Bestuur onkruidsade só tydens die oesproses – Deel 1

49
Richard Krige,
Wes-Kaapse produsent en dagbestuurslid van Graan SA

Die aanvaarding van bewaringsboerdery en minimumbewerkingspraktykte in veranderende klimaatstoestande is wêreldwyd besig om veld onder produsente te wen. Suid-Afrika is nie uniek in die benadering tot die aanvaarding van hierdie praktyke nie.

Resultate toon dat daar beslis voordele vir produsente in hierdie praktyke lê, maar daar is tog ook nadele waaroor nie gereeld gepraat word nie.

Bestuur van onkruide
Een van die struikelblokke en nadele is die bestuur van onkruide binne die sisteem. Alhoewel gesonde wisselboupraktyke aangemoedig word met die wisseling van gewasse en chemiese produkte uit verskillende groepe, is onkruidweerstand waar middels minder effektief is teenoor sekere onkruidspesies aan die toeneem. Dit is ’n realiteit en iets waarmee elke produsent gekonfronteer word: Chemiese middels speel ’n belangrike rol in bewaringsboerdery.

Selfs gewasse waar die sogenaamde Roundup Ready- (RR-)tegnologie beskikbaar is, word nie totaal hiervan gevrywaar nie – weerstand van onkruide teen glifosaat is aan die toeneem regoor die wêreld. Onkruiddoderweerstand is ’n realiteit – in beide die somer- en winterreënvalgebiede kan heelwat voorbeelde van onkruidspesies genoem word wat al weerstand teen chemiese groepe opgebou het (Tabel 1). Hierdie weerstand is nie as gevolg van bewaringsboerdery nie, maar dit bied die geleentheid om ander beheerstrategieë in plek te stel.

Maak meer staat op chemiese middels
Waar bewaringsboerdery meer staat maak op chemiese middels is die bedoeling dat dit akkuraat en effektief moet wees. Die beheer van onkruide waar RR-tegnologie beskikbaar is, is eenvoudiger, maar die tegnologie is ook duur. En, soos reeds genoem, is weerstand aan die toeneem. As onkruide binne gewasse bestuur en beheer word, kan dit ook duur wees en die uitwerking van onkruiddoders en die negatiewe effek op die oes is nie altyd bekend nie.

Dit word verder aanvaar dat onkruiddoders ’n sekere presentasie werking het wanneer dit gebruik word. Daar word byvoorbeeld gesê dat ’n middel 90% effektief is teenoor ’n sekere onkruidspesie. Die populasie onkruide aanwesig of die getal onkruidsade gaan hier ’n deurslaggewende rol speel.

Aanvaar byvoorbeeld daar is 50 onkruide of sade per vierkante meter (m2). Indien die middel 90% effektief is, sal daar vyf onkruide of sade oorbly. Hierdie effektiwiteit word deur baie faktore beïnvloed en is nie noodwendig ’n aanduiding van weerstand nie.

Humiditeit, wind, waterkwaliteit, bedekking, druppelgrootte en baie ander faktore kan ’n rol speel wat die effektiewe persentasie beïnvloed. Die vraag is: Wat as daar 200 onkruide/sade aanwesig is? Dit laat die produsent met 20 onkruide/sade. Gaan dit aanvaarbaar wees?

Wat van die onkruidsaadbank?
Wat is die ander maatreëls wat toegepas en aangewend kan word om die onkruidsaadbank te verminder? Dalk tot die punt dat die gebruik van onkruiddoders amper uitgeskakel word? Die gebruik van dekgewasse speel hier ’n rol, maar watter ander metodes kan gebruik word?

Dit sal tipies in die oesproses van die vorige jaar ’n aanvang moet neem. Die bestuur van oesreste is ’n belangrike deel van bewaringsboerdery, maar wat van die onkruidsaadbank?

Baie werk is reeds deur verskeie instansies soos die Grains Research and Development Corporation (GRDC) en die Kondinin Group in Australië gedoen en navorsing oor die vernietiging en bestuur van onkruidsade in die oesproses is deurlopend. Navorsing toon dat tussen 50% en 90% van onkruidsade tydens die oesproses deur die stroper beweeg.

Oesonkruidsaadbeheer (harvest weed seed control) bestaan uit verskeie praktyke en opsies. Daar word beweer dat 80% van produsente in Australië teen 2021 dié praktyk sal toepas op ten minste 50% van die gesaaide oppervlakte. Dit terwyl net 43% van produsente die praktyk in 2014 gebruik het.

Die oogmerk van die oefening is die vermindering van die saadbank in die grond. Gewoonlik (deur normale praktyke) word tot 98% van sade deur verskeie prosesse wat produsente uitvoer, vernietig. Indien die onkruidsaad wat gestort word tydens die oesproses met 50% verminder kan word, sal dit beslis help om die hoeveelheid saad wat in die sisteem beland, te verminder. Wat behels die praktyk?

Oesonkruidsaadbeheer
Weedsmart het die “Groot 6”-plan ontwikkel om te help met die bestuur van onkruide (Sien die kassie). Volg hulle op Twitter en kry meer inligting op die internet by https://weedsmart.org.au/. Slegs toerusting vir saadvernietiging in dié plan word in hierdie artikel bespreek. Daar is tans sewe opsies vir oesonkruidsaadbeheer.

Kaf tussen spore
Aanpassings word aan die stroper gemaak en onkruidsade word in ’n ry tussen die wielspore van die stroper geplaas (Foto 1). Die kaf-fraksies vanaf die stropersiwwe moet apart van die strooi gehou word – ongeag of die stroper walkers of rotors het. Die afstrooiers word nie gebruik nie. Dit verseker dat onkruide gekonsentreer word en kompostering en verrotting van sade kan plaasvind. Die gebruik van skottelplanters keer die vermenging en bedekking van onkruidsade met of in die grond. Vestiging van gewasse in die kafry kan problematies in die sisteem wees.

Kafdeksisteem
Die kaf-fraksies moet ook apart gehou word. Dit is waar die kaf en onkruidsade tydens die oesproses in die spore van die stroper in die spoorverkeerstelsel (controlled traffic farming system) geplaas word.

Dit word gedoen deur ’n aanhegtingstuk aan die stroper se agterkant te koppel wat meestal hidroulies aangedryf word (Foto 2). Dieselfde spore word heeltyd in die spoorverkeerstelsel gebruik. Alle implemente word aangepas na ’n seker werkswydte (tipies 9 m en meervoude daarvan) om sodoende die verrotting en kompostering van onkruidsade op die spoorry te bevorder.

Beheer in die seisoen kan ook toegepas word met addisionele onkruiddodertoedienings waar nieselektiewe onkruiddoders gebruik kan word om plante/onkruide in die wielspoor dood te spuit. Normale beheermaatreëls en onkruiddoderspuitprogramme kan dan gevolg word deur die groeiseisoen.

Meganiese skade van onkruide vind deur die wiele plaas. ’n Aanpassing word nou ook gemaak om die onkruide net in een wielspoorry te plaas. Die strooi word nog normaalweg gekerf en agter die stroper versprei. Hierdie sisteem kan ook in normale sisteme gebruik word waar ’n spoorverkeerstelsel nie toegepas word nie, maar waar spore wel hergebruik word.

Brand van nou windrye
Die kaf-fraksies en onkruidsade word in nou rye tussen die wielspore geplaas en word dan op koeler tye (soos in die aand as dit windstil is) gebrand. Dit is wel ’n “koue” vuur, maar die oogmerk is om net die windrye tussen die spore te brand (Foto 3) en die res van die materiaal (strooi) te behou. Dit sal verseker dat onkruidsade vernietig word.

Hierdie praktyk kan wel risiko’s vir die verspreiding van veldbrande inhou. Bestaande toerusting wat produsente gebruik vir die maak van brandpaaie in die winter in die somerreënvalgebiede kan sekerlik aangepas en vir dié doel gebruik word.

Kafkar agter stroper
Met hierdie metode word ’n kafkar agter die stroper gesleep (Foto 4) en alle kaf-fraksies tesame met onkruidsade wat van die stroper se siwwe af kom, word in ’n tipe sleepwa ingeblaas of vervoer met gebruik van vervoerbande of augers. Dit word dan op hope in die land (Foto 5a en Foto 5b) of op ’n bergingsarea gestort vir latere verbranding of kompostering.

Die samestelling van die kaf-fraksies kan soms problematies wees vir die doeltreffende brand van die materiaal. Die verhouding tussen kaf en strooi is belangrik, aangesien kaf op sy eie net neig om te smeul. Produsente kan ook die kaf gebruik vir dierevoeding en die waarde daarvan onsluit in diereproduksie in plaas van brand of komposteer.

Volgens navorsing sal skape 97% van raaigrasonkruidsade met inname as deel van rantsoene vernietig, terwyl beeste net 66% onskadelik sal maak as dit in rantsoene ingesluit word. Die verwydering van onkruidsade vanaf bewerkte lande hou ’n reusevoordeel in met die sisteem, maar dit kan ’n tydrowende proses wees.

In Deel 2 sal gekyk word na kafmeule, seed terminator en direkte baal.

Bronne

  1. Australian Herbicide Resistance Initiative(AHRI) https://ahri.uwa.edu.au/spoiled-rotten-the-sequel/
  2. Weedsmart https://weedsmart.org.au/resources/research-report/
  3. McIntosh & Son https://www.mcintoshandson.com.au/ihsd
  4. Redekop Crop Residue Management https://www.harvestweedseedcontrol.com/