March 2016

ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain

As ‘n mens na die tendens in die verdeling tussen wit- en geelmielies kyk, lê die vraag al meer aan die geel kant. Prys en opbrengs, veral in die weste, veroorsaak egter dat meer witmielies aldaar geplant word. Dit blyk dat produsente in die weste sê dat hulle wel meer geelmielies sal plant as die opbrengs van geelmielies onder droëlandtoestande by witmielies kan kers vashou. SA Graan/Grain het vir ons fokus op saad-bylaag by DuPont Pioneer, Monsanto en Pannar gaan aanklop om vir ons produsente ‘n blik op die geelmieliekultivars van die toekoms te gee.

Is julle geelkultivars vir die weste nog reg? Wat is die rede dat julle witmieliekultivars beter in die weste vaar?

DuPont Pioneer
– Rikus Schoeman, bemarkingsbestuurder: DuPont Pioneer

Pioneer-basters word hoofsaaklik in Suid-Afrika ontwikkel vir Suid-Afrikaanse omstandighede. Een suksesvolle kultivar verander die totale persepsie van die beskikbaarheid van mededingende opsies teenoor witmieliebasters. Voorbeelde van basters wat tans wyd aangeplant word, is P2432R en Phb 33H54BR. P2432R is onlangs vrygestel en is absoluut kompeterend met witbasters in die weste. Beide hierdie basters is uiters hitteverdraagsaam en gebruik minder vog om meer graan te produseer. Die praktyk van produsente om rywydtes in die afgelope sewe tot agt jaar nouer te maak, maak nou juis die deur oop vir die benutting van kiemplasma van verskeie droogtegeteisterde gebiede regoor die wêreld. Basters met ‘n volwassenheidsindeks van 128 is tradisioneel beskou as die beste groei seisoenlengte vir die weste. Korter groeiseisoenbasters wat steeds relatief meerkoppig is, word egter tans die kenmerk van Pioneer in die weste. Daardeur word beperkte vog gebalanseer met oorvloedige hitte-eenhede.

Monsanto
– Pieter Smit, produkbestuurder: Mielies, Monsanto SA

Tradisioneel was die weste hoofsaaklik ‘n witmielieproduksiegebied en sou tradisionele teelprogramme in die weste meer gefokus gewees het op witmieliekultivarontwikkeling. Produsente het ‘n persepsie dat witmieliekultivars ‘n hoër opbrengspo tensiaal as geelmieliekultivars in die weste het. Oor tyd is geelmielie kultivars egter ontwikkel wat in die weste net so goed en selfs beter as witmieliekultivars doen. Wat in gedagte gehou moet word, is dat alhoewel die opbrengspotensiaal opgesluit is in die genetika van ‘n kultivar, daardie opbrengspotensiaal slegs deur die regte bestuurspraktyke te volg (byvoorbeeld rywydte, plantestand en bemesting), ontsluit kan word. Dit wil daarom voorkom asof sommige geelmie liekultivars beter aangepas is vir die oostelike produksiegebied. Sou soortgelyke praktyke in die westelike gebied (volgens die gebied se opbrengspotensiaal) gevolg word, behoort die geelmieliekultivars uitstekend te doen.

Pannar
– AK Geldenhuys, produklandboukundige: Vrystaat en Noordwes Provinsie, Pannar

Vir baie jare was daar die persepsie dat geelmielies in die weste beter presteer as witmielies en dat hulle beter bestand is teen droogtes. Daar was sekerlik waarheid in die stellings, want dit was die ervaring van baie produsente. Daarom dat saadtelers daarop gefokus het om die gaping te verklein of selfs om te keer en hulle het ook daarin ge slaag. Die resultate van die LNR vir die afgelope aantal jare in die westelike produksiestreek toon dat witmielies gemiddeld beter presteer. Dit beteken egter nie dat geelmielies nie ‘n plek in die weste het nie. Onder besproeiing word geelmielies feitlik sonder uitsondering geplant bloot omdat witmielies in die toestande nog nie die geelmie lies se opbrengste kon troef nie. Die grootste dryfveer vir die plant van witmielies in die weste is prysgedrewe. Indien daar prysverskille voorkom, was die witmielieprys gewoonlik hoër. Meulenaars verkies ook die witmielies vanaf die weste vir die beter kwaliteit as gevolg van die stadiger rypwording en dus beter graankwaliteit. Indien die markneiging verander en daar ‘n behoef te ontstaan vir die produksie van geelmielies in die weste, is daar geen rede waarom produsente nie geelmielies kan plant nie. Daar is op hierdie stadium verwerkers van geelmielies wat produsente wat naby aan die aanlegte geleë is, kontrakteer om geelmielies te plant en daardie produsente is baie tevrede.

Wat is nuut in die pyplyn – nuwe geelmieliekultivars wat binne die volgende vyf jaar vir die westelike droëlandgebiede vrygestel gaan word?

DuPont Pioneer
Die Pioneer-pyplyn is vol nuwe kandidate. Etlike basters in ‘n finale toetsstadium behoort die mark van volgende jaar af heeltemal te verander. Die geelbasters van die volgende vyf jaar gaan anders begin lyk – net soos wat die geval was vir die oostelike produksiegebiede in Suid-Afrika. Met die klem op effektiewe vogbenutting, aanpasbaarheid en hitteverdraagsaamheid reeds in ons teelprogramme ingewerk, kan verwag word dat nuwe kultivars gaan voortbou op die sukses van kultivars soos P2432R. Die verhouding van kilogram graan geproduseer per mm water gebruik, is een van die sterkste eienskappe van die Pioneer-genepoel en veroorsaak dat produsente uiteindelik meer graan as in die verlede vanaf vinniger kultivars oes. Hierdie beginsel is universeel van toepassing vir beide die oostelike en westelike produksiestreke. Só byvoorbeeld keer niks ons in beginsel om genetika wat in Egipte getoets is te inkorporeer in plaaslike basters nie. Uiteindelik moet die basters egter die toets in ons weste kom slaag – vandaar Pioneer se uitbreiding van toetsfasiliteite, met ‘n nuwe proefplaas wat sopas in die weste gevestig is. Die maatskappy
se filosofie dat die regte produk vir die regte hektaar beskikbaar moet wees, beteken ook dat die westelike geelmieliemark gekwantifiseer is en as afsonderlike telingskonsep die aandag kry wat dit verdien.

Monsanto
Monsanto het baie sterk en gevorderde teel- en toetsprogramme regoor die mielieproduksiegebiede in Suid-Afrika. Ons glo dat slegs kultivars waarvan die opbrengspotensiaal en agronomiese eienskappe beter is as beskikbare kultivars kommersieel vrygestel behoort te word. Kultivars wat vrygestel word, moet ook stabiel wees onder ‘n reeks van omgewings- en klimaatsomstandighede. Die maatskappy is verheug om te bevestig dat daar die afgelope seisoen nuwe geelmielieprodukte uit drie verskillende genetiese families, wat vir die westelike produksiegebied geskik is, vrygestel is. Die kultivars sluit in: DKC71-42, DKC71-44B, DKC74-74BR, DKC74-26R, DKC68-58BR en DKC68-56R. Die opbrengspotensiaal en agronomiese eienskappe van die genetika is van so ‘n aard dat dit baie goed sal kompeteer met witmieliekultivars in die weste. Ons is ook baie opgewonde oor geel- en witkultivars in ons pyplyn wat goeie en stabiele opbrengste in die weste sal lewer. Ons is vol moed dat hierdie produkte binne die volgende paar seisoene kommersieel
beskikbaar kan wees.

Pannar
Navorsers in ons maatskappy is voortdurend besig met die ontwikkeling van nuwe kultivars. Nuwe geelbasters in die Pannar-stal is die volgende: PAN 4B-376B: Die nuwe geelbaster in die vinnige groeiklas beskik oor die tweede generasie MON89034-stronkboorderweerstandsgene vir selfs beter beheer van stronkboorders. Dit is soortgelyk aan PAN 4R-576R en PAN 4R-776BR. Dit is by uitstek ‘n droëlandbaster wat goed in die produksiegebiede van die sentrale Hoëveld, Oos-Vrystaat en die koel dele van KwaZulu-Natal aangepas is. Dit toon goeie weerstand teen Phaeosphaeria-blaarvlek. Dit beskik oor goeie staanvermoë en toon geen sensitiwiteit teenoor sulfonielureum nie. Die YieldBoost-swamdoderspuitprogram word in gebiede waar blaarsiektes gewoonlik verwag word, aanbeveel vir optimale produksie. PAN 5A-182: Die geelbaster in die mediumvinnigegroeiklas kan op droëland en onder besproeiing aangeplant word. Dit is ‘n konvensionele baster wat goeie prestasie lewer en vir al die produksiestreke goed aangepas is. In die Noordwes Provinsie behoort aanplantings egter slegs op die hoëpotensiaalgronde plaas te vind. PAN 6B-410B en PAN 6R-710BR: Die nuwe geelbasters in die mediumgroeiklas beskik oor die tweede generasie MON89034-
stronkboorderweerstandsgene vir selfs beter beheer van stronkboorders. Die dubbelaksie van MON89034 behoort insekweerstand in hierdie basters vir ‘n lang periode te ondersteun. Dit is uitstekend aangepas vir die westelike gebiede en het goeie weerstand teen roes en noordelike blaarskroei. Dit beskik oor goeie staanvermoë en droogteverdraagsaamheid.

Slotsom

Dit wil blyk dat hoewel die weste hoofsaaklik as ‘n witmielieproduksiegebied beskou word, die saadmaatskappye wel oor die nodige geel mieliekultivars beskik om ook hier goeie opbrengste af te haal. Vol gens saadmaatskappye is die grootste dryfveer vir die plant van wit mie lies in die weste prysgedrewe. Indien daar prysverskille voorkom, was die witmielieprys gewoonlik hoër. Indien die markneiging verander en daar ‘n behoefte ontstaan vir die produksie van geelmielies in die weste, is daar geen rede waarom produsente nie geelmielies kan plant nie. Wat wel in gedagte gehou moet word (soos wat Pieter Smit, Monsanto SA, dit ook tereg sê) is dat alhoewel die opbrengspotensiaal opgesluit is in die genetika van ‘n kultivar, daardie opbrengspotensiaal slegs deur die regte bestuurspraktyke te volg, ontsluit kan word.

Publication: March 2016

Section: Focus on