Hoe om ’n SPILPUNT-SPUITPAKKET te kies

Gepubliseer: 1 Oktober 2026

77
Theuns Dreyer, bes-turende direkteur,
Senter 360 Technologies

Daar is internasionaal drie hoofstroomvervaardigers van spilpuntspuite, naamlik Nelson, Senninger en Komet. Elke vervaardiger bied ’n verskeidenheid spuit­tipes wat wissel van statiese spuite tot spuite met roterende sproeiplate asook spuite met vrybewe­gende sproeiplate.

Verstaan eers die verskillende tipes spuite
Onder die statiese spuite is daar beter en swakker pre­steerders, maar uiteindelik gaan dit oor die vermoë van die vervaardiger om die waterdruppels in die ideale grootte op te breek. ’n Druppel wat te grof is, het min­der verdamping, maar slaan die grond vas. ’n Druppel wat te fyn is, kan deur die wind weggewaai word en verdamping en waterverliese word ’n groot faktor.

As gevolg van inherente ontwerpbeperkings kan statiese spuite nie ’n konstante druppelgrootte bereik nie. Hulle bestaan altyd uit ’n reeks fyner en growwer druppels. Die ideale druppelgrootte lê tussen hierdie twee uiterstes.

Daar was oor die jare heelwat verbetering en innovering in die ontwerp van statiese spuite. Om egter al die druppelgroottes binne die ideale band te kry, bly ’n onmoontlike taak vir ’n statiese spuit. Praktiese toet­se het getoon dat swakker presterende statiese spuite verliese van tot 43% kan hê, terwyl beter statiese spuite ongeveer verliese van 25% getoon het.

As gevolg van die hoër toedieningstempo’s wat veroorsaak word deur die kleiner bandwydte van mo­derne laedruk- statiese spuite, is spuite met draaiende sproeiplate ontwikkel. Die doel was om meer bandwydte teen dieselfde lae druk te verkry en sodoende die toedieningstempo te verlaag vir beter infiltrasie, veral aan die buiterand van die spilpunt.

Hierdie ontwikkeling het egter nog nie die onoorkomelike pro­bleem van variërende druppelgroottes en onegalige verspreiding onder die deursnee van die spuit opgelos nie. Dit het oor die jare gelei tot die ontwikkeling van spuite met ’n vrybewegende sproeiplaat.

Foto: Vida van Schalkwyk

Senninger I-Wob
Senninger het etlike jare gelede met ’n deurbraakproduk vorendag gekom. Die I-Wob-spuit gebruik die vrye beweging (wobble) van die verspreidingsplaatjie om die druppels in verstommend konstante druppel­groottes te verdeel. Sodoende word die twee teen-
oor­gestelde probleme van verdamping en grondkompaksie albei aangepak.

Die beweging projekteer die druppels ook verder, wat die infiltrasie- en afloopprobleme van groot spilpunte aan die buiterand van die sirkel beduidend verbeter. ’n Ander groot bydraende faktor is dat die beweging ’n egalige druppelverspreiding onder die spuit­deursnee moontlik maak, wat ook een van die groot beperkings van statiese spuite is.

Hierdie voordele was revolusionêr! Die ideale werksdruk van hierdie spuite is 1 bar (15 psi), maar hulle kan ook teen 0,69 bar (10 psi) funksioneer met ’n effens groter druppel waar gewasse en grond dit toelaat.

Die inherente nadeel van die spuitontwerp is dat soos wat slytasie oor die jare intree, word die spoed van die plaatjie geleidelik verhoog. Dit veroorsaak dat die druppel-
grootte verklein en verdamping proporsioneel oor die jare verhoog. Die verskaffer het egter mettertyd hierdie probleem aangepak en verbeter.

Komet Precision Twister
’n Volgende deurbraak was die bekendstelling van die Komet Precision Twister. Dit funksioneer volgens soortgelyke beginsels as die Senninger I-Wob, maar deur gebruik te maak van ’n ander bewegings- en spoedbeheermega­nisme kon die vervaardiger beter beheer oor langtermyn-draaispoedkonstantheid en dus druppelgrootte bereik.

Hierdie spuite se ideale werksdruk is 0,69 bar (10 psi), met 0,41 bar (6 psi) ook beskik-
baar. Laasgenoemde lewer ’n effens groter druppel waar gewasse en grond dit toelaat en die druppelgrootte is vergelykbaar met die I-Wob se 10 psi-spuit.

Wat beteken dit alles in die praktyk?
Senter360 was oor die laaste paar jaar betrokke by verskeie vergelykende toetse van verskillende pakkette en watertoedie­ningsmetodes vir spilpunte om die beste aan hul kliënte te bied. Die maatskappy volg ’n beleid om net “die beste spuite wat geld kan koop” as standaardtoerusting op hul spilpunte te gebruik.

Weens die uitsonderlike aard van die spilpunt, is dit vir hulle ’n saak van erns om op hoogte te bly van tegnologiese ontwikkeling, maar ook om vir kliënte die beste moont-
like resultaat te verseker.

Om al die water wat gepomp word so effektief as moontlik in die grond te kry, sonder verliese deur afloop of verdamping, is waaroor dit gaan.

Minder afloop en beter onmiddellike infiltrasie voorkom ook die konsentrasie van water in wielspore. Dit is die eerste vlak van oplos­sing vir hierdie bekende spilpuntprobleem, veral op swaarder gronde.

Wat hierbo beskryf is, vloei voort uit die magdom toetse en ondersoeke waarby Senter360 oor die jare betrokke was.

Hoe is die toetse gedoen?
Die meeste van die toetse is gedurende Augustus tot Oktober gedoen. Dit is in hul om-
gewing die tyd van die jaar wanneer dit uiters droog is aan die einde van die winter, temperature dikwels goed bo 30° C en met die wind wat waai. Die spuite was almal op ’n standaardhoogte van 2,3 m bo die grond.

Hierdie toetse is nie aangepak met die doel om ’n akademiese publikasie daar te stel nie, maar vir interne doeleindes om spilpuntspuite en waterverspreidingsprodukte vir spilpunte wat in die mark beskikbaar is, só te evalueer dat die produkte met die beste kombinasie van eienskappe vir kliënte aanbeveel kan word.

Die uitsluitlike doel hiervan is om die water so effektief moontlik, met die minste ver-
liese en teen die laagste koste, in die grootste verskeidenheid gronde te kry. Grondtipe speel ook ’n rol.

Die foto toon duidelik die uitstekende waterververspreiding en druppelgroottebeheer van ’n hoëkwaliteit- vrybewegende spilpunt-sproeiplaatspuit.

Senter360 se ervaring
Wat word gemeet? Die water wat deur die spilpunt gepomp word, uitgedruk as milli-
meter wat neergesit word, teenoor die millimeters wat in die grond gemeet word met ’n neutronvogmeter deur ’n professionele skeduleerder.

Toetsresultate was soos volg:

  1. Die swakste statiese spuite, met nuwe spuite wat op hangpype gemonteer is en wat oorheersend fyner druppels gelewer het, het verliese van 43% gehad.
  2. Die beste statiese spuite, met oorheersend growwer druppels, het verliese van ongeveer 25% gehad.
  3. Nuwe I-Wob-spuite met 15 psi-reguleerders het ongeveer 95% of meer van die water in die grond gekry.
  4. Ouer I-Wob-spuite het tot ongeveer 80% water in die grond gelewer. By spuite wat erge slytasie het en dus oor hulle aanvaarbare leeftyd is, was die effektiwiteit selfs laer.
  5. Nuwe Komet Precision Twister-spuite met 10 psi-reguleerders het effektiwiteit van tussen 95% en 97% gelewer.
  6. Nuwe Komet Precision Twister-spuite met 6 psi-reguleerders het tussen 99% en 100% van die water wat gepomp is, in die grond gelewer. Wanneer die gewasse groter word, absorbeer die gewasse deur hul blare ’n deel van die water voordat dit die grond bereik. Dit is geverifieer deur reënmeters gelyk met die dak van die gewas te plaas.
  7. Toetse met Dragon Line, wat ook ’n tipe LEPA-stelsel (low energy precision application) is wat drupperpyp sleep, was soortgelyk aan die 6 psi-Komet Twister as dit kom by effektiwiteit. Waar die spasiëring nie baie naby was nie, was die verspreiding streperig. Die energiekoste is dieselfde as dié van die 6 psi-Komet Twister, wat die laagste drukreguleerder beskikbaar gebruik. Die aankoopkoste en instandhouding van hierdie stelsels is egter hoog. Die water moet ook voor gebruik gefiltreer word. Dit verhoog nie net die koste nie, maar as gevolg van filterinlaatdrukke en -verliese word die laedrukvoordeel verloor.
  8. Tradisionele LEPA-stelsels, waar die gewas in rye in die rondte geplant word, werk goed. Sommige werk op 10 psi en ander op 6 psi. Sommige bestaan uit horisontale straalspuite wat so laag as 300 mm van die grond af loop en onder die gewas inspuit waar gewasse in rye in die rondte geplant is.
  9. Die tweede tradisionele LEPA-stelsel maak gebruik van bubblers of “kouse” as verspreider. Laasgenoemde sleep op die grond tussen die gewasse wat in rye geplant word. Dikwels word “bakkies” met implemente in die rye gemaak om die water op te vang sodat dit nie wegloop nie. Dit is eintlik ’n beheerde vloedbesproeiingstelsel. Die effektiwiteit van die stelsel is wel hoog.
  10. Die alternatiewe LEPA-stelsel waar daar nie in rye in die rondte geplant word nie en die spuite net bo die gewas gebruik word, is effens minder effektief. Verliese as gevolg van swak of te fyn druppels word beheer deur die spuite laag bo die gewas te installeer en naby mekaar te spasieer. Grondseëling en afloop as gevolg van hoë toedieningstempo’s is egter ’n probleem, veral wanneer die grond nog nie bedek is nie. Dit is ook die rede waarom die spuite op booms geplaas word, met dubbelrye spui­te wat weerskante van die struktuur hang.

Die doel is om die bandwydte te vergroot en sodoende die hoë toedieningstempo te probeer verlaag. Dit alles maak dit ’n duur opsie. Alhoewel dit heelwat beter is as die statiese spuite wat in punte 1 en 2 genoem word en wat hoog bo die gewas hang, kom dit glad nie by die holistiese prestasie of prys van die I-Wob- of Komet Precision Twister-spuite nie. Hierdie oplossing word ook dikwels met grondseëling, afloop en meer water in die wielspore geassosieer, met die gepaardgaande probleme wat daaruit voortspruit.

Samevatting
LEPA-stelsels het ’n plek waar gewasse in rye in die rondte geplant word, veral by gewasse waar die hele oppervlakte nie benat hoef te word nie as gevolg van wyer ryspasiërings. Wanneer minder van die oppervlakte benat word deur verder ryspa-
siëring, word water bespaar. Dit geld ook vir LEPA-drupperstelsels.

Daar is geen ander produk wat hierdie nis kan vul nie, maar dit geld slegs vir gewasse wat in die rondte in rye geplant word.

Indien LEPA-drupstelsels op voloppervlakgewasse soos lusern gebruik word, is naby spasiëring noodsaaklik om nat en droë kringe te vermy. Dit maak die reeds duur stelsel nog duurder.

As een spuit uit al die spilpunt-watertoedieningsmetodes wat getoets is, uitgesonder moet word, is die Komet Precision Twister een­voudig die beste wat geld kan koop vir die meeste aanwendings.

As fyn gewasse soos wortelsaad geplant word, is die 10 psi-pak­ket en selfs die 15 psi meer verkieslik as die 6 psi.

Met gewasse soos mielies, koring, lusern en aartappels, is die Komet Precision Twister met 6 psi-regulering eenvoudig die beste produk vir die doel.

Met swaarder gronde is 10 psi egter ’n beter keuse en vind Senter360 dit oor die alge-
meen as die beter holistiese keuse.

Met ’n laer gewas soos lusern kan die hangpype verleng word sodat die spuit 2 m van die kaal grondoppervlak is. Moet egter nie in die versoeking kom om die spuite laer te hang nie. Dit kan die verspreiding en egaligheid van die water negatief beïnvloed sonder enige ander voordeel.

Toetse met effektiwiteit tussen 99% en 100% is gedoen op spuite wat 2,3 m van die grond af gehang het, in warm, winderige en droë toestande.

Ten spyte van hierdie uitslag is daar uitsonderings en is daar gewasse, gronde, water-
tipes en omstandighede waar ’n ander produk beter kan werk. Die I-Wob bly ’n gewilde keuse in sekere toestande. Kontak gerus Senter360 se kundiges hieroor.

Koste
Met spuite op standaardhoogte en -spasiëring is die goedkoopste spuite die statiese spilpuntspuite. Die duurste spuite is die bewe­gende spuite, maar albei is goedkoper as enige van die onderstaande stelsels.

Tradisionele LEPA-stelsels met spuite of bubblers is heelwat duur­der as gevolg van die naby spasiëring van die spuite. Dit kan ten minste dubbel die hoeveelheid hangpype vereis, indien nie drie keer soveel nie.

Die alternatiewe LEPA-stelsels gebruik goedkoop spuite, maar is duur as gevolg van die vereiste naby spasiëring en dikwels ook dubbelrye op groter spilpunte om die toedieningstempo te beheer.

LEPA-drupstelsels is die duurste van al die stelsels en ook die duur­ste om in stand te hou. Gereelde vervangings is deel van die koste. Die hele spilpunt se water moet ook deur duur filters gefiltreer word voordat dit in die spilpunt ingaan om die druppers in die pype te beskerm. Dit is noodsaaklik indien die water nie skoon boorgatwater is nie.

Energieverbruik
Die laer-energie-LEPA-stelsels (6 psi) en Komet Twister-pakkette op 6 psi (4,2 m) gebruik presies dieselfde energie. LEPA-drupstelsels se energieverbruik met filters is hoër as dié van die bogenoemde twee stelsels as gevolg van onvermydelike filterverliese.

Dit is dus ooglopend dat die 6 psi-Komet Twister die beste kombinasie bied van uitson-
derlik hoë effektiwiteit, die laagste moontlike energieverbruik, die beste lewensduur en die laagste instandhou­ding. Dit benodig gewoonlik ook geen filtrasie nie.

Die 10 psi-weergawe staan byna niks terug vir die 6 psi nie, maar met die minder grow-
we druppel is dit die beter keuse op fyn gewasse en ook op swaarder gronde met ’n infiltrasierisiko.