December 2017

LIANA STROEBEL, ontwikkelingskoördineerder, Graan SA

Graan SA se Wes-Kaapse Landbou-ontwikkelingsafdeling het op 16 Augustus en 4 September onderskeidelik twee suksesvolle boeredae by Langgewens Proefplaas en AB In­Bev (voorheen SAB) op Caledon aangebied.
Die opkoms van Wes- en Suid-Kaapse nuwe era-boere, mentors asook plaaslike insetverskaffers en rolspelers was bevredigend. Die onderwerpe wat tydens hierdie dae behandel is, het gefokus op spesifieke inligtingsbehoeftes wat gedurende die jaar deur die boere geïdentifiseer is. Die onderwerpe het onder meer Graan SA se werksaamhede en ondersteuning aan nuwe era-boere, chemiese weerstand op plase, die balans tussen graan- en veevertakkings, asook die doelwit en prosesse van ontwikkelingsbefondsing ingesluit.

Hierdie waardevolle inligting is in die Swartland deur mnre Koos Blanckenberg (Graan SA), Attie Haasbroek (Omnia), Philip de Waal (Locheim Boerdery) en me Rose Horne (Wes-Kaapse Departement van Landbou) aangebied. Die dag is afgesluit met die besigtiging van proewe onder leiding van dr Johann Strauss (Wes-Kaapse Departement van Landbou).

Met die Caledon-boeredag is mnre Toit Wessels (Graan SA), Schalk Viljoen (produsent), Jannie Bruwer (Bayer) en Jerry Aries (Wes-Kaapse Departement van Landbou) as sprekers verwelkom, met ‘n proefbesoek onder leiding van mnr Frikkie Lubbe (AB InBev).


Publication: December 2017

Section: Grain SA