Bedrywe lig brandpunte uit

SA Graan/Grain-redaksie
Gepubliseer: 30 Maart 2021

76

Neem kennis dat hierdie inligting ’n samevatting van die wegbreeksessie-besprekings is. Dit kan dus geensins geag word as ’n genotuleerde weergawe van verrigtinge nie.

Hoewel die logistiek vanjaar effens anders daar uitgesien het, kon verskeie belangrike bedryfsaangeleenthede steeds tydens die wegbreeksessies by Kongres 2021 bespreek word. Hier volg die hoogtepunte.

Mielies
Leaf Services: Leaf Services is deur die regering aangestel om inspeksiedienste te verrig. Die geskatte totale koste is R200 miljoen, waarvan R110 miljoen ’n ekstra koste vir die bedryf gaan wees (R4 per ton word bygedra, wat uiteindelik deur die produsent gedra gaan word). Die bedryf berei voor om ’n regsaak aanhangig te maak rakende die funksionering daarvan en ook dat dit onnodig is, aangesien die funksie reeds binne die bedryf bestaan. Graan SA het ’n mandaat van die Mieliewegbreeksessie ontvang om ’n bydrae te lewer ten opsigte van regskoste.

Verandering in graderingsregulasies: Groter konsekwentheid betreffende defektiewe pitte word in die graderingsisteem verlang. Dr Dirk Strydom noem dat daar tydens gesprekke met rolspe­lers voorgestel is dat dieselfde sifpersentasies binne gradering vir geel- en witmielies gebruik word, maar die meulenaars is nie geneë daarmee nie. Graan SA sal voortgaan om die nodige kundigheid te kry vir motiverings daarvoor, want dit kan vir produsente ’n groot voordeel inhou. Die wegbreeksessie is dit eens dat langtermynveranderinge nie in die bedryf gemaak moet word weens korttermyneffekte (die afgelope drie nat seisoene) nie. Die volgende besluite is geneem:

  • Gradering moet so min as moontlik menslike subjektiwiteit bevat en die objektiwiteit daarvan moet verhoog word as ’n beginsel.
  • Daar word nie ’n kultivarlys vir witmielies opgestel nie.
  • Daar moet gewag word op die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) se verslag oor die verskil tussen ekstraksies van WM1, WM2 en WM3 en dit moet in die SA Graan/Grain-tydskrif gepubliseer word.

Paspoortsisteem: Daar is besluit dat dié paspoortsisteem op ys ge­plaas word totdat produsente en die bedryf nader aan mekaar kan beweeg. Produsente kan slegs afteken waaroor hulle beheer het. Verdere gesprekvoering sal plaasvind.

Liggingsdifferensiaal: Die voorsitter verduidelik dat Johann Strauss van die Universiteit van die Vrystaat (UFS) ’n wiskundige formule ontwerp het wat die vloei van graan tussen ’n bergingspunt en ’n verbruiks­punt meet volgens die geskiedenis en die normale vloei tussen daardie twee punte en dan ’n waarde uitwerk. Die beginsel is die vloei van graan, gegewe waar dit verbruik word en waar mededinging lê. Dit veroorsaak dat ’n waarde aan ’n silo gekoppel kan word.

Graan SA het die stelsel by al die rolspelers in die mark getoets – sonder enige teenkanting. Die Sonneblom- en Sojaboonforum het die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) gevra om die model te toets vir implementering in die sojaboonbedryf. Die JSE het die onderneming gegee dat indien die stelsel werkbaar is, hulle dit op al die gewasse sal toepas.

Navorsing: Navorsing het ’n groot fokus binne Graan SA geword. Die belangrikste navorsing sluit in: die graannavorsingsplatform by die Universiteit van Pretoria (UP); ’n diagnosekliniek vir plae en siektes; die mielieplantdatumprojek; die gewasrotasieprojek by die UFS; ’n aalwurmprojek by die Noordwes-Universiteit (NWU) asook die kultivarevaluasieprojek. Resultate sal in die SA Graan/Grain-tydskrif gepubliseer word.

Ongerymdhede in die graanmark: Die volgende besluite is geneem:

  • Dr Dirk Strydom sal artikels oor die onreëlmatighede in die graanmark skryf en publiseer. ‘n Artikel sal ook geskryf word rakende die besluit rondom ‘n onafhanklike oudit en om te verduidelik waarom Graan SA voel dit word reeds deur SAGIS gedoen.
  • Graan SA ondersteun die beginsel van die uitbreiding van die kontantmark ten volle en sal dus die situasie rondom ’n nuwe verhandelingsplatform moniteer en ondersteun waar moontlik.

Deursigtigheid van die kontantmark: Daar is besluit dat die 1%-standaardaftrekking sowel as die persentasie vog wat afgetrek word wanneer nat mielies gestroop word, weer ondersoek sal word.

Grondbone
Markdeursigtigheid: Die besluit van die werkgroep is dat Graan SA in- en uitvoerpariteitspryse van verskillende grade grondbone op ’n gereelde basis aan die mark bekendmaak om produsente sodoende te bemagtig met beter inligting vir bemarkingsbesluite. Aspekte soos vraag-en-aanbod-inligting van grondbone sal hierdie pariteitspryse vergesel.

Teling-en-tegnologieheffing: Produsente het tydens Kongres gevra dat verskeie alternatiewe ondersoek word oor hoe om fondse aan te wend ten einde kultivarontwikkeling en -teling te bevorder.

Alternatief vir saadvermeerdering: Daar is voorgestel dat die bedryf moet kyk om ’n maatskappy sonder winsoogmerk daar te stel om moedersaad skoon te hou en die vermeerdering en bestuur van grondboonsaad te hanteer.

Sonneblomme
Sonneblomwaardeketting: Die sonneblomwaardekettingstudie wat deur die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust (OPOT) befonds is, is gefinaliseer. Die bedryf is voortdurend in gesprek om die uitkomste van die studie te bespreek. Daar was ’n baie sterk fokus op die olie-inhoud van sonneblom en dat verdere ondersoek ingestel moet word oor ’n moontlik premie betaalbaar vir sonneblom met ’n hoë olie-inhoud tydens lewering. Dit is uiters belangrik dat hierdie aksie sonneblomprodusente nie negatief beïnvloed of laat afsien daarvan om sonneblomsaad te plant nie. Louis Schoonraad van Corteva het die werkgroep hieroor toegespreek.

Sclerotinia: Dr Miekie Human het ’n voorlegging aan die werkgroep gedoen om Graan SA se werksaamhede die afgelope jaar ten opsigte van Sclerotinia te verduidelik. Produsente het hulle kommer oor dié siekte uitgespreek en spesifiek dat dit deur saad versprei kan word.

Sorghum
Kweleabeheer: Graan SA, in samewerking met CropWatch, vor­der goed met die kweleaprojek wat deur die Sorghumtrust befonds word. Produsente word aangemoedig om die Biosecurity­ Africa-toepassing af te laai aangesien kweleaprobleme in die toekoms daardeur gerapporteer moet word.

Saadbehandeling: Produsente se versoek om saadbehandeling op sorghum met Concept en Cruiser te standaardiseer, is met al die saadmaatskappye gekommunikeer. Dit behoort in plek te wees vir die komende seisoen.

Safex-kontrak: Aangesien die JSE ’n liggingsdifferensiaal op sorghum wou instel, het produsente versoek dat die sorghumkontrak by Safex verwyder word. Terugvoer van die JSE was dat hulle geen liggingsdifferensiaal op sorghum sal plaas nie, maar dat sorghum steeds by die JSE gelys moet bly.

Sorghumwaardeketting: Die Departement van Wetenskap en Innovasie se uitvoerbaarheidstudie oor die sorghumwaardeketting in Suid-Afrika staan einde se kant toe. Graan SA het kommentaar oor die voorlopige uitkomste van die studie gelewer.

Sojabone
Teling-en-tegnologieheffing: Kennis is geneem van die vordering wat gerapporteer is in die sojaboonsaadbedryf nadat die teling-en-tegnologieheffing twee jaar gelede geïmplementeer is. Onder meer is 30 nuwe kultivars die afgelope drie jaar geregistreer. Daar word versoek dat die nuwe kultivars wat gekommersialiseer word, gereeld aan produsente deurgestuur word.

Liggingsdifferensiaal: Dr Raphael Karuaihe van die JSE spreek die wegbreeksessie toe. Hy bevestig dat hulle tans besig is om Johann Strauss van die UVS se alternatiewe voorstel vir liggingsdif­ferensiale te evalueer. Lede versoek Graan SA om die vordering nou­geset te moniteer, gereeld druk te plaas op die JSE en pertinent te vra vir terugvoer oor die vordering wat gemaak word met die alternatiewe model wat deur die JSE ondersoek word.

Sojaboonwaardeketting: Gesprekvoering tussen verskillende rol-spelers in die sojaboonbedryf het reeds tot enorme deurbrake in die bedryf gelei. Voorbeelde hiervan is maatskappye wat hulle daartoe verbind het om sover moontlik plaaslike sojaboonoliekoek aan te koop. Gerhard Keun van die Proteïennavorsingstigting (PNS) gee terugvoer oor ander sake wat ook aandag kry op hierdie waardekettingvergaderings. Dit sluit in invoervervanging van sojaboonoliekoek en plantaardige olies; die lewering van sojabone teen ’n hoër vog­inhoud; vervoer, logistiek en die liggingsdifferensiaal; sojaboon- en -oliekoekkwaliteit asook die pluimveewaardekettinginisiatief wat sal lei tot hoër verbruik van sojabone en mielies.

Aftrekkings: Rakende aftrekkings is voorgestel dat standaard­aftrekkings tydens die lewering van sojabone na die Sonneblom- en Sojaboonspesialiswerkgroep verwys word vir verdere ondersoek en dat Graan SA navorsing doen oor wat die aftrekkings is wat van toepassing is by verskillende leweringspunte.

Wintergraan
Heffing: ’n Vrywillige heffing asook aansoeke vir navorsingsbefondsing word deur die Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfstrust (SAWCIT) bestuur. Die befondsing word vir primêre navorsing en inligtingsdienste soos die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) en SAGL aangewend. Die bedrae wat deur die bedryf in plek gestel is, is R14,50 vir koring en gars en R6,00 vir hawer. Richard Krige is die voorsitter van SAWCIT en daar is tans geen ministeriële trustees nie. Die bedryf het dus die geleentheid om homself te bevorder.

SACTA-heffing: Dié teling-en-tegnologieheffing is in 2020 vir nog twee jaar verleng, met die doel om telers van koring en gars te ondersteun. Sedert die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap (SACTA) se ontstaan, is daar 19 nuwe koringkultivars op die mark gebring en multinasionale saadmaatskappye het die Suid-Afrikaanse markte begin betree. Die bedryf het weer aansoek gedoen om voort te gaan daarmee en die nuwe heffings is soos volg: R30/ton vir koring en gars vir die seisoen, wat met 6% verhoog in die volgende seisoen. As deel van die poging om die hawerbedryf aan die gang te kry, is ’n heffing vir hawer ook bygevoeg.

Gradering: Die uiteenlopende gradering en hantering van sifsels deur die verskillende landboubesighede is tydens die sessie bespreek. Daar is versoek dat ’n spesialis op die gebied die toelaatbaarheid van sifsels in die graderingsvereistes, met die oog op die valgetal van koring, navors. Die doel is om die invloed van die menslike faktor by gradering te verminder.

Liggingsdifferensiaal: Daar is intern besluit dat Graan SA ’n studie aan die hand van die nuwe model soos voorgestel deur Johann Strauss, spesifiek vir die wintergraanbedryf, sal aanpak. Daar moet ook gefokus word op die openbare vervoernetwerk vanaf die Kaap na die binneland om te help met die verwydering van surplusvoorrade in die Kaap.

Koringtarief: Die hele bedryf is dit eens dat die huidige stelsel van afkondiging nie doeltreffend werk nie. Daar is vergaderings met minister Ebrahim Patel van die Departement van Handel en Nywerheid aangevra om die saak verder te bespreek. Die Koringforum het egter ’n skrywe van die ministerie ontvang wat gesê het dat hulle nie die dringendheid van so ’n vergadering kan insien nie. Die ondoeltreffende stelsel veroorsaak baie probleme by beide produsente en meulenaars. Daar sal wel hernude pogings wees om die dringendheid van die saak te beklemtoon.

Insetprysopname: Graan SA gaan met behulp van ’n student insette moniteer vir groter deursigtigheid. Die student sal produsente kontak om prysinligting in te samel en alle inligting sal anoniem hanteer word. Hoe meer produsente in ’n streek deelneem, hoe meer deursigtig sal die inligting vir daardie streek wees. Die inligting sal produsente in staat stel om die gemiddelde pryse in hul streek te bepaal om sodoende meer kompeterend te kan produseer.

Kanola: Die spesialiswerkgroep sal ’n versoek aan SOILL rig vir beter kommunikasie aan produsente in oestyd om verwarring oor opberging en gradering te voorkom. Daar word verder versoek dat SOILL se Zander Spammer ’n artikel skryf oor die graderingsvereistes vir kanola sodat produsente kan verstaan hoe die gewas gegradeer word en waarna hulle moet oplet.

Gars: ’n Mandaat is aan die spesialiswerkgroep gegee om die kontrakteringsmeganisme te ondersoek en veranderinge aan te bring indien nodig. Produsentevergaderings sal in Bredasdorp, Caledon, Swellendam en Heidelberg gereël word om insette te kry.

Hawer: Graan SA en die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) is besig om te kyk hoe daar aan die prysingsmodel gewerk kan word om ’n koppelfaktor te bepaal waar hawer dan ’n afgeleide prysingsmeganisme kan hê vanaf byvoorbeeld Safex-koring.

Alternatiewe gewasse: Produsente het aan die werkgroep vir alternatiewe gewasse die opdrag gegee om ’n SACTA-heffing op lupiene in te stel. ’n Heffing van R35/ton is voorgestel. Produsente moet kennis neem dat die heffing met tyd na ’n bedrag per hektaar uitgebrei kan word. Al die lupiene gaan nie mark toe nie, maar almal trek wel voordeel uit die nuwe kultivars.