rolspelers in graan gesels saam oor stabiliteit in vooruitgang

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 6 Mei 2024

89

Nagenoeg 70 landboumaatskappye en -instansies het by die Protea-hotel in Stellenbosch bymekaargekom vir die 39ste simposium en algemene jaarvergadering van die Graanhanteringsorganisasie van Suider-Afrika (GOSA). Dié geleentheid, wat op 18 en 19 Maart gehou is, het belanghebbendes vanuit die hele graanwaardeketting bymekaar gebring om deurslaggewende kwessies in die bedryf onder loep te neem.

“GOSA is trots om te sê dat ons lede vanuit die hele graanwaardeketting daarvoor verantwoordelik was om die afgelope seisoen se uitvoere suksesvol te fasiliteer. Die bestemming vir sowat 195 000 ton Suid-Afrikaanse witmielies was Suid-Korea, Portugal en Honduras. Witmielies is weer na Mexiko uitgevoer en ’n diepsee-uitvoervrag na China is vir die eerste keer verskeep. Die uitvoer van sojabone vir 2022/2023 het altesaam 277 504 ton beloop,” het Hein Rehr, president van GOSA, tydens die simposium gesê.

Die simposium se tema, “Stabiliteit in vooruitgang”, het aanklank gevind by die uitdagings waardeur die graanbedryf tans in die gesig gestaar word. Sprekers het strategieë uitgelig om stabiliteit te handhaaf in ’n wisselvallige omgewing gekenmerk deur verswakkende infrastruktuur, ’n sukkelende ekonomie, politieke onstuimigheid en klimaatsverandering.

GOSA se raad vir 2024/2025 is (van links, voor): Ferdinand Meyer (Ronin); Hein Rehr (RehrCo), president; Johan van Rensburg (VKB), visepresident en Willem Strauss (RMB). Agter: Marco Pretorius (AFGRI); Rinus Bezuidenhout (Bester Voere); Stefan van Staden (AFGRI); Dries Dannhauser (Tiger Brands), tesourier; Michal Rehr (National Fumigants) en Tom Terblanche (Grain Carriers).

Politieke ontleding en verkiesings
Dr Theo Venter, ’n politieke ontleder van die Universiteit van Johannesburg, het die rol van landbou in Suid-Afrika se komende algemene verkiesing bespreek. Hy het die frustrasie wat kiesers ervaar weens kwessies soos beurtkrag en lewenskoste beklemtoon. Opposisiepartye is gereed om munt te slaan uit hierdie sentiment, wat moontlik die regerende party se 30 jaar lange bewind gaan uitdaag.

Ekonomiese stabiliteit
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, het die ANC bestempel as die mees vernietigende mag wat Suid-Afrika se ekonomie betref. Disfunksionele plaaslike owerhede, instellings in staatsbesit en toenemende skuld beklemtoon die dringendheid van gesonde ekonomiese beleid. Die volgende regering, hetsy ’n enkele party of ’n koalisie, moet ekonomiese stabiliteit prioritiseer, het hy bygevoeg.

Energie-oorgang
Dr Wallace Vosloo, ’n korporatiewe spesialis in hoëspanning-inge­nieurswese, het die energiekrisis bespreek. Beurtkrag sal na verwagting vir die volgende dekade voortduur, wat ’n verskuiwing in denke noodsaak. “Die toekoms van energie lê in waterstof, want olie- en steenkoolreserwes gaan nie vir altyd hou nie,” het hy gesê. Hy het verwys na Eskom se destydse wêreldklasstatus versus die verswarende huidige effek van burokrasie, kaderontplooiing en ’n korrupte verkrygingstelsel by dié staatsinstelling.

Landbouvooruitgang
Dawie Maree van FNB Agribesigheid het ’n ekonomiese siening van vooruitgang in die landbousektor verskaf. Alhoewel daar positiewe ontwikkelings was, bly beleidsonsekerheid ’n risikofaktor. Wat produksie en bestuur betref, het doeltreffendheid in die sektor toegeneem met die aanvaarding en benutting van tegnologie as ’n belangrike positiewe drywer.

Altesaam drie tegniese werkswinkels is as deel van die simposium aangebied deur professor Jan Havenga (Stellenbosch Universiteit), Japie Snyman (Olam Agri) en Johan van Rensburg (VKB). Dr Gustav Gous, ’n bestuursafrigter en hoof- uitvoerende beampte van Short Walk Seminars, was die motiveringspreker.

GOSA se 39ste simposium het gedien as ’n platform vir besprekings, kennisdeling en netwerkvorming. Terwyl die graanbedryf uitdagings navigeer, bly belanghebbendes verbind tot stabiliteit in vooruitgang.

Die simposium is bygewoon deur verteenwoordigers van sowat 70 landboubesighede en instansies uit die graanwaardeketting. Van links: Ameropa se Anup Rampiar en Marelise Badenhorst, Heleen Viljoen van Graan SA en Juan-Pierre Kotze van SACOTA tydens die verwelkomingsfunksie.
Dr Theo Venter, spreker en politieke ontleder verbonde aan UJ; Hein Rehr, GOSA-president; Kallie Schoeman, besturende direkteur van Schoeman Boerdery en Wessel Lemmer, algemene bestuurder van Agbiz Grain.
FNB Agribesigheid se Dawie Maree (links) was ’n spreker tydens die simposium. By hom is GOSA-raadslid Marco Pretorius van AFGRI en Cobus van der Merwe van The Match Exchange.