Toekennings gemaak aan dié woordsmede

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 12 April 2024

122
Die lede van die media wat Graan SA se Kongres bywoon, wys jaarliks die beste spreker van die vloer af aan. Ramoso Pholo, Graan SA-raadslid vir Streek 28, se pleidooi om hulp vir produsente in sy kontrei wat swaar onder droogte gebuk gaan – en dit nadat hulle in die vorige seisoen geteister is deur erge vloede – het diep getref. Hy het Kongres meegedeel dat baie produsente glad nie kon plant nie. “Hierdie is die verskriklikste jaar – ek is in my 60’s, hoe gaan ons oor begin? My vertroue is in God,” het hy bygevoeg.
Die Koster-skild word aan die skrywer van die beste reeks artikels in SA Graan/Grain oorhandig. Vanjaar gaan die skild aan die SA Graan/Grain-redakteur, Valerie Cilliers, vir haar redakteursbrief “Voorpunt/Cutting Edge” wat maandeliks in die tydskrif verskyn. Nuutverkose Graan SA-raadslid vir Streek 7, Pietman Botha, dr Tobias Doyer, Derek Mathews en Jeremia Mathebula was daar om haar geluk te wens.
Die redaksiekomitee stem jaarliks vir die beste artikel in SA Graan/Grain en vanjaar het Helga Ottermann (BFAP), Marion Delport (BFAP), dr Divan van der Westhuizen (BFAP) en dr Dirk Strydom (Graan SA) met die louere weggestap. “Better return on investment with data-intensive precision farming”, wat oor data-intensiewe plaasbestuur (DIFM) gaan, het in die Februarie 2023-uitgawe van SA Graan/Grain verskyn. Dr Strydom het die toekenning namens die span skrywers in ontvangs geneem.