Graan SA verteenwoordig produsente by IGC-konferensie

Heleen Viljoen, landbou-ekonoom, Graan SA
Gepubliseer: 31 Julie 2023

276

In die week van 12 tot 16 Junie was die wêreld omtrent ’n bedrywige plek. Die Suid-Kaap, tesame met die Swartland, het historiese hoë reënval ervaar. Verder noord was somerreënvalprodusente volstoom besig om hierdie jaar se someroes te stroop.

In dieselfde week het ’n afvaardiging, wat Suid-Afrika se president ingesluit het, ’n vredesending na Rusland en die Oekraïne aangepak. In dié week het ek en my kollega, Stefan Links (graannavorser en koördineerder by Graan SA), ook die voorreg gehad om Suid-Afrika by die Internasionale Graanraad (IGC) se jaarlikse konferensie te verteenwoordig. Dit was ’n voorreg wat moontlik gemaak is deur die nominasie en befondsing van SAWCIT (die Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfstrust).

Die konferensie, wat in Londen plaasgevind het, het oor twee dae gestrek, met afgevaardigdes wat deur 81 sprekers van oor die wêreld heen toegespreek is. Gesprekke het gehandel oor onder­werpe soos voedselsekerheid, klimaatrisiko’s tot kommoditeitspe­sifieke produksie-omstandighede. Daar is baie inligting by die konferensie gedeel, maar ’n paar belangrike punte het uitgestaan:

Voedselsekerheid
Voedselsekerheid is seker die belangrikste onderwerp waaroor die wêreld tans praat. Die basiese voedselmandjie het wêreldwyd duur geraak, met voedselinflasie wat die hoogte inskiet terwyl die Rusland/Oekraïne-oorlog voortduur. ’n Groot besprekingspunt van die eerste dag was oor hoe markte aanpasbaar kan wees in tye van krisis (wat sedert Covid in 2020 meer gereeld plaasvind).

Tydens die uitbreek van die oorlog het verskeie uitvoerlande handelsbeperkings op hul uitvoere geplaas, wat die vrees vir voedseltekorte by invoer-afhanklike lande aangevuur het. ’n Spreker van die Wêreldhandelsorganisasie (WTO) het klem gelê op hoe aanpasbaar die globale graanbedryf was, veral na die onverwagse uitbreek van die oorlog. Aan die verhandelingskant, wat onder andere verhandelaars en logistieke besighede insluit, het die privaat sektor, banke en versekeraars vinnig hul bedrywe gemodifiseer om aan te pas by die nuwe werklikheid. Sodoende het wêreldgraan aan die vloei gebly.

Kommer is geopper oor die mate waarin graan wêreldwyd geproduseer word. Klimaatsverandering raak ’n nare realiteit in lande wat reeds afhanklik is van invoere om plaaslike bevolkings te voed. Ethiopië en Niger is goeie voorbeelde. Dié lande is besig om in ’n woestyn te verander. Hektare geskik vir graanproduksie is besig om te verminder en dus word hierdie lande al meer afhanklik van invoere. Hierdie tendens lei na twee interessante verskynsels:

  • Die plant van woude om verwoestyning te verhoed. Dit is glad nie vreemd om te hoor dat lande bome aanplant om woude te vorm om sodoende klimaatsverandering te beheer nie, maar dié aanplanting van woude dien ook as koolstofkrediete. Koolstofkrediete word dan deur invoer-afhanklike lande gebruik as ’n onderhandelingsmeganisme vir internasionale geleenthede met meer ontwikkelde lande.
  • Covid-19, tesame met die uitbreek van die oorlog, het wissel­koerse aansienlik meer wisselvallig gemaak. Daar is ontwikkelende lande wie se geldeenhede te swak geraak het teenoor die Amerikaanse dollar om graan te kan invoer. Graan word hoofsaaklik in dollar verhandel en het op ’n stadium onbekos­tigbaar vir ontwikkelende lande geraak. Om hierdie probleem te oorkom het Europese banke ’n graan-token ontwikkel wat as elektroniese krediet dien om invoere te bewerkstellig. Om dit eenvoudig te verduidelik, word die token gebruik om die transaksie in Amerikaanse dollar (wat basies geleen moet word) tussen die verkoper en invoerder te fasiliteer. Die vraag waarmee afgevaardigdes gelaat is, is hoe om die voedselkrisis te oorkom op ’n klimaatvriendelike manier terwyl verhandelingsmarkte oop en stabiel gehou word.
Rosemary Zoleka Capa, die Suid-Afrikaanse Adjunkminister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, aan die woord tydens die IGC-konferensie in Londen.

Graankommoditeite
Die fokus van die tweede dag was op omstandighede rakende die hoofgraankommoditeite van die wêreld: lupiene, koring, mielies, sojabone en rys.

Peulgewasse
Peulgewasse, of meer spesifiek droë ertjies, lensies, kekerertjies en breëbone, is deur ’n paneel van kenners bespreek. Die vraag na lupiene – in die lig van groeiende vrese rakende wêreldvoedselsekerheid – word voorspel om in die toekoms te styg. Asië bly steeds die grootste wêreldverbruiker, maar onlangs het Noord- en Suid-Amerika asook Europa se verbruik skerp gestyg. Die stygings word gekoppel aan die verhoogde bewustheid van die gesondheidsvoordele van peulgewasse, met ’n wye reeks innoverende produkte wat nou beskikbaar is vir verbruikers in die vinnig-groeiende plantgebaseerde proteïenvoedselsektor. Hierdie is ’n mark om dop te hou.

Koring
Die koringpaneel het die gesprek van die ander kant af benader. Die fokus is geplaas op die meulenaars en die invloed van die uitdagende handelsdinamika en logistiek van die wêreldmarkte op hul besigheid. Omtrent 70% van die wêreld se totale koringverbruik word uitgemaak deur die menslikevoedselmark. Die meulenaars sit met verskeie uitdagings, wat onder meer insluit dat verbruikers­tendense besig is om te verander. Sedert die uitbreek van Covid-19 was wêreldkoringproduksie onseker en markte wisselvallig.

Na die uitbreek van die oorlog in die Oekraïne, het energie- en skeepvragkoste geweldig gestyg. Tesame met die toename in produksie- en operasionele koste het huishoudelike inkomste onder druk gekom, wat verbruikersbesluite nog verder beïnvloed. Die volgende voorbeeld toon die invloed van hoër energie- en logistieke koste op die prys van meel:

’n Brood het in Februarie 2023 ongeveer R18,73 gekos. Hiervan maak die produsentekoringprys slegs R3,67 (20%) uit. Die rou koring moet deur verskeie waardetoevoegende skakels in die waardeketting beweeg om uiteindelik ’n produk vir die eindverbruiker te produseer. Elke skakel voeg waarde by tot die produk – en met verhoogde energiekoste moet meer waarde by elke skakel gevoeg word. Dus maak die koringprys ongeveer 20% van die broodprys uit met die oorblywende 80% wat deur die bostaande faktore beïnvloed word.

Mielies
Die buitengewoon skerp jaar-tot-jaar-inkrimping van die globale vraag na mielies word gedeeltelik verklaar deur verhoogde markpryse, gekoppel aan die daling van mielievoorrade, met ’n reeks kleiner oeste wat ook hoeveelhede beskikbaar vir die produksieketting op die plaas beperk. Dit het gelei tot pogings om die doeltreffendheid van saamgestelde voer te verbeter en die insluiting van alternatiewe voerbronne vir meer mededing­ende pryse. Uitdagende ekonomiese toestande bly steeds ’n faktor. Huishoudelike inkomste bly onder druk, wat veranderinge in die verbruik van vleis, eiers en suiwelprodukte aandryf. Daarbenewens plaas kommer oor dieregesondheidsiektes, veral wat verband hou met hoogs patogene voëlgriep onder hoenders en droogteverwante kuddevermindering in sommige lande, ook druk op die vraag na mielies in die wêreld.

Sojabone
Die sojaboonbespreking was seker die een wat die meeste be­langstelling geprikkel het, maar ook insig verskaf het. Dit is geen geheim dat globale sojaboonproduksie oor die laaste drie jaar aansienlik gestyg het nie, maar dit is nie so wyd bekend dat die markdinamika in hierdie tydperk ook aansienlik verander het nie. China is die entiteit wat die wêreldvraag na sojabone bepaal – en wanneer hul aankope verander, word die wêrelddinamika ook direk beïnvloed. Meer hieroor kan gelees word in die Graanmark­artikel. Die sojaboongesprek is afgesluit met die volgende vraag: Waarnatoe gaan al die sojabone gaan?

Samevatting
Ek is trots om deel van Suid-Afrika se graanbedryf te wees. Die afgelope drie jaar was daar meer as een onvoorsiene wêreldgebeurtenis wat die wêreld deurmekaargekrap het. Ons graanprodusente hou egter altyd kop bo water om selfs in die moeilikste tye ’n konstante bron van voedsel te bied. Ek beleef gereeld dat Suid-Afrika in ’n negatiewe lig bespreek word. Wat die graanbedryf betref, wil ek egter die volgende uitlig: Ons graan word as wêreldklas beskou; strategies is ons uitstekend geleë vir uitvoere; en die aanpasbaarheid van ons produsente maak ons ’n krag om mee rekening te hou. In vergelyking met ander lande produseer ons genoeg voedsel om onsself te onderhou met nog genoeg oor om te kan uitvoer.