Wat kan verwag word van Chinese mielie-invoere?

Gepubliseer: 4 Julie 2023

1246
Heleen Viljoen,
landbou-ekonoom, Graan SA, heleen@grainsa.co.za

China se onlangse oplewing in mielie-invoere uit Suid-Afrika het vrae laat ontstaan oor die onderliggende redes agter hierdie skielike verskuiwing in handeldinamika. Dié artikel lê klem op die belangrikheid van Suid-Afrika se mielie-uitvoere sowel as die onlangse nuwe mark wat betree is.

Suid-Afrika het die afgelope vyf jaar ’n gemiddeld van 14,8 miljoen ton mielies geproduseer. Hiervan word slegs 10,9 miljoen ton in die plaaslike mark verbruik. Dit beteken Suid-Afrika het ’n surplus wat uitgevoer kan word. Die uitvoer van graan – en veral mielies – speel ’n deurslaggewende rol om plaaslike produsente te beskerm en die ekonomie op verskeie maniere te stimuleer. Oos-Asië is ’n groot mark vir Suid-Afrikaanse mielies, met die Chinese mark wat onlangs eers betree is.

Meer oor China
China is die tweede grootste mielieproduserende land ter wêreld – hulle produseer tot 23% van die wêreld se mielies. Hoewel China mielies in groot maat produseer, word amper geen mielies uitge­voer nie en die land is steeds afhanklik van invoere om die binnelandse vraag te bevredig. China se vraag-en-aanbod-scenario word in Tabel 1 uiteengesit. Daar kan duidelik waargeneem word dat China in ’n gegewe jaar nie genoeg mielies produseer om in die plaaslike vraag te voldoen nie en dus konstant mielies moet invoer. Die ander interessante tendens is dat China se voorraad-tot-verbruik-verhouding tussen 55% en 63% wissel. In wêreldterme word ’n voorraad-tot-verbruik-verhouding van 12% as die norm geag. Aan die einde van elke bemar­kingseisoen het China amper 200 miljoen ton mielies oor in die land en elke nuwe bemarkingsjaar begin dus met oorgenoeg voorraad.

Die verwagting vir die 2023/2024-seisoen is dat China meer mielies gaan invoer. In die afgelope vyf jaar (2018 tot 2022) het China hoofsaaklik mielies vanaf Amerika (58%) en die Oekraïne (40%) ingevoer. Na die uitbreek van die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne moes China egter nuwe invoermarkte vind. In die huidige bemarkingseisoen het China begin kyk na alternatiewe invoerbronne, wat Suid-Afrika en Brasilië insluit. Almal wonder egter hoekom China in die 2022/2023-bemarkingsjaar vir die eerste keer in ’n dekade mielies van Suid-Afrika af ingevoer het. Daar is verskeie faktore wat ’n rol speel:

1. Beskikbaarheid
In die tyd van die Chinese mielie-aan­kope vanaf Suid-Afrika was Amerika aan die begin van die plantseisoen vir die volgende bemarkingsjaar. Dit het beteken dat voorraad vir uitvoere laag was en dus ook duurder. China se tweede grootste mark, die Oekraïne, het ook laer voorrade beskikbaar gehad vir uitvoer en die verkryging daarvan is bemoeilik deur die voortslepende oorlog met Rusland. Sedert die 2021/2022-seisoen het Oekraïne se mielieproduksie verlaag vanaf 42,13 mil­joen ton na 21 miljoen ton (dit is 50% minder) en so ook het hul uitvoere ver­laag vanaf 27,05 miljoen ton na 15 miljoen ton (45% minder).

2. Kwaliteit
Suid-Afrika is bekend vir sy hoëkwaliteitmielies. Een van die faktore wat hiertoe bydra is dat die mielies natuurlik op die lande gedroog word. Plaaslike mielies is gesog in wêreldmarkte en die kwaliteit dra dus by tot Suid-Afrika se kompete­rende voordeel.

3. Prys
Sedert 2020 is Suid-Afrika een van die wêreld se goedkoopste bronne van mielies. Suid-Afrika, veral vergeleke met Amerika en Brasilië, is baie kompeterend geprys in die wêreldmarkte. Aan die einde van 2022 het plaaslike mieliepryse boonop skerp gedaal, wat Suid-Afrika se aantreklikheid as ’n invoerbron bevorder het. Meer inligting oor hoekom mielies so ver van uitvoerpariteit af verhandel het, kan in die Mei 2023-uitgawe van SA Graan/Grain gevind word. Buiten die beskikbaarheid en die kwaliteit van die mielies, was Suid-Afrika dus ook prys­kompeterend.

4. Ligging
Oor die algemeen maak die strategiese ligging, infrastruktuur, konnektiwiteit en ondersteunende dienste die hawens in Suid-Afrika mededingend teenoor ander skeepsroetes. Die land se posisie as ’n natuurlike poort vir handel, gekombineer met doeltreffende hantering van grootmaatgrane, versterk die aantrekkingskrag vir uitvoerders en dra by tot Suid-Afrika se posisie in die globale graanhandel.

Figuur 1 stel die hoofuitvoerroetes vir Suid-Afrika se grootste mielie-uitvoerkompetisie voor. Die uitvoerroete vanaf Brasilië deur die Kaap oor die Indiese Oseaan na China, is ongeveer 19 400 km lank. Die roete tussen Suid-Afrika en China is ongeveer 11 800 km lank. Die alternatiewe uitvoerroete – vanaf Brasilië deur die Panama-kanaal oor die Stille Oseaan – is ongeveer 20 800 km lank. Suid-Afrika is strategies geleë aan die suidelike punt van Afrika, wat maklike toegang tot die Indiese Oseaan bied. Sy nabyheid aan groot skeepsroetes en handelspaaie maak dit ’n aantreklike poort vir handel. Suid-Afrika dien verder as ’n natuurlike oorlaaisentrum en bied gerieflike ver­binding met verskeie globale markte.

Figuur 1: Voorstelling van skeepsroetes vir grootmaatgraan vanaf hoofuitvoerhawens.

5. Mielie-uitvoerprotokol
’n Uitvoerooreenkoms word nie net bepaal deur prys en beskikbaarheid nie. Beide lande onderteken ’n uitvoerprotokol wat sekere fitosanitêre vereistes en minimumresiduvlakke (MRL) insluit. Die uitvoerprotokol tussen die Suid-Afrikaanse en Chinese regerings is in 2014 onderteken en het Suid-Afrika in ’n posisie geplaas om mielies na China te kan uitvoer.

Samevatting
Om saam te vat: Suid-Afrika word in die wêreldmarkte as ’n aantreklike bron van invoere gesien omdat ons mielies van hoë kwaliteit teen ’n kompeterende prys in ’n aantreklike ligging aanbied. Om nuwe uitvoer­markte te betree is egter nie so eenvoudig nie. Graan SA het sy lede bygestaan in die onderhandelingsproses om ’n uitvoer­protokol tussen die Chinese en Suid-Afrikaanse regerings te bewerkstellig. Die uitvoerprotokol is in 2014 onderteken en het Suid-Afrika in ’n posisie geplaas om mielies na China uit te voer. ’n Soortgelyke protokol is onlangs vir sojaboonuitvoere onderteken.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van die inligting nie.