Stropers en modder is nie maats nie

Gepubliseer: 11 Augustus 2021

1287
Jan Labuschagne, produsent, Oos-Vrystaat
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Stropers word nie ontwerp om in modder te werk nie en is geneig om vas te sit. Indien ’n stroper nie korrek uit die modder herwin word nie, is skade die produsent se voorland.

Die herwinning van ’n stroper uit modder begin met operateurs­opleiding. Die ideaal is dat die stroper in die eerste plek nie vassit nie. As die wiele begin tol (spin) en die stroper is in die moeilikheid, moet die operateur weet om eerder te stop en hulp te ontbied. Dit is nie wys om te probeer om die stroper self uit die modder te tol nie. Vorentoe en agtertoe help niks nie – dit laat die swaar werktuig net dieper wegsak. As die wiele net tol, is dit heelwat makliker om die stroper te herwin as wanneer die stroper tot by sy onderstel begrawe is.

Of die stroper net-net of behoorlik vassit – die herwinning daarvan is ’n proses wat reg hanteer moet word. Eerstens moet die emosies onder beheer gekry word – vloek, skel en beskuldig help niks nie. Hoe frustrerend dit ook al mag wees, die opsies moet rustig oorweeg word. Elke stroper se handleiding bevat ’n gedeelte oor hoe dit herwin moet word en waar om die kettings te haak. Dis belangrik dat die stroper op die regte plekke gehaak en getrek word en veiligheid moet te alle tye vooropgestel word.

Die modus operandi hang grootliks af van hoe en in watter mate die stroper vassit. Indien dit sleg vassit en tot by sy onderstel ingesak het, moet die aanhegpunte teen die onderstel gebruik word. Andersins kan die stroper aan sy gewone aanhaakpunte gehaak word.

Indien die stroper nie te erg vassit nie, haak die stroper aan hierdie haakpunt.

Toerusting
Kabels of kettings wat breek, kan iemand wat te naby is se dood veroorsaak. Wees dus bedag op veiligheid en weet wat die kabel of ketting se breekpunt is. Koop verkieslik ’n ketting of kabel wat in staat is om die stroper te herwin. Die trekkers en stropers van twintig jaar gelede was nie so swaar soos vandag se toerusting nie. Kettings wat toe gewerk het, sal nie noodwendig meer voldoende wees nie.

Die haakpunt aan die onderstel van die stroper.
As die stroper sleg vassit, haak dit aan al die haakpunte.
Koop verkieslik ’n ketting of kabel wat in staat is om die stroper te herwin.

Tegniek
Hoe die stroper getrek word, is deurslaggewend en ’n fout hier kan geld kos. Die trekker wat die stroper moet uittrek, moet sterk genoeg wees en aanvanklik eers geleidelik begin trek. As daar ’n geruk en gepluk is, gaan iets breek. Indien daar nie ’n baie groot en sterk trekker beskikbaar is nie, moet meer as een trekker ingespan word.

As daar meer as een trekker gebruik word om te trek, moet hulle verkieslik langs mekaar gehaak word en gelyk begin trek. Verkieslik moet die stroper ook ’n bietjie skuins – maar nie te veel nie – getrek word.

Die stroper moet in die regte rat wees om sodoende te help met die herwinningsproses. As die stroper agteruit getrek word, moet dit in trurat wees. Alhoewel dit dalk vanselfsprekend klink, gebeur dit wel dat stropers in die verkeerde rat uitgetrek word, met gevolglike skade. Dit is ’n vereiste dat die trekker of trekkers en die stroper gelyktydig begin trek en dus uiters belangrik dat hierdie proses gekoördineer word. Dit kan geskied deur middel van radio’s of ’n ekstra persoon wat seker maak dat alles gelyk gebeur. Bespreek ook voor die tyd wat gedoen moet word sodra die stroper uitgetrek is – pasop dat die stroper nie dalk met die trekkers bots nie.

Hou verder ’n oog op die stropertafel. Dit kan gebeur dat die stropertafel afhaak, wat verdere skade kan veroorsaak. Haak dalk eerder die tafel af en herwin dit later.

Klik op die QR-kode vir ’n kort video waar ’n werktuig uitgesleep word.

Nasorg
Nadat die stroper herwin is, moet dit noukeurig nagegaan word. Maak seker dat die modder nie werkende dele beskadig het of bewegende dele vashou nie. Let veral op die dele aan die onderkant van die stroper. Gebuigde dele moet eers reggemaak word, anders kan dit lei tot groter skade.

Dit is belangrik om weer daarop te wys dat die operateur moet stop wanneer daar probleme is – om aan te karring veroorsaak net meer moeilikheid.

Kontak vir Jan Labuschagne by 083 284 9124, Pietman Botha by 082 759 2991 of jou stroperfabrikaat se tegniese adviseur vir meer inligting.