Argentynse en plaaslike praktyke in proewe vergelyk
Deel 4: Evaluering van sekere grondeienskappe

July 2018

DR DANIE BEUKES, onafhanklike grondkundige en HERTZ EISELEN, AgriConsult Trust

Deel 1 en Deel 2 is in die Junie-uitgawe van SA Graan/Grain en op van dié uitgawe is Deel 3 van hierdie reeks gepubliseer. Die agtergrond, proefpraktyke, opbrengste en basiese grondeienskappe ten opsigte van die vergelyking van die Argentynse geenbewerkingspraktyke met plaaspraktyke in verskillende produksiegebiede is daarin uiteengesit.

Die proewe is op die volgende lokaliteite uitgevoer:

  • Settlers, in die Springbokvlakte, met ‘n warm semi-ariede klimaat, op ‘n swaar klei (turf)-grond, op die plaas Good Hope van mnr Willem Groothof;
  • Nigel, met ‘n koel, humiede klimaat, op ‘n diep sandleem- tot sandkleileemgrond; op die plaas Manjoh Ranch van mnr Tony da Costa;
  • Odendaalsrus, met ‘n warm, semi-ariede klimaat, op ‘n sand- tot sand­kleileemgrond, op die plaas Leeuwkuil van mnr David Maree; en
  • Lichtenburg, met ‘n warm klimaat, op ‘n deeglik-gedreineerde, diep sand­kleileemgrond, op die plaas van mnr Arno van Vuuren (hierdie proef is ongelukkig na twee seisoene gestaak en sal nie bespreek word nie).

In hierdie artikel (Deel 4) word gefokus op die evaluering van sekere grondeienskappe wat, soos gemeet in die 2013/2014-seisoen, enersyds ‘n rol speel in die implementering van die Argentynse en plaaspraktyke, maar ook andersyds beïnvloed is deur die implementering van hierdie praktyke.

Brutodigtheid en wortelontwikkeling
Die brutodigtheid van die proefgronde is met ‘n valhamerboor (Foto 1) in duplikaat op reëlmatige diepte-intervalle bepaal. Op Good Hope is brutodigtheid op ‘n graan­sorghumland onder die plaaspraktyk en op Manjoh Ranch en Leeuwkuil op ‘n mielie- en sonneblomland, onderskeidelik, beide onder die Argentynse stelsel bepaal.

Op die Arcadia-grond van Good Hope is baie lae brutodigthede (Grafiek 1), wat goeie wortelontwikkeling tot gevolg gehad het (regs op Foto 1), gemeet. Onder die Argentynse stelsel op die Hutton-grond van Manjoh Ranch is ‘n betreklik-hoë brutodigtheid van 1,69 g/cm3 op 150 mm-diepte gemeet met waardes wat gaandeweg kleiner word hoe dieper ‘n mens gaan.

Op Leeuwkuil op die Avalon-grond is ook hoë brutodigthede op vlak gronddieptes onder die Argentynse stelsel gemeet: Terwyl ‘n brutodigtheid van 1,45 g/cm3 op 36 mm-diepte gemeet is, het digthede dramaties verhoog na 1,68 g/cm3 op 116 mm-diepte tot 1,74 g/cm3 op 326 mm-diepte.

Die negatiewe effek van hierdie grond­kompaksie op wortelontwikkeling kan in Foto 2a en Foto 2b gesien word, waar sonneblomwortels heeltemal horisontaal gegroei het. In teenstelling hiermee kan ook in die foto gesien word hoe die penwortel van sonneblom onder die plaaspraktyk (Plaas40K) vertikaal ontwikkel het.

Grondwaterinhoud
Grondwaterinhoude is in 300 mm-in­kremente tot op 1 200 mm-diepte op die proeflokaliteite bepaal. In die grafieke verteenwoordig ‘n datapunt die gemiddelde waterinhoud van ‘n 300 mm-inkrement.

Grafiek 2 toon profielwaterinhoude vir twee datums vir die Arcadia-grond van Good Hope onder graansorghum onder Arg91K (rooi lyne) en Plaas67K (blou lyne). Onder die hoër plantestand is die grondprofiel veel droër. Bygesê, die hoër plantestand het ‘n hoër graanopbrengs van 1 300 kg/ha gerealiseer teenoor Plaas67K se 1 091 kg/ha.

Beide profiele vertoon relatief droog (neig na permanente verwelkpunt en selfs droër). Die afleiding kan gemaak word dat onvoldoende grondwater beskikbaar was vir goeie gewasgroei en opbrengs. Om hierdie rede is dit te verstane dat die graanopbrengste wat behaal is, veel laer was as die langtermyn-plaasopbrengs van 3 000 kg/ha.

Grafiek 3 toon dat soortgelyke profielwaterinhoude op 15 Januarie 2014 op Manjoh Ranch onder mielies (blou lyne in grafiek) onder Plaas42K en Arg42K gemeet is.

Die grondprofiel onder Arg80K (80 000 stand) was egter aansienlik droër, omdat veel meer mieliegraan (11 651 kg/ha) geproduseer is (met gepaardgaande hoër wateronttrekking) in vergelyking met, byvoorbeeld, Plaas42K se 9 440 kg/ha.

Grafiek 3 toon ook dat Plaas250K vir sojabone, ‘n veel droër profiel as Arg250K (rooi lyne in grafiek) veroorsaak het. Die rede hiervoor is dat die kortseisoenkultivar 3 471 kg graan/ha in vergelyking met die langseisoenkultivar se 1 871 kg/ha geproduseer het en dus veel meer water onttrek het.

Hoewel die data nie ingesluit is nie, kan genoem word dat grondwaterinhoude onder beide mielies en sojabone vir die volle duur van die groeiseisoen binne plantbeskikbare water se grense (veldkapasiteit en permanente verwelkpunt) gevarieer het. Hierdie gunstige grondwaterstatus het bygedra tot die hoë graanopbrengste wat beide die mielies (byvoorbeeld 11 651 kg/ha vir Arg80K) en sojabone (byvoorbeeld 3 907 kg/ha vir Arg250K kortgroeier) gelewer het.

Grafiek 4a en Grafiek 4b toon profiel­waterinhoude vir twee datums vir die Avalon-grond van Leeuwkuil onder Plaas28K en Arg45K onder mielies en sonneblom. ‘n Wisselboustelsel van mielies → sojabone en mielies → sonneblom is gevolg.

Grafiek 4a (mielies) toon dat die grondprofiel teen 2 Julie onder die hoër plantestand (Arg45K) in die 0 mm – 600 mm-laag reeds tot die permanente verwelkpunt uitgedroog was. Die Plaas28K het met ‘n hoër waterinhoud in die bogrond geëindig, maar het ‘n hoër graanopbrengs gelewer (6 131 kg/ha versus 5 726 kg/ha).

In Grafiek 4b (sonneblom) kan mens sien dat die profiel teen 2 Julie in die 0 mm – 600 mm-laag tot verwelkpunt uitgedroog was. Die 600 mm – 1 200 mm-laag van Arg40K het merkbaar hoër waterinhoude vertoon – heel moontlik as gevolg van die afwesigheid van wortels (sien Foto 2a en Foto 2b).

Grafiek 5 toon profielwaterinhoude vir twee datums vir die Avalon-grond van Leeuwkuil onder Plaas350K (blou lyne) en Arg350K (rooi lyne) onder sojabone. Teen 29 April was profielwaterinhoude veel hoër onder Arg350K as onder Plaas350K.

Kan dit wees dat grondkompaksie (sien Grafiek 1) wortelgroei – en gevolglik wateropname – van die sojabone onder die Argentynse stelsel onderdruk het? Ten spyte van aanvanklike aanvaarbare grondwaterinhoude was die sojaboonaanplantings ‘n mislukking as gevolg van latere droogtetoestande.

Samevatting
Uit die resultate van die 2013/2014-seisoen in drie agro-ekologiese gebiede is dit betreklik duidelik dat grondeienskappe ‘n belangrike rol by die keuse van die mees gepaste bewerkingstelsel as ‘n funksie van grondtipe en klimaat speel.

Om op te som:

  • In die kleigrond (Arcadia) van Good Hope is lae brutodigthede gemeet – wat ‘n mens van ‘n selfbewerkende kleigrond kan verwag. Goeie wortelontwikkeling is waargeneem. Hierdie kleigrond leen hom dus tot verminderde meganiese of geenbewerking en enigeen van die plaaspraktyk of die Argentynse stelsel sal daarom toegepas kan word. Die Argentynse stelsel het hoë brutodigtheid (kompaksie) in die oppervlaklaag van die medium en lig getekstureerde gronde veroorsaak. Dit was veral opvallend hoe sonneblomwortels horisontaal in die gekompakteerde bolaag van die sandgrond op Leeuwkuil gegroei het.
  • Die twee produksiepraktyke het verskille in seisoenale grondwaterinhoude veroorsaak, wat as ’n aanduiding kon dien dat ‘n mens verskille in groei en graanopbrengs te wagte kon wees:
    • Op Good Hope het ‘n hoër graansorghumstand (Arg91K) ‘n droër profiel as die plaaspraktyk se 67 000-stand veroorsaak. Die metings het ook ‘n uiters droë ondergrond getoon, omdat die lae seisoenale reënval nie ondergrondse waterreserwes aangevul het nie. Die graanopbrengste wat behaal is, is dan ook veel laer as die langtermyn-plaasopbrengs.
    • Manjoh Ranch se grondprofiel onder Arg80K (80 000-stand) was aansienlik droër, omdat veel meer mieliegraan geproduseer is (met gepaardgaande hoër water­onttrekking) in vergelyking met die plaaspraktyk se stand van 42 000 plante/ha. Die grondwaterstudie het ook getoon dat waterinhoude vir die volle duur van die groeiseisoen, onder beide mielies en sojabone binne plantbeskikbare water se grense gevarieer het. Hierdie gunstige grondwaterstatus het bygedra tot die hoë graanopbrengste wat beide die mielies en sojabone gelewer het.
    • Op Leeuwkuil was die bogrond van die Argentynse stelsel onder beide mielies en sonneblom aansienlik droër as onder die plaaspraktyk, terwyl die ondergrond onder eersgenoemde stelsel merkbaar hoër waterinhoude getoon het – heel moontlik as gevolg van die afwesigheid van wortels. Ten spyte van die laer plantestand vir mielies onder die plaaspraktyk, in vergelyking met die Argentynse stelsel, het eersgenoemde ‘n hoër graanopbrengs gelewer. Kan die verklaring hiervoor wees dat die water in die ondergrond onder die Argentynse stelsel nie benut kon word nie?

‘n Finale opmerking: Hierdie studie het getoon dat die twee produksiestelsels verskillende impakte op grondeienskappe gehad het – met gevolglike verskille in gewasgroei en -opbrengs. In die finale evaluering behoort hierdie inligting gebruik te word om te besluit watter stelsel die beste keuse vir ‘n spesifieke grondtipe en agro-ekologiese gebied sal wees.

Publication: July 2018

Section: On farm level