Só word bemarkingsjare bepaal

Gepubliseer: 27 Oktober 2020

2169

Luan van der Walt
landbou-ekonoom, Graan SA
luan@grainsa.co.za

8 Oktober 2020Die plaaslike graan- en oliesademark het ’n baie sikliese tendens, wat die voorrade en die vloei van graan beïnvloed. Dit is belangrik vir rolspelers in die bedryf om die plaaslike markte se siklisiteit te verstaan ten einde die fundamentele aspekte van die mark beter te begryp.

Een van die aspekte van die plaaslike mark wat die afgelope tyd weer onder die loep gekom het, is die bemarkingseisoene. Hoekom verskil die be­markingseisoene van die verskillende gewasse en waarom kan dit nie net volgens kalenderjare wees nie? Dit mag dalk vir baie mense sin maak dat die bemarkingseisoen hand aan hand met die kalenderjaar moet loop, maar daar is ’n klompie belangrike aspekte om in gedagte te hou wanneer dit by die bepaling van die bemarkingseisoen kom.

Seisoen en voorrade bepalend
Grane en oliesade se bemarkingsjare verskil en word hoofsaaklik deur die produksieseisoen en beskikbare voorrade van die verskillende gewasse bepaal. Tabel 1 toon die bemarkingsjare van die verskillende grane en oliesade aan.

Die bemarkingseisoene is so saamgestel dat dit eindig net voordat die nuwe seisoen se strooppro­ses begin. Dit is ook wanneer daar tradisioneel die laagste voorraad plaaslik beskikbaar is.

Grafiek 1 toon die gemiddelde onverwerkte voorraad van mielies per maand. Dit is duidelik dat die mielievoorraad tradisioneel tydens April die laagste is. Alhoewel daar wel sedert Maart voorraad van die nuwe seisoen in die vorm van vroeë lewerings in die mark begin kom, is dit in die minderheid. Vroeë lewe­rings maak gemiddeld tussen 2% en 3% van die totale mielieproduk­sie vir die seisoen uit. Soos die nuwe seisoen se voorraad in die mark inkom, verhoog die beskikbare voorraad in die plaaslike mark totdat dit tradisioneel gedurende Augustus ’n hoogtepunt bereik.

Grafiek 1: Gemiddelde hoeveelheid onverwerkte mielievoorraad per maand in Suid-Afrika.
Bron: SAGIS

Een van die belangrikste aspekte wat in ag geneem word wanneer die vraag-en-aanbod-komitee hul syfers bekendmaak, is die beskikbare voorraad aan die einde van die bemarkingseisoen. Die mark wil dus vasstel hoeveel mielies daar beskikbaar is gedurende die maand wanneer daar tradisioneel die laagste beskikbare plaaslike voorraad is. Dit help om die risiko van tekorte te kwantifiseer. Oor die algemeen is die norm dat daar aan die einde van die bemarkingseisoen ’n minimum van ongeveer 45 dae (een en ’n half maande) se voorraad beskikbaar moet wees.

Praktiese voorbeeld
Suid-Afrika verwerk gemiddeld 940 000 ton mielies per maand (beide wit- en geelmielies). Dit beteken dat daar aan die einde van die bemarkingseisoen, wanneer die voorrade op die laagste is, ten minste 1,4 miljoen ton se mielies beskikbaar moet wees (940 000 x 1,5). Dit staan bekend as die pyplynvoorraad, wat aan die einde van die bemarkingseisoen beskikbaar moet wees. Indien die geskatte hoeveelheid mielies aan die einde van die seisoen minder as hierdie 1,4 miljoen ton is, sal dit heel moontlik lei tot tekorte in die mark. Indien die mark meer as hierdie 1,4 miljoen ton beskikbaar het, is die voorraad genoegsaam en behoort die mark nie so pryssensitief te wees nie.

Indien die bemarkingsjare verander word om in lyn met die kalenderjare te wees, sal dit die bepaling van eindvoorraad bemoeilik. Dit is duidelik uit Grafiek 1 dat daar gemiddeld gedurende Desember ongeveer 4,6 miljoen ton mielies beskikbaar is. Indien die seisoen saam met die kalenderjaar sou loop (einde van die seisoen dus einde Desember), moet die verbruik vir die vier maande tot einde April in elke geval geskat word om die risiko betreffen­de voorraad wanneer die beskikbare plaaslike voorraad op sy laagste is, vas te stel. In hierdie tydperk moet die skatting ook gedoen word vir die vroeë lewe­rings, aangesien dit wat tydens Maart en April gelewer word ook dien as bruikbare voorraad.

Ten slotte
Alhoewel die beginsel in die artikel hoofsaaklik oor mielies handel, is dit ook van toepas­sing op alle grane en oliesade, met die bemarkingseisoen wat eindig wanneer die plaaslike voorraad die laagste is. Dit maak die rapportering asook interpretasie van die syfers baie makliker as wanneer die afsluiting gedoen moet word in ’n tydperk met hoë voorraadvlakke. In die geval van mielies is daar wel die aspek van vroeë lewerings wat nie noodwendig by die ander gewasse ’n probleem is nie. Die lewerings wat tydens Maart en April plaasvind, sal egter altyd deel van die bereke­ning wees, ongeag die tydperk van rapportering.

Vrywaring
Sover moontlik is alles gedoen om die akkuraatheid van hierdie inligting te verseker. Graan SA aanvaar egter geen verantwoordelikheid vir enige skade of verliese wat gely word as gevolg van die gebruik van hierdie inligting nie.