Gronddebat: Nou is daar feite op die tafel

918

March 2018

DIREKTORAAT: KORPORATIEWE SKAKELING, AGRI SA

Voorheen benadeeldes besit nou 26,7% van die totale aantal hektare landbougrond in Suid-Afrika. Dit is beduidend meer as die 14,9% van landbougrond wat in 1994 in voorheen benadeeldes se besit was.

Voorts besit wit produsente nou 73,3% van landbougrond, teenoor 85,1% daarvan in 1994.

Dít is van die bevindings van ‘n omvattende grondoudit wat deur Agri Development Solutions (ADS) in samewerking met Agri SA en Landbouweekblad gedoen is. Dié oudit, wat gefokus het op transaksies ten opsigte van landbougrond tussen 1994 en 2016, is in November verlede jaar bekend gestel.

Die oudit wys dat vraag en aanbod – gewillige verkoper en gewillige koper – wel werk om grondhervorming te laat plaasvind. Die verslag bevat ook inligting oor die persentasie landbougrond per provinsie wat al aan voorheen benadeeldes oorgedra is.

ADS se navorsing het ook die waarde van die grond in ag geneem en het bevind dat 29% van die waarde van landbougrond nou in die besit van voorheen benadeeldes is. In sommige provinsies is tot 50% van die waarde van landbougrond nou in voorheen benadeeldes se besit.

Voorts toon ADS se studie ‘n kommerwekkende afname in die hoeveelheid beskikbare landbougrond in Suid-Afrika. In 1994 was daar 79 miljoen hektaar landbougrond, maar dit het afgeneem tot 76 miljoen hektaar.

Mnr Dan Kriek (president, Agri SA) het gesê dat grondbeleid in Suid-Afrika te lank gegrond was op persepsie en emosie eerder as feite. “Gesonde, volhoubare beleidsformulering moet op ‘n feitebasis geskied. Hierdie grondoudit verskaf nou feite. Verdere navorsing oor watter soort grondhervormingsprojekte volhoubaar is en watter in die hek gaan duik, sal onderneem word,” het Kriek gesê.

 

Publication: March 2018

Section: Relevant