’n Landboukundige wat gronde in Noordwes laat praat

Gepubliseer: 29 Februarie 2024

304

Februarie se held: Martiens du Plessis

Martiens en sy vrou, Esther, is ou bekendes in die Lichtenburg-omgewing waar hulle ’n groot deel van hul lewe saam geslyt het. Sedert Martiens se aanstelling by NWK se landboukunde-afdeling in 1985, het hy produsente in die Noordwes asook lands­wyd van raad voorsien. Hy was verder die outeur van ’n magdom goeie en leesbare landbou-artikels en het verskeie pryse ontvang, onder meer vir die beste artikel in die SA Graan/Grain-tydskrif. Tans is daar een van sy artikelreekse oor grond op Graan SA se webwerf beskikbaar.

Die wenner in die My Hero-reeks vir Februarie is Martiens du Plessis.

Die wetenskap is vir Martiens die beginsel waarop sy kennistoepassing berus en daarom het hy tyd spandeer om nuwe kennis te vestig. Die invloed van grasrusoeste op grondeienskappe wat volhoubare gewasproduksie op sandgrondtipes beïnvloed, is een van die groot bydraes wat hy gelewer het. Produsente wat hierdie stelsels vandag nog toepas, is vir seker aan die wenkant. Om produksienorme vir verskillende grondsoorte met verskillende dieptes en wisselende reënval te bepaal, is ’n groot taak waaraan Martiens meegewerk het. Hierdie inligting vorm die potensiaalriglyne wat vandag ’n basiese vereiste vir presisieboerdery is.

Martiens het diep spore in vele boerderye getrap. Met sy passie om eerlike, onafhanklik getoetste en toepaslike praktykkennis te deel, kon hy baie produsente se voortbestaan en welvaart help verseker. Hy het nie geskroom om foute en die gevolge van foute uit te wys nie. Hierdie kennis van hom het voortgevloei uit harde werk en noukeurige navorsing.

Frik van Rooyen het Martiens genomineer as held in die My Hero-reeks.

Grondkartering en die toepassing van die inligting is ’n taak waarin Martiens uitgeblink het. Hierdie inligting help produ­sente vandag om ekonomiese besluite te neem en om risiko tot ’n mate te beperk. Nie net het produsente by sy kennis gebaat nie, maar ook landboubesighede – veral NWK en vele finansiële instellings – het sy kennis gebruik om produsente te help.

Grondbewerking sal altyd ’n moeilike onderwerp bly. Hier het Martiens ook ’n rol gespeel in die bepaling van die optimale bewerkingspraktyke vir verskillende grondsoorte asook om riglyne vir die beste bewerkingsdieptes daar te stel. Die toepassing van spoorverkeer op lande is ’n voorbeeld van goeie boerderypraktyke wat Martiens oorgedra het.

Martiens en verskeie akkerbouers, landbou-ekonome en veekundiges het saamgewerk om produsente se winsgewendheid te optimaliseer. Baie jong landboukundiges kon ook by hom leer weens sy vermoë om die praktiese aspekte van grond oor te dra. Martiens kan grond laat “praat” en sodoende kan landboukundiges en produsente die beste praktyke vir hul grondsoorte kies.

Hy het ook bewaringsbewerking nagevors en ’n praktiese implementeringsplan is vir heelwat produsente opgestel.

Martiens, jou bydrae tot die landbou maak jou vir seker MY HERO!