March 2018

DR JAN DU PREEZ, veterinêre spesialis: Volksgesondheid

‘n Soönose kan gedefinieer word as ‘n siekte of besmetting wat natuurlik oorgedra word van werweldiere (byvoorbeeld honde, katte, beeste, bokke, skape, wild, pluimvee, voëls, varke, perde, donkies, visse, krokodille en ander reptiele) na die mens en omgekeerd.

Die mens is dikwels ‘n toevallige gasheer, wat ‘n siekte deur noue kontak van ‘n besmette dier met of sonder siektetekens opdoen. In die breedste sin beteken die woord “soönose” ‘n siektetoestand van diere – en veral werweldiere – en dus ook die mens.

Die woord is afkomstig van die Grieks zoon wat dier en nosos wat siekte (kwaal of ongesteldheid) beteken. Hierdie soönotiese siektes (siektes wat normaal in diere voorkom wat die mens kan besmet) wat die mens by mak sowel as wilde diere kan opdoen, kan verder gegroepeer word met die oog op ondersoek en die instelling van beheermaatreëls.

Besmettings of siektes wat primêr by die dier voorkom en natuurlik na die mens oorgedra word soos papegaaisiekte, hondsdolheid of brusellose (Maltakoors) word antroposoönoses genoem. Besmettings of siektes wat primêr by die mens voorkom en natuurlik na die dier oorgedra word soos influenza (griep) of tuberkulose word soöantroponoses genoem.

Die wederkerige oordra van siektes tussen die mens en die dier soos giardiose (‘n protosoëparasiet) of stafilokokbesmettings (bakteriese besmetting) word amfisoönoses genoem.

Finansiële impak
Wêreldwyd word meer as 200 verskillende soönoses herken. Soönoses word veroorsaak deur verskillende siekteveroorsakende agente of mikroörganismes (patogene) soos bakterieë, virusse, swamme, protosoë, rickettsias en wurms.

Van 1 415 bekende siekteveroorsakende agente wat mense besmet, is 61% soönoties (‘n siekte wat normaal in diere voorkom, maar die mens kan besmet), dit wil sê wetenskaplikes bereken dat meer as ses uit tien besmetlike siektes van mense deur diere versprei word.

Die wêreldbevolking is gedurende Junie verlede jaar op 7,5 miljard bereken. Statistiese data dui daarop dat 10% tot 15% (meer as een miljard mense) of meer van die menslike bevolking op die een of ander tyd ‘n soönotiese besmetting sal opdoen.

Soönoses ondermyn ook die gesondheid, produktiwiteit en reproduksie van diere wat noodsaaklike voedsel (vleis, melk en eiers) en vesel (wol) produseer, asook die werkvermoë van diere. Soönoses kan op die lange duur wanvoeding by die mens en veral by kinders aanhelp. Die finansiële impak van soönoses is ook beduidend.

Miljoene mense wêreldwyd moet na blootstelling aan hondsdolheid (rabies) voorkomende behandeling ondergaan. Die voorkomende behandeling kos Suid-Afrika ongeveer R70 miljoen per jaar. Miljoene werksure gaan gevolglik verlore, wat geldelike onkoste en stres meebring.

Die jaarlikse geldelike verliese as gevolg van tuberkulose, brusellose en hondsdolheid by beeste bedra wêreldwyd etlike miljarde rande; Suid-Afrika is nie daarvan vrygespreek nie. Verder kan soönoses ook geldelike verlies tot gevolg hê omdat dit die uitvoer van vleis en ander dierprodukte aan bande kan lê. Soönosebeheerprogramme is dus van die uiterste belang, vir sowel die welvaart as die gesondheid van die mens.

Beskerm jouself só
Daar is sekere aksies wat ‘n mens kan neem om jouself en jou kinders teen soönotiese siektes te beskerm. Die mens kan soönotiese besmettings opdoen deur direkte kontak (brusellose en omloop) met besmette diere, inaseming (papegaaisiekte en influenza), kontak met besmette materiaal of voorwerpe (scabies), inname van besmette melk (brusellose en Q-koors), water of voedsel deur die mond (listeriose en Campylobacter-besmetting) en deur die byt van bloedsuiende ongewerweldes (Krim-Kongo hemorragiese koors) soos bosluise, vlieë, muskiete en vlooie.

Baie diere wat soönotiese-besmettings het, wys geen siektesimptome (asimptomaties) nie. Sekere mense se risiko om die siekte op te doen, is groter as ander mense s’n. Mense wat meer waarskynlik soönotiese siektes kan kry, is mense wat ouer as 65 jaar is, kinders onder die ouderdom van vyf jaar, verwagtende vroue, enige persoon met ‘n gebrekkige immuunsisteem (byvoorbeeld mense met menslike immuniteitsgebrekvirus [MIV] of verworwe immuniteitsgebreksindroom [vigs]) of pasiënte met kanker wat chemoterapie ondergaan).

Soönoses kan met die nodige kennis en inligting voorkom en beheer word. Opvoeding, opleiding en inligtingvoorsiening is die sleutel om te verseker dat troeteldiere sowel as ander diere se eienaars asook mense wat kontak het met diere veilig en gesond is.

Wêreldsoönosedag word jaarliks op 6 Julie gehou om die publiek op te voed en bewus te maak van die belangrikheid van soönoses wêreldwyd en om aktiewe pogings om soönoses te beheer, aan te moedig.

Gedurende die afgelope dekades het merkwaardige vordering en deurbrake in entstof-ontwikkeling en siektebehandeling plaasgevind. Die meeste soönoses is voorkombaar en die oorgrote meerderheid is behandelbaar indien die siektes gou genoeg gediagnoseer word. Daar is geen rede om vir diere bang te wees, te vrees of te vermy om jouself teen soönoses te beskerm nie.

Vir meer inligting hieroor, kontak dr Jan du Preez by info@zoonoses.co.za.
Publication: March 2018

Section: On farm level