March 2018

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain redaksiespan

​​​​​​Mnr AC van Wyk en sy vrou, Lizelle, boer hoofsaaklik met mielies en osse in die Bultfontein-distrik. Hy is ‘n mielieprodusent in murg en been en is ‘n uitstekende besigheidsman.

Vir hom is graanverbouing ‘n manier om sy besigheid oor tyd te laat groei. In hierdie gebied is mielies volgens Van Wyk die vertakking wat die hoogste wins per hektaar realiseer, maar ander gewasse word vir ‘n verskeidenheid van redes ook verbou.

Klimaatomstandighede kan dit onmoontlik maak om mielies binne die bepaalde tydvenster te plant en die verbouing van ander gewasse (soos sonneblom en koring) moet dan ook oorweeg word. Vanjaar was dit nie moontlik om al die mielies betyds geplant te kry nie en daarom het hy die verbouing van alternatiewe gewasse oorweeg.

Van Wyk boer hoofsaaklik op watertafellande en oordragvog word doelgerig bestuur. Spesifieke lande sal soms, volgens behoefte, oorlê. ‘n Spoorverkeerstelsel met 1,8 m-rye word gebruik om brandstof en ander koste per hektaar te minimaliseer.

Volhoubare winsgewendheid is vir hom die belangrikste aspek in sy besigheid en hy doen moeite om gereeld die vordering daarmee te meet. Hy doen alles in sy vermoë om te sorg dat hy volhoubaar die produkte wat hy beoog, produseer. Dit begin by die beplanning van alle aspekte van die boerderyvertakkings en só word ‘n stelsel bymekaargesit wat alle sterk en swak punte akkommodeer.

Ten einde hoë winsgewendheid te handhaaf, moet verstaan word dat die verbouing van die gewas nie net veranderlike kostes moet ondervang nie, maar dat die vaste koste van die boerdery ook ingesluit moet word. Hierdie koste, tesame met die produksiepotensiaal van die plaas, maak dit moontlik om die realistiese produksieprys van die graan te bepaal en sodoende die bemarking daarvan te vereenvoudig.

Dié produsent het vroeg in sy lewe besef dat die vaste koste van sy boerdery geminimaliseer moet word. Dit het aanleiding daartoe gegee dat ‘n stelsel wat die duur kapitale insette op ‘n hektaarbasis verminder, geïdentifiseer moes word.

Werktuie en toerusting
Ten einde die duur kapitale toerusting so effektief en doeltreffend moontlik aan te wend, word vindingryke planne gemaak. So byvoorbeeld word die stroper aangewend om soveel as moontlik per seisoen met hom te stroop.

Deur meer as een drywer wat in skofte werk vir die stroper te voorsien, kan meer ure per seisoen gestroop word en sodoende word die koste oor meer hektare verdeel – wat die koste per hektaar verminder.

‘n Ander interessante plan wat hy geïmplementeer het, was om die stroper se werkspoed te verhoog. ‘n Stroper op rusperbande het dit moontlik gemaak om die landspoed te verhoog en sodoende word meer hektare met die masjien gedoen – wat die koste per hektaar verminder en winsgewendheid verhoog.

Effektiwiteit, doeltreffendheid en winsgewendheid word verhoog deur sommige van die toerusting op die plaas pas te maak en/of self te vervaardig.

Die effektiewe gebruik van trekkers en toerusting is nog ‘n manier om koste per hektaar te beperk. Van Wyk gebruik gemiddeld heelwat minder kilowatt per hektaar as die deursnee produsent. Daar is genoeg trekkers en toerusting beskikbaar, maar met fyn beplanning word seker gemaak dat hierdie kapitaal so effektief moontlik aangewend word.

Die gebruik van ‘n dag- en ‘n nagskof maak dit moontlik om meer werk per trekker gedoen te kry. Fyn kontrole, asook gereelde aanpassing van die werksbegrotings, maak ‘n bydrae om te verseker dat alles betyds afgehandel kan word.

Van Wyk maak van ‘n interessante manier gebruik om die werk wat gedoen moet word, te beplan en kontrole daaroor uit te oefen. Dit behels dat hy presies weet hoeveel werk ‘n trekker per dag moet kan lewer, hoeveel dit werklik verrig en waarom daar afwykings is.

Deur dié uitdagings aan te spreek, verseker hy dat die trekkers en werkers so effektief en doeltreffend moontlik funksioneer. Voorts het hy oor tyd sy trekkers se werkverrigting gemeet en het hy nou ‘n akkurate norm van wat die trekkers op sy plaas behoort te verrig.

Presisieboerdery
Om net op vaste koste te konsentreer, kan tot ‘n misoes aanleiding gee. Van Wyk maak van presisieboerdery gebruik om die winsgewendheid van die besigheid te verhoog en presisieboerdery begin by die bestuur van die grondhulpbron.

Die fisiese grondkartering en realistiese opbrengsmikpunte is die basis van die graanverbouing in hierdie besigheid. Gronde se potensiaal asook die hoeveelheid water in die profiele is die grondslag vir die bemestingsaanbevelings, asook die verwagte opbrengste per hektaar.

Danksy die chemiese kartering van lande, word die korrekte voedingstowwe op die regte plek toegedien. Die kalk word ook presies toegedien en hiervoor maak hy van kontrakteurs gebruik. Alhoewel dit duurder is as wat hy dit self sou doen, haal dit die druk tot ‘n groot mate van die bestuurders af, aangesien hulle in dié tyd op ander aspekte moet fokus. Bemesting, plantestand, kultivars en ander verbouingspraktyke word aangepas by die potensiaal van elke land.

Van Wyk het moeite gedoen om die werking van insette te bestudeer en om seker te maak dat hy deeglik verstaan waarmee hy besig is. Sy bemestingsprogram word in die fynste besonderhede in samewerking met insetverskaffers beplan en geïmplementeer.

Die onkruiddoder- en plaagdoderprogram word op dieselfde manier bereken en beplan. Of die onkruid chemies of meganies beheer gaan word, hang af van watter een meer bekostigbaar is.

Spanwerk
Hierdie take kan nie alles deur Van Wyk hanteer word nie. Die plaasbestuurders en die werkers moet elkeen hul deel van die verantwoordelikheid dra. Menskapitaal is daarom uiters belangrik in hierdie besigheid en hy probeer alles in sy vermoë om dit te optimaliseer.

Die gebruik van positiewe motiveringstegnieke werk vir hom uitstekend en om die belange van die werkers op die hart te dra, dra daartoe by om hulle gemotiveerd te hou.

Rekordhouding
Die rendement op kapitaal aangewend, word in hierdie boerdery op ‘n gereelde basis gemeet. Hiervoor het Van Wyk volledige beplannings, rekordhouding en kontrolemeganismes in plek. Vrae oor waarom die begroting nie gerealiseer het nie en hoekom aanpassings in die begrotings gemaak moes word, word nie geïgnoreer nie.

Jaarliks word die verbouingsproses en die opbrengste in detail ontleed en maniere om take beter uit te voer of om produksie te verhoog, ondersoek en waar moontlik geïmplementeer. Hiervoor is goeie kommunikasie tussen Van Wyk en die bestuurders van kardinale belang.

Hy fokus op die strategiese besluite van die boerdery en doen moeite om die effek van verskillende scenario’s op die boerdery te toets.

Waar die besigheid oor vyf jaar moet wees en hoe dit bereik gaan word, is strategiese vrae waarmee Van Wyk hom gereeld besig hou terwyl die dag-tot-dag-aktiwiteite deur die plaasbestuurders hanteer word.

Omdat hy al die beplanning en kontroles hanteer, weet hy presies wat wanneer en waar gedoen moet word en dit stel die plaasbestuurders in staat om te kan fokus op die take wat afgehandel moet word. In effek beteken dit dat almal op die plaas spesialiste is en daardeur word die effektiwiteit en doeltreffendheid van die mannekrag verhoog.

Groei op kapitaal
Sedert hy begin boer het, poog Van Wyk om optimale groei op kapitaal aangewend, te verkry. Dit word bereik deur op praktyke te fokus wat reeds as suksesvol bewys is. Daar word voortdurend gepoog om die optimale punt tussen inset en uitset te bereik.

Hy weet presies hoeveel dit kos om sy produkte te produseer. Met die kennis van hoeveel vog in die grond is, kan met ‘n redelike mate van sekerheid gesê word wat die produksie behoort te wees. Met hierdie kennis, asook die koste per ton en die termynmark se daaglikse pryse, kan hy graanpryse deurlopend verskans – gegrond op rasionele denke.

Van Wyk droom groot, maak planne om die drome ten uitvoer te bring, neem die mense wat vir hom werk en insetverskaffers saam op hierdie roete en laat die gemeenskap ook in sy welvaart deel – dit veroorsaak dat almal in die omgewing ‘n beter plek het om in te woon en te werk.

Navrae oor hierdie artikel kan gerig word aan AC van Wyk by 082 776 6580 of kontak Pietman Botha by 082 759 2991.
Publication: March 2018

Section: On farm level