September 2017

ALZENA GOMES, skakelbeampte, Graan SA

Die 2017 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar het ons weer kruis en dwars deur die land geneem en die opwinding wat dié besoeke gepaard gaan, het nie teleurgestel nie. Die paneel van beoordelaars het ietwat later by die genomineerde graanprodusente besoek afgelê en het hierdie jaar op Bultfontein, Porterville en Delmas gaan draai.

Die 2017 toekenningsaand vind plaas op Vrydag, 13 Oktober. Die titel van Graanprodusent van die Jaar sal vir die 18de keer toegeken word aan dié mees effektiewe en doeltreffende Suid-Afrikaanse graanprodusent, wat bo en behalwe ‘n ware rolmodel in die gemeenskap te wees, ook die kuns bemeester het om voortdurend winsgewende en volhoubare graanproduksie te bevorder.

Sedert die daarstelling van dié gesogte toekenning, ontvang Graan SA steeds lof vir die wyse waarop produsente se uitkyk tydens die leersame nominasie- en beoordelingsproses verryk word.

Beoordeling behels ‘n besoek aan elke genomineerde produsent deur ‘n kundige paneel van beoordelaars, wat onder meer ‘n agronoom, ‘n landbou-ekonoom en ‘n grondkundige insluit, asook graanprodusente wat op Graan SA se Hoofbestuur dien.

Alhoewel van die finaliste diversifiseer, word klem gelê op effektiewe en doeltreffende verbouing van graan en word die primêre beoordeling uitsluitlik op graanproduksie gedoen. Produsente se doeltref­fendheid en effektiwiteit word gemeet aan verskeie kriteria, wat onder meer agronomie, hulpbron-, finansiële- en bemarkingsbestuur insluit. Verder word produksiepraktyke, plaag- en onkruidbeheer, meganisasie en arbeidsbestuur ook geëvalueer.

Ons bedank hiermee ook ons borge, Syngenta (die hoofborg) en Ford (die voertuigborg), wat bydra tot die sukses en voortbestaan van die gesogte toekenning en stel met trots ons 2017 finaliste aan jou voor.

 

Publication: September 2017

Section: Grain SA