August 2017

Dr Danie Beukes, onafhanklike grondkundige en Carel Koch, onafhanklike landboukundige

Die sandgronde van die Noordwes-Vrystaat het ontwikkel uit Eoliese moedermateriaal wat sowat 1,8 tot 5 miljoen jaar gelede in die Plioseentydperk afgesit is op ‘n paleo-oppervlak. Díé oppervlak het bestaan uit swak-gedreineerde, kleierige verweringsprodukte van doleriet, moddersteen, kalkreet en skalie.

Eoliese sande se kleurverandering van rooi na geelbruin dui op beperkte dreinering en die moontlike teenwoordigheid van vry-water (Harmse, 1963). Volgens Henning en Nel (1988) kom water-tafels algemeen op die sandgronde van die Noordwes-Vrystaat voor. Hierdie sandgronde is egter ook bekend vir hul inherente verdigtingsprobleem, lae organiese materiaal- en voedingstof inhoud, lae waterstoorvermoë, asook vatbaarheid vir winderosie.

Sedert die sewentigerjare het navorsing (Koch, 1974, Bennie et al. 1982, Mallett et al. 1985 en Bennie en Burger, 1988) spesifiek daarop gefokus om die verdigtingsprobleem op hierdie sandgronde te oorkom ten einde wortelontwikkeling en gevolglike beter groei en opbrengs van mielies te bevorder.

Die visie was dat diep bewerking die mieliewortels in staat sal stel om kapillêre water beter te benut en opbrengste te verhoog. Henning en Stofberg (1990) het gevind dat wortelontwikkeling en mielie-opbrengs met ‘n toename in bewerkingsdiepte tot 80 cm
in die teenwoordigheid van ‘n watertafel verhoog het.

Henning en Stofberg (1988) het ook gevind dat indien skeurploegbewerkings onder té nat toestande plaasvind, dit kan lei tot grondverdigting. In ‘n omvattende studie het Henning (1991) bevind dat vlak watertafels in hierdie sandgronde die voordelige effek van bewerking kan uitskakel.

Dit was veral die ernstige winderosie in tye toe daar nog gedis en daarna geploeg is wat produsente, met inagneming van bogemelde studies, genoop het om ‘n primêre skeurploegbewerking (rip-op-ry) gekombineer met veeldoelige sekondêre vlak bewerkingspraktyke te implementeer.

Die rip-op-rypraktyk het beheerde spoor­verkeer teweeggebring wat stoppel-bestuur baie verbeter het en winderosie verminder het. Hierdie bewerkingspraktyk, wat al sedert 1973 in die streek toegepas word, kan tereg beskou word as die begin van bewaringslandbou in die streek.

Dit moet bygevoeg word dat daar vanaf die 1980’s ‘n stelselmatige toename in werk-tuiggrootte en -massa was, sowel as hoër bewerkingspoed wat stoppels vernietig het en boonop verdigting en winderosie bevorder het.

Mielieprodusente in die Noordwes-Vrystaat wil ‘n holistiese benadering volg met die ontwikkeling van produksiestelsels waar aspekte van bewaringslandbou, soos geen- of verminderde bewerking (getoets teen rip-op-ry), wisselbou, die behoud van mieliereste, asook die bevordering van grondgesondheid, ingesluit word.

Die Sandgrondontwikkelingskomitee (SOK) is in 2010 gestig om bewerkingspraktyke te toets wat volhoubare en winsgewende mielieverbouing op semi-ariede sandgronde met vlak watertafels onder relatiewe lae en wisselvallige reënval sou verseker. Befondsing is deur die Mielietrust op ‘n jaarlikse basis vir die doel bewillig.

Sedert 2013/2014 het die ondersoeke spesifiek gefokus op produksiepraktyke wat biologiese, chemiese en fisiese grondeien-skappe sal verbeter ten einde grondgesondheid te bevorder vir ekologies-volhoubare mielieverbouing.

Drie produsentemedewerkers, naamlik mnre Danie Minnaar (Spring­boklaagte, Kroonstad), Lourens van der Linde (Klein Constantia, Wesselsbron) en Thabo van Zyl (Visagieskuil en Gerrie, Bothaville), het ingewillig om proewe uit te voer waar diep verminderde bewerking onder monokultuur-mielies.

Die proefbehandelings en resultate van die 2013/2014- tot 2015/2016-seisoene word in ‘n reeks van twee artikels bespreek.

Agronomiese praktyke op proewe
Tabel 1 bevat ‘n opsomming van agronomiese praktyke wat op die proewe gevolg is. Uit die tabel kan die twee bewerkingbehandelings soos volg saamgevat word:

  • Alle sekondêre bewerkings (rolmoer, V-lem of rolstaafskoffel) plus ‘n primêre diep (700 m- 750 mm) tandem-skeurploeg-bewerking (rip-op-ry, slegs tussenry-rip, rip-op-ry plus tussen-ry-rip).
  • Verminderde bewerking: Slegs sekondêre bewerkings (rolmoer, V-lem of rolstaafskoffel). Plant op vorige seisoen se mielierye. Geen skeurploegbewerking.

Verwysings
Bennie, ATP, Botha, FJP en Ferreira, AF. 1982. Die effek van verskillende metodes van diepbewerking op mieliegroeiCrop Production 11: 74 – 78.
Bennie, ATP en Burger, R du T. 1988. Penetration resistance of fine sandy apedal soils as affected by relative bulk density, water content and texture. SA Journal of Plant Soil 5: 5 – 10.
Harmse, HJ Von M. 1963. The sedimentary petrology of the aeolian sands in the North-Western Orange Free State. MSc Verhandeling, Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, Potchefstroom.
Henning, JAG en Nel, DJ. 1988. Watervlakke in sekere gronde van die noordwestelike Oranje-Vrystaat. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Plant en Grond 5: 107 – 109.​​​​​​​
Henning, JAG en Stoffberg, DJ. 1988. Invloed van skeurploegbewerking op verdigting van ‘n fynsandgrond in die noordwestelike Vrystaat. Toegepaste Plantwetenskap 2: 38 – 40.​​​​​​​
Henning, JAG en Stoffberg, DJ. 1990. Effek van bewerking op opbrengs en wortelontwikkeling van mielies in ‘n Bleeksandserie met ‘n watervlak. Applied Plant Science 4(1): 17 – 20.​​​​​​​
Henning, JAG. 1991. Die invloed van variërende vrywatervlakke in grond van die noordwestelike OVS op verbouing van gewasse (veral mielies). PhD Proefskrif, Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, Potchefstroom.
125 pp.
Koch, CD. 1974. Die invloed van sekere bewerkingsmetodes en bemestingplasing op die mielieopbrengs op Viljoenskroon en Bleeksandgrondseries. Crop Production 3: 57 – 59.
Mallet, JB, Koch, CD, Visser, PA en Botha, AJ. 1985. Tillage-related soil compaction and its effect upon maize grain yields on a Viljoenskroon fine sand. SA Journal of Plant and Soil 2(1): 52 – 56.

Publication: August 2017

Section: On farm level