September 2017

Dr Driekie Fourie en Akhona Mbatyoti, Geïntegreerde Plaagbestuur, Noordwes-Universiteit en Annelie de Beer, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Knopwortelaalwurms is wyd verspreid en is ‘n groot uitdaging in plaaslike sojaboon­produksiegebiede. Die dominante knop­wortelaalwurmspesies wat wortels van sojabone en ander wisselbougewasse aanval en oesverliese veroorsaak, is Meloidogyne incognita en Meloidogyne javanica.

Hierdie twee spesies kom as enkel of gemengde bevolkings in landbougrond in graanproduksiegebiede voor en veroorsaak kenmerkende galle of knoppe op wortels van sojaboonplante (Foto 1).

Die gebruik van weerstandbiedende sojaboonkultivars of swak gasheerkultivars om knopwortelaalwurmbevolkings te verlaag, is een van die beste aalwurmbeheerstrategieë om sojabone en opvolggewasse volhoubaar te verbou. ‘n Weerstand­biedende kultivar is in hierdie geval geklassifiseer as een wat na ‘n 56 dae glashuisevaluasie ‘n bevolking van M. incognita, wat laer was as dié aanvanklike bevolking waarmee die saailing besmet is, onderhou het.

‘n Swak gasheerkultivar is geklassifiseer as een wat na die 56 dae evaluasietydeperk minder as 10% van die aalwurmbevolking onderhou het, vergeleke met die bevolking wat in wortels van ‘n uiters vatbare kultivar teenwoordig was.

Gasheerweerstand is omgewingsvriendelik en ‘n alternatief vir aalwurmdoders. Geen aalwurmdoder op sojabone is in Suid-Afrika geregistreer nie. Daar is slegs twee kultivars (Tabel 1) wat weerstandbiedendheid teen M. incognita in glashuisevaluasies getoon het, terwyl ‘n hele paar kultivars as swakker gashere geïdentifiseer is (Tabel 1).

‘n Weerstandbiedende sojaboonkultivar kan bevolkings van M. incognita tot met 98% verlaag (in vergelyking met dié wat in wortels van ‘n vatbare kultivar onderhou word) en swak gasheerkultivars tot en met 90%. Kultivars wat in hierdie evaluasies vir knopwortelaalwurmweerstand getoets is, is ingesluit in LNR-Graangewasse se kultivarproewe.

Geen enkele aalwurmbeheerstrategie is die antwoord om aalwurmpeste suksesvol te beheer nie. Integrasie van verskillende beheerstrategieë behoort gevolg te word om volhoubare gewasproduksie in landbou­grond waar aalwurmpeste teenwoordig is, te verseker.

Kontak dr Driekie Fourie by 018 293 3683 of driekie.fourie@nwu.ac.za indien jy enige vrae in dié verband het.

Publication: September 2017

Section: Focus on