May 2018

DR DIRK STRYDOM, bestuurder: Graanekonomie en Bemarking, Graan SA

Tans is die wêreld opgeskeep met aansienlike hoë voorrade mielies – en die verwagting is dat die wêreldmielie-eindvoorraad, volgens die USDA­syfers, aan die einde van die 2017/2018-seisoen op 200 miljoen ton gaan staan (Grafiek 1).

Die vraag in die internasionale mark van hoe ons die eindvoorraad weggewerk gaan kry, bly staan. Gaan dit vir etanolproduksie aangewend word of gaan die oplossing vanuit ‘n ander bron moet kom?

Die Amerikaanse etanolmark is, om verskeie redes, ‘n uiters uitdagende mark:

  • Dit is baie nóú gekoppel aan die Brent-ruoliemark en vorm ‘n betreklike sterk deel van ‘n politiese omgewing.
  • Die vraag na etanol word bepaal deur die inmengmandaat (persentasie petrol) wat deur die regering ingestel word.
  • Infrastruktuur speel ‘n belangrike rol en sodra die inmengmandaat verhoog, beteken dit die voertuie en pompe moet ook verander word.
  • Winsgewendheid van etanolproduksie is uiters sensitief en afhanklik van subsidies en die ruolieprys. Die groot internasionale ekonome praat van ‘n gelykbreekvlak van per ruolie-vat.

Die makro-ekonomiese faktore speel boonop ‘n beduidende rol. Toe Amerika in die vroeë 2000’s met etanolproduksie begin het, was hul ekonomie sterk en kon dit hoër kommoditeitspryse hanteer. Tans is hul ekonomie nie so sterk nie. Op die internasionale mark bly dit ‘n vraagstuk of etanoluitbreiding wel ekonomies sin maak. Dit lyk wel asof China moontlik met etanolproduksie wil begin, wat beteken dat dit 40 miljoen ton mielies uit die stelsel haal, maar geen beleide of sekerheid bestaan nog hieroor nie.

Plaaslike vraag
Met die rekordoes en laer as verwagte uitvoere in die 2016/2017-seisoen, was daar groot hoeveelhede oordragvoorraad en dit wil voorkom asof die huidige seisoen ook genoeg gaan oplewer. Daar gaan dus nog oordragvoorraad wees. Die hoë voorrade veroorsaak dat pryse laag is en dat winsgewendheid drasties verlaag word.

Die vraag wat in die mark gevra word, is wat ons met ons plaaslike mielies gaan doen. Buiten vir die huidige hoë voorraad, bly die verwagting dat Suid-Afrika in die toekoms ook meer konstant surplusse gaan produseer, wat dan dié bekommernis ondersteun en druk op die uitbreiding van markte/vraag plaas.

As die vraag na mielies ontleed word, kan dit in afdelings opgebreek word. Die afdelings is industrieel, menslik, dierlik en uitvoere. Indien die industriële mark bestudeer word, is daar tans geen merkwaardige gestruktureerde wetgewing om die produksie van biobrandstowwe aan te hits nie.

In teendeel: Die gebrekkige wetgewing wat wel bestaan, sluit mielies as ‘n grondstof uit. Dit is bloot as gevolg van die bekommernis oor ‘n stapelvoedsel wat vir brandstofproduksie gebruik word.

Hou in gedagte: In die 2016/2017-seisoen het Suid-Afrika witmielies ingevoer. Dit is nog vars in almal se geheue. Daar is ook kleiner nismarkte soos mieliekiemolie, styselproduksie en plastiekvervaardiging vanaf mielies.

Die markte is wel kleiner nismarkte en hou ‘n groot uitdaging in om uit die staanspoor op te spoor.

Gegewe die nuwe suikerwet wat ingestel is, is die groot vraag: Tel glukosestroop vanaf mielies as ‘n suiker? Amerika het reeds al in die 1970’s glukosestroop begin gebruik; dalk is hierdie ‘n nuwe geleentheid vir die mieliemark?

Die menslike vraag verteenwoordig bloot die vervaardiging en verbruik van mieliemeel. Dit is ‘n gegewe dat, soos die besteebare inkomste in die land styg, ons vanaf laer LSM-groepe na hoër LSM-groepe begin beweeg, wat beteken dat diëte verander vanaf ‘n styselbasis na meer van ‘n proteïenbasis.

As die vraagsyfers bestudeer word, is dit duidelik dat die vraag na voer ‘n aansienlike meer stygende tendens het as wat die geval is met die vraag na menslike verbruik van mielies. Die menslike verbruik volg die populasiegroei en is hoofsaaklik afhanklik van ekonomiese omstandighede (Grafiek 2).

Wanneer die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se vraag-en-aanbodsyfers ontleed word, verwag hul in die 2018/2019-seisoen dat 5 miljoen ton mielies vir menslike voeding gebruik gaan word, teenoor die 5,3 miljoen ton vir dierlike voeding – dit is ten spyte van die uitdagings wat in die hoenderbedryf ervaar word en die impak van die droogte.

Die afgelope seisoen het ons ook beleef dat veepryse daadwerklik gestyg het. Teen einde Maart was bees A2/A3-pryse by R46,90/kg en speenkalf R34/kg – en die kuddesyfers is aansienlik verlaag weens die droogte. Die beter veepryse en die feit dat Suid-Afrika beesvleis uitvoer, ondersteun die vraag na mielies.

Stimulering van vraag onder menslike verbruik is bitter moeilik en is ‘n betreklike langertermynscenario, omdat die verbruiker oortuig moet word om nog meer van ‘n stapelvoedsel te benut, waar vraag en aanbod des te makliker die stimulering van verbruik in voer stimuleer.

Die vraag op almal se lippe bly wie die grootste voerverbruikers binne die mieliemark is.

As Grafiek 3 bestudeer word, is die grootste verbruikers die hoenderbedryf (48%), gevolg deur beeste met 30%. Dit is vir die mieliebedryf se vraagstimulasie krities dat dit met die hoenderbedryf goed gaan. Dit sal die verhoging in produksie en die vermindering van invoere insluit.

Beesproduksie word natuurlik opgedeel in vleis en suiwel. In die vleisbedryf is dit belangrik dat ‘n omgewing op makro- en mikrovlak geskep word om uitvoere te laat plaasvind. In terme van suiwel is dit weer eens uiters belangrik om die plaaslike mark teen invoere te beskerm.

Internasionale vraag
Die uitvoer van mielies is nie ‘n nuwe scenario nie en ons is oor die lang termyn hoofsaaklik ‘n netto uitvoerder. Die uitdaging is wel dat Suid-Afrika aansienlike hoeveelhede moet uitvoer: Die verwagting is tans naby aan 4 miljoen ton – die hoogste uitvoere nog sedert die deregulering van die markte was 2,5 miljoen ton.

Om te kan uitvoer moet ‘n paar items in plek wees. Breedweg behels dit die volgende:

  • Registrasie van GMO-gebeurtenisse moet in sinkronisasie met invoerlande wees – dit sluit in registrasie vir aanplanting en handel.
  • Internasionale handelsooreenkomste moet nagekom word.
  • Sanitêre en fitosanitêre maatreëls/protokolle moet in plek wees en nagekom word.
  • Invoerlande moet toestemming verleen vir die invoer van kommoditeite.
  • Die vryemark moet handel fasiliteer, met ander woorde die plaaslike pryse en vervoer moet mededingend wees.

As die markte waarheen Suid-Afrika tans hoofsaaklik uitvoer ontleed word, is dit duidelik dat oorgenoeg markspasie beskikbaar is – ongeveer 30 miljoen ton – maar die pryse en prosesse moet dit kan fasiliteer (Grafiek 4).

Op die globale mark is witmielies uiters beperk en in lande soos Mexiko betreklik afhanklik van vraag-en-aanbodscenario’s. Verder is die mark ook uiters sensitief in terme van markte wat nie-GMO-mielies aankoop en lande wat GMO-mielies aankoop.

Suid-Afrika se witmielies bly hoofsaaklik na die buurlande toe beweeg – met beperkte hoeveelhede. In terme van geelmielies is ‘n groter mark beskikbaar, omdat die wêreld ‘n geelmielieverbruiker is. Suid-Afrika se geelmielies vloei hoofsaaklik na die Ooste toe, wat lande soos Japan, Korea en Taiwan insluit.

Een van die faktore wat die mededingendheid van pryse besonder sterk beïnvloed, is vervoerkostes. Volgens mnr Ronald Jetten van COFCO Internasionaal lê Suid-Afrika se voordeel grootliks in die Ooste, maar meer spesifiek in lande soos Viëtnam, Maleisië, China en Iran (Grafiek 5).

Dit is belangrik om op die bestemmings te fokus en seker te maak dat markte oop is en dat uitvoere daarheen kan vloei. Die beperking wat met internasionale uitvoere ervaar word, is dat die prys laag moet wees om die uitvoere te fasiliteer – wat beteken dat pryse by uitvoerpariteitsvlakke moet wees.

Neem in ag dat elke streek binne Suid-Afrika se uitvoerpariteit verskil, afhangende van hoe ver die produsent van die hawe af is. Tans (met die skryf van artikel) was die Randfontein-uitvoerpariteit R1 650/ton.

Opsomming
Tabel 1 gee ‘n goeie aanduiding van wat die uitdagings is en waarop gefokus moet word. As die tabel bestudeer word, is dit duidelik dat uitvoermarkte en dierlike verbruik ‘n belangrike fokuspunt moet wees.

Die industriële uitbreiding van markte is meer kompleks weens huidige beleide en die politiese siening met betrekking tot die bekommernis oor die impak op sosiale vlak.

Publication: May 2018

Section: On farm level