September 2017

LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom, Graan SA

Die seisoen, wat gekenmerk is deur uitnemende produksiesyfers en verskeie somergraanrekords wat gespat het, staan einde se kant toe. Dit raak alweer tyd vir produsente om te begin beplan vir die nuwe seisoen – met verskeie uitdagings wat die produsente steeds in die gesig staar.

Uitdagings vir die nuwe seisoen is geleë in die pryse en winsge­wendheid wat daarmee gepaardgaan. Die pryse is steeds onder druk en produsente sal in die komende seisoen deeglike beplanning moet doen om risiko te beperk deur van die verskeie alternatiewe wat beskikbaar is, gebruik te maak. Hierdie seisoen sal dit onder andere belangrik wees om die bemarking van produkte in bereke­ning te bring. Produsente moet derhalwe van geleenthede gebruik maak indien die mark dit bied.

Hoe lyk die markte?
Mielies, sojabone en sonneblomsaad is die vernaamste somergewasse wat in Suid-Afrika geproduseer word. Dit is daarom vir produsente belangrik om die markomstandighede vir hierdie gewasse in ag te neem wanneer daar besluite rakende gewasbeplanning vir die nuwe seisoen geneem word.

Die vraag onstaan al hoe meer by produsente met betrekking tot wat in die komende seisoen geplant kan word ten einde risiko te beperk en meer winsgewend te wees – gegewe die uitdagende situasie wat die heersende mielieprys betref.

Produsente oorweeg ook in heelwat gevalle om oor te beweeg na ander gewasse, soos byvoorbeeld sorghum en grondbone omdat dit tans, in terme van pryse, meer aanloklik lyk as mielies. Die een ding wat vir produsente belangrik is om in ag te neem wanneer hierdie tipe van gewasse oorweeg word, is die feit dat hierdie gewasse ‘n betreklik meer beperkte mark in Suid-Afrika het en daar derhalwe makliker ‘n oorproduksie van hierdie gewasse kan wees – wat rampspoedig vir die pryse en winsgewendheid daarvan sal wees.

Bemarking is weer aan die orde van die dag en produsente moet ook wanneer gewasse soos sorghum en grondbone geplant word, voorseisoenkontrakte oorweeg – eerder as om net te plant en tydens strooptyd te verkoop.

Wanneer die ander gewasse bestudeer word (mielies, sojabone en sonneblom), is dit duidelik dat daar in die internasionale arena groot voorraadvlakke van mielies en sojabone is en dat hierdie gewasse se pryse internasionaal redelik onder druk is. Die verwagting is dat dit redelik onder druk behoort te bly met die Amerikaanse strooptyd wat eersdaags ‘n aanvang neem.

Die wêreldmielie-eindvoorraad word volgens die nuutste Amerikaanse Departement van Landbou (USDA) se wêreldvraag-en-aanbodsyfers vir die 2017/2018-seisoen op 200,87 miljoen ton geskat – wat ongeveer 55% van ‘n gemiddelde Amerikaanse oes is.

Amerika is die grootste mielieprodusent in die internasionale arena. Die wêreldsojabooneindvoorraad word ook op 97,78 miljoen ton geskat – wat aansienlik hoër is as wat die verwagtinge in die mark was.

Die Amerikaanse produksie vir die 2017/2018-seisoen word deur USDA op ‘n nuwe rekordvlak van 119,2 miljoen ton geskat. Wat die internasionale konteks vir sonneblomsaad betref, is die verwagtinge dat die seisoen se produksie nie weer so hoog soos verlede jaar se produksie behoort te wees nie en dat die voorraad van son­neblomolie en mieliemeel internasionaal meer skraps behoort te wees as verlede seisoen.

Plaaslik het nuwe rekords vanjaar gespat wat beide mielie- sowel as sojaboonproduksie betref. Mielieproduksie word volgens die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se sesde produksieskatting op 15,97 miljoen ton geskat, terwyl die sojaboonproduksie in dieselfde skatting op 1,34 miljoen ton gelaat was.

Dit verteenwoordig groot voorraadvlakke vir hierdie gewasse en die grootste fokuspunt vir mielies is die tempo van uitvoere, terwyl dié van sojabone op die tempo van verwerking fokus. Die sonneblomproduksie van die afgelope twee seisoene was ook redelik guns­tig en SAGIS rapporteer aansienlik meer voorrade jaar tot datum.

Winsgewendheid
Winsgewendheid is vir produsente ‘n belangrike oorweging wanneer hul met gewasbeplanning begin. Dit is belangrik dat produsente – veral in ‘n jaar soos vanjaar – goed vertroud moet wees met die koste van produksie vir die verskillende gewasse sodat hulle die berekeninge kan maak om vas te stel presies waar die gelykbreekpunt van elke bedryfstak is.

Deur dít vas te stel, sal dit die produsent se besluit in terme van gewasbeplanning, asook moontlike bemarking, vergemaklik. Tabel 1 toon die gemiddelde prysverhouding om gelyk te breek tussen sojabone en sonneblomsaad vergeleke met mielies. Dit is bereken deur gebruik te maak van die gemiddelde produksiebegrotings van die verskillende streke in Suid-Afrika en weerspieël die gemiddelde gelykbreekprysverhoudings van hierdie gewasse.

Die prysverhoudings tussen die kommoditeite toon dat die pryse van oliesade ten minste ongeveer 1,8 keer hoër as die mielieprys moet wees om teen gemiddelde opbrengste vir die gewasse gelyk te breek. Die prysverhoudings verskil van streek tot streek, asook van plaas tot plaas, soos die kostes en die opbrengste verskil en daarom is bloot ‘n gemiddeld in hierdie berekenings gebruik. Die gemiddeld is egter steeds ‘n goeie riglyn.

Grafiek 1 en Grafiek 2 toon die prysverhoudings tussen die sojaboon en sonneblom Mei 2018-kontrak teenoor die wit- en geelmielie ulie 2018-leweringskontrak. Uit hierdie grafieke is dit duidelik dat die prysverhoudings tussen hierdie gewasse vir die volgende seisoen positief is – met die huidige verhoudings wat gemiddeld ongeveer 2,3 vir witmielies gemeet teen beide sojabone en sonneblomme beloop, terwyl die sojaboon-en sonneblom-geelmielieverhouding ongeveer 2,4 beloop.

Bemarking
Die bemarking van grane is een aspek wat produsente in hierdie komende seisoen nie moet geringskat nie. Deurlopende bemarking en verskansing van grane gaan ‘n kardinale rol in die winsgewendheid van elke bedryfstak speel.

Produsente gaan eenvoudige bemarkings- en verskansingsplanne moet oorweeg, waar inkomste per hektaar eerder as prys per ton die bepalende faktor moet wees. Goeie kennis en vertroudheid met die plaas se kostes en die gelykbreekpunte van die verskillende bedryfstakke sal die produsent in staat stel om beter bemarkingsbesluite vir die komende seisoen te neem en produsente moet daarom die geleenthede in die mark benut sou hulle voorkom.

Groot voorrade van die verskillende gewasse kan die mark redelik sterk onder druk hou en produsente moet primêr daarop fokus om sover moontlik hul produksiekoste te dek.

Ten slotte
Dit is welbekend dat die komende seisoen uitdagings vir produsente gaan inhou – met pryse wat onder druk is as gevolg van die groot oeste wat hierdie jaar gesien is. Daarom is dit vir produsente be­langrik om in hierdie komende seisoen deeglike risikobestuur toe te pas – veral wat faktore soos prysrisiko, wat wel tot ‘n mate bestuur kan word, betref.

Die prysrisiko kan tot ‘n groot mate deur produsente bestuur word deur gebruik te maak van verskeie alternatiewe soos verskansing en diversifikasie van gewasse. Dit is egter ook vir produsente belang­rik om alternatiewe te kies waarmee hulle deeglik vertroud is en wat behoorlik inpas by hul bestuurspraktyke en plaasstrukture.

Publication: September 2017

Section: On farm level