“Buite die boks”-boerdery – ʼn menslike hulpbron-perspektief

1129

January 2018

DIRK COETZEE, arbeidsverhoudingspesialis, Noord-Vrystaat Bestuursdienste

Ek sit vandag en werk aan ‘n posontleding en posbeskrywing vir ‘n senior plaasbestuurder in die Bothaville-omgewing. Terwyl ek daaraan werk, wandel my gedagtes egter na verskeie ander besighede en bedrywe wat niks met landbou te make het nie. Ek wonder skielik oor wanneer hier­die denksprong van boerdery na besigheid gebeur het en wat die sneller daarvoor was.

Die antwoord vind ek in die ontleding van hierdie pos waarmee ek besig is. Die senior plaasbestuurder, en/of in die meeste gevalle die eienaar van die boerdery, se sleutelprestasie-aanwysers is só uiteenlopend soos tien ander poste in ‘n gewone maatskappy. Die produsent moet ‘n projekbestuurder, bedryfsingenieur, statistikus, grondkundige, bioloog, chemikus, Safex-handelaar, rekeningkundige, belastingkenner, finansiële bestuurder, menslike hulpbron-bestuurder, besturende direkteur, onderhandelaar, aankoper en bemarker wees.

Nou wonder ek verder oor hoe ek die tydsverdeling van al hierdie sleutelprestasie-aanwysers in ‘n geskrewe dokument gaan vervat – vir een persoon se pos. Daar gaan mos nie soveel ure in sy maand wees om effektief al hierdie funksies te verrig nie en dan moet daar darem ook aan hom ‘n tydjie gelaat word om sy familiever­pligtinge na te kom.

Die besef openbaar homself skielik aan my dat ek nie die enigste persoon is wat hieroor wonder nie en dat die produsente al reeds uiters strategies en met verbasende toekomsvisie hierdie kwessie aangespreek het. Produsente in ons omgewing het alreeds verskeie interessante planne bedink. Daar is verskeie megalandboumaatskappye geskep – met aandeelhouding deur verskeie bestaande produsente.

Sodoende word die aan­wending van hulpbronne, menslik en andersins, gemaksimaliseer, omdat groter gedeeltes grond met dieselfde hulpbronne bewerk kan word. Dit stel produsente verder bloot aan ‘n groter put van kennis, wat genader kan word wanneer be­sluite geneem moet word – om te verseker dat alle relevante inligting in ag geneem word.

Hierdie praktyk skep ver­skeie vlakke van bestuur, aan wie verantwoordelikhede opgelê kan word en vir wie die aandeelhouers verantwoordbaar kan hou.

Ons maak ook toenemend kennis met totale boerdery-oplossings, waar bestaande landboubesighede produsente wat daarin belangstel, bystaan en verskeie produksie- en administratiewe funksies oorneem in ruil vir ‘n persentasie van die opbrengs en winste.

Hierdie praktyk het weer eens ten doel om hulpbronne maksimaal te benut en om produsente in kontak te bring met kenners in die sleutelprestasie-areas soos hierbo genoem, sonder om ‘n permanente salarislas op die besigheid te plaas.

Soos jy seker van beide hierdie bogenoemde modelle kan aflei, word hulpbronne meer effektief gebruik, wat tot gevolg het dat minder trekkers, planters en personeel benodig word. Dit het by implikasie die gevolg dat minder personeel benodig word, wat weer eens bydra tot werkloosheid in ‘n gebied en daarmee saam ook verskeie sosio-ekonomiese probleme.

Vanuit ‘n menslike hulpbron-perspektief moet ek dus vra: Is ar­beidsverhoudinge ‘n stelsel en/of is dit net die bestuur van komplekse verhoudings? Moet ons vanuit ‘n menslike hulpbron-perspektief stelsels ontwikkel wat bloot ons behoefte (om die hoeveelheid hulpbronne benodig, te verminder) aanspreek en/of moet ons eerder ons eie hulpbronne só ontwikkel dat dit daardie behoeftes aanspreek?

Onwillekeurig spring my gedagtes weer na ander onverwante besighede en besef ek dat boerdery ook tog só ‘n besigheid is waar dieselfde en/of soortgelyke bestuurspraktyke toegepas moet word, met verskillende posvlakke en verantwoordelike persone wat omsien na die uitvoer van hul verantwoordelikhede. ‘n Kleinerige boerdery se omset is soortgelyk aan groot besighede se omset. Waarom word boerderye dan in die meeste gevalle nie soos ‘n besigheid bestuur nie?

As ek die vraag aan die meeste van my boerderykliënte vra, gaan hul vir my sê: “Onthou ek boer met my hart, ek wil sien as my skape lam en my beeste kalf, ek wil sien as die koring spruit en die sonneblomme geel in die blom staan; ek wil boer en nie bloot die prosesse bestuur nie. Boerdery is tog ‘n roeping, ‘n leefwyse – my nalatenskap aan my kinders.”

Wanneer ek daardie antwoord kry, kry ek gewoonlik ‘n traan in my oog, want ek stem daarmee volkome saam. Boerdery bly egter ‘n riskante, kapitaalintensiewe en arbeidsintensiewe besigheid wat bestuur moet word.

Met die regte bestuursposte en -praktyke in plek, kan die daaglikse risiko wat produsente trotseer, vroegtydig aangespreek en verskans word. Met die regte bestuursposte en -praktyke in plek, sal die produsent meer tyd hê om te boer, met die wete dat iemand die risiko’s sal raaksien, rapporteer en verskans.

Hoe bekom ons egter die vaardighede wat benodig word om dít in ons boerdery reg te kry?

Ons verseker hierdie vaardighede in ons boerderye deur die regte persoon met die regte vaardighede aan te stel. Ons kan dit egter net doen as ons weet wat die pos wat die persoon moet beklee, behels en watter spesifieke vaardighede hy daarvoor benodig.

Maak dus seker dat elke pos ‘n volledige posbeskrywing en posontleding het, sodat die regte persone aangestel kan word. Wanneer iemand geïdentifiseer word, wil ek werklik elke werkgewer aanraai om die aansoeker se verwysings deeglik na te gaan alvorens ‘n aanstelling gemaak word.

Indien daar periodes op ‘n CV ontbreek, doen deeglik navraag oor daardie periodes. Jy sal nie kan raai hoe dikwels ek persone wat by ‘n werkgewer afgedank is, weer by ‘n volgende werkgewer vind nie.

Indien daar nie iemand met die nodige kennis en vaardighede aangestel word nie, kan daar sekerlik nie van die administratiewe beampte en of voorman verwag word om al die nodige kennis te hê nie. Daarom moet ons ook die nodige opleiding en bystand verskaf.

Hierdie opleiding en bystand is ‘n werklike behoefte, wat al vir ‘n geruime tyd deur die AGRISETA aangespreek word. Produsente het die voorreg om ‘n sektorale opleidingsoutoriteit te hê wat effektief funksioneer en meeste van die opleiding benodig, op aan­soek kan befonds.

Wanneer ‘n produsent sy eie mense oplei en aanwend om hom by te staan, word die werksplek ‘n stelsel waarbinne komplekse verhoudings maklik en effektief hanteer kan word.

In kort: Jou boerdery is jou besigheid en dit is somtyds nodig om uit die boks te dink om daardie legkaart wat jou suksesverhaal vertel, te bou.

Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om elke produsent te bedank vir die voorreg wat ek het om daagliks te kan sien hoe lief hy/sy die grond en boerderybesigheid het, om in bitter moeilike omstandighede steeds die veraf reënwolke te sien wat sy/haar grond met genadewater besprinkel.

Indien jy enige advies rakende hierdie aangeleentheid of enige ander arbeidsverhoudinge- of menslike hulpbron-kwessies benodig, kan jy Dirk Coetzee (wat op Bothaville gesetel is) by 082 443 0296 of 056 515 2001 skakel.
Publication: January 2018

Section: Relevant