December 2017

LIANA STROEBEL, ontwikkelingskoördineerder, Graan SA

Die Graan SA Landbou-ontwikkelingsprogram het gedurende September vanjaar ‘n plaastoer vir 24 nuwe era-graanboere aangebied. Hierdie boere het bestaan uit klein en groter, asook nuwe- en gevorderde graanboere in die Wes-Kaap wat hoofsaaklik gemengde boerderye het.

Die doel van die inisiatief is om boere blootstelling te gee aan kommersiële praktyke wat deur produsente ingespan word, om onder meer doeltreffendheid en winsgewendheid te verhoog.

Hierdie jaar se plaasbesoeke het hoofsaaklik gefokus op medium­grootte kommersiële produsente waarby nuwe era-boere aanklank kon vind. Onderwerpe wat bespreek is en inligting wat tydens die besoeke oorgedra is, het hoofsaaklik gefokus op hoe die spesifieke produsente begin boer het, wat hul huidige uitdagings is, hoe hul die somme laat klop, die balans tussen hul graan- en veevertakking, rekordhouding en algemene areaspesifieke bestuurspraktyke.

Die inligting en beginsels wat tydens hierdie besoeke oorgedra is, is van onskatbare waarde. Ons wil hiermee graag die Wintergraantrust, wat hierdie toer moontlik gemaak het, hartlik bedank vir hul ondersteuning van hierdie inisiatief.

Ons wil ook elke produsent en rolspeler wat hul deure vir ons oop­gemaak het, bedank vir hul bereidwilligheid om hul kennis en ondervinding sonder skroom met ons toergroep te deel. Ons glo dat nuwe kontakte, bande en vriendskappe gevorm is en dat almal wat die toer bygewoon het, nuwe beginsels en praktyke saam met hulle terug plaas toe kan neem om die doeltreffendheid en lewensvatbaarheid van hul graan- en veeboerderye te verhoog.

Publication: December 2017

Section: Grain SA