Die ongemak van politieke korrektheid

616
Jannie de Villiers
HUB, Grain SA jannie@grainsa.co.za

Dit sal ’n hartseer dag wees as Suid-Afrika ooit meriete en rasionaliteit begrawe ter wille van politieke korrektheid. Ek sê dit omdat ons daagliks meer druk op georganiseerdelandbouvlak ervaar om feite en meriete te ignoreer en besluite bloot op grond van politiek te neem. ’n Mens sou seker ook die woord politiek met populisme kon vervang.

Indien die mark sy besluite om goedere en dienste aan te skaf en beleggings te maak, baseer op wins en prestasie, sê elke teorieboek dat dit die beste manier is om hulpbronne (grond, arbeid, kapitaal en entrepreneurskap) toe te deel. Dis hierdie fundamentele beginsel wat groei in ’n ekonomie bewerkstellig. Ons hoor bykans daagliks by die Zondo-kommissie hoe die staat (en selfs die private sektor) miljoene rande onder hul beheer toegewys het wat nie op hierdie beginsel van meriete gebaseer was nie. Die resultaat? ’n Ekonomie wat eerder parkeerplek soek as wegspringblokke.

Ons uitdaging is om meriete as ’n waarde in ons sektor en die gemeenskap te behou. Waar dit ons graanprodusente direk raak, is wanneer daar besluit moet word waar om die beperkte fondse in die landbou aan te wend. Fondse vir navorsing, om nuwe produsente te help om op kommersiële vlak te produseer en vir die insameling en publisering van markinligting. Meriete word dikwels in ons vergaderings teenoor transformasie gestel. Dit is bloot verkeerd. Meriete sê iets van wie die funksie die beste kan uitvoer en waarde vir geld sal lewer. Sodra daar ander faktore bygesleep word, is dit die begin van vermorsing en onmededingendheid. Wanneer ’n ekonomie soos Suid-Afrika s’n tans, sukkel om te groei, is dit die laaste ding wat ’n mens wil sien. Verkeerde aanwending van fondse om navorsing te doen en tegnologie te verbeter, maak produsente onmiddellik minder mededingend – omdat ander lande dit beter doen. Oor tyd heen raak ons geïsoleerd en is agteruitgang ons voorland.

Die aanwending van fondse ten opsigte van ons land se paaie is ook ’n baie goeie voorbeeld hiervan. Onderhoud kan net tot op ’n sekere punt uitgestel word, voordat daar geëindig word by ’n plek waar vervanging – teen ’n baie hoër koste – onvermydelik is.

Die ander boustene van ’n groeiende ekonomie is die verskeie instellings in ’n bepaalde sektor. Wat dit betref, is landbou baie goed daaraan toe – maar ek kan nie anders as om ’n rooi vlaggie hier op te steek nie … Sommige instellings is nog daar in naam, maar die inhoud laat ’n mens koud. Daar is maar baie min vertroue by die publiek in staatsbeheerde ondernemings, soos Eskom en die SABC. Net so is ons vertroue in dié wat landbou moet bedien, aan die taan. Wat ek opmerk, is dat die mark maar min simpatie met swak prestasies het en dat daar sommer gou-gou alternatiewe na vore kom. Mense sien nuwe geleenthede en gaan oor tot aksie. Ek het nog altyd ’n hoë prys op ’n vinnige reaksietyd geplaas. Ongeag baie politieke uitsprake, werk die mark nog … en dit alleen kan meriete as waarde handhaaf.

Een ding waaroor ons in Suid-Afrika egter nie hoef te twyfel nie, is dat ons in onbekende vaarwater is. Ons was nog nooit voorheen op so ’n ongemaklike plek nie. Mense praat oor die grondplate wat onder ons skuif, of dit nou ons gesondheidsorg is wat geraak word of ons pensioengelde óf die ewigdurende misdaadgolf wat daagliks oor ons slaan. Daar is egter baie voorbeelde in die Bybel wat ons kan help om nugter oor dié sake te dink wanneer die onbekende ons gedagtes oorweldig. Onthou dit: God het ons nog nooit verlaat of in die steek gelaat nie. Vertrou op Hom!