July 2017

LUAN VAN DER WALT, landbou-ekonoom, Graan SA

Die afgelope twee bemarkingseisoene (vorige en huidige seisoen) van koring is gekenmerk deur uitdagende omstandighede vir plaaslike koringprodusente. In die plaaslike perspektief was daar heelwat onsekerhede – van knellende droogtes tot en met onsekerhede en onenighede as gevolg van tariewe.

Internasionaal het die koringpryse tot laagtepunte gedaal, terwyl die wisselkoers ook oor die afgelope twee jaar uitermate volatiel was. Die onsekerhede in die mark het verskeie nadraaie tot gevolg gehad. Die mark het onder druk gekom met die pryse wat vir ʼn geruime tyd in ‘n meer sywaartse rigting beweeg het, met relatiewe min verhandelingsaktiwiteite wat in die mark gesien is. Dit het die verskansing van koring ‘n uitdaging gemaak en produsente se wins gewendheid was onder druk.

Ten spyte van die verskeie onsekerhede, asook die algemene droë klimaatstoestande wat in die land geheers het, is uitstaande produksie vir die huidige seisoen gerealiseer.

Weersomstandighede wat op kritieke tye in die groeiseisoen gunstig was, asook laat reën wat in die Vrystaat voorgekom het, het produsente aangemoedig om koring te plant. Die finale produksieskatting vir die 2016/2017-seisoen is volgens die Nasionale Oesskattings komitee (NOK) 1,91 miljoen ton. Dit is aansienlik beter as die 2015/2016-seisoen se 1,444 miljoen ton produksie.

Alhoewel produksie beter was en bevredigende opbrengste verkry is, is die winsgewendheid van produsente steeds in die weegskaal met pryse wat redelik skerp onder druk is.

Internasionale konteks
Die gaping vir skerp prysstygings in die internasionale koringmarkte is maar redelik beperk met die hoë internasionale wêreldvoorraadvlakke. Die wêreldproduksie van koring het die afgelope paar jaar skerp toegeneem, terwyl die verbruik van koring internasionaal meer van ‘n sywaartse tendens getoon het. Dit het groot oordragvoorrade van koring van een bemarkingseisoen na die volgende seisoene teweeg gebring.

Grafiek 1 toon die wêreldkoringaanbod, -verbruik, -eindvoorraad en eindvoorraad as ‘n persentasie van die verbruik. In Grafiek 1 kan gesien word dat die eindvoorraad as ‘n persentasie van die verbruik ‘n opwaartse tendens vir die afgelope paar jaar getoon het.

In die nuutste wêreldvraag-en-aanbodsyfers van die Amerikaanse Departement van Landbou word die geskatte eindvoorraad as ‘n persentasie van die internasionale verbruik vir die 2017/2018-seisoen op ongeveer 35% geskat.

Hierdie groot oordragvoorrade hou die internasionale pryse onder druk en daarom verhandel die internasionale koringpryse sywaarts.

Grafiek 2 toon die Amerikaanse harde rooi winterkoring sowel as die Duitse koringpryse in $/ton sedert 2011. Daar kan duidelik uit Grafiek 2 afgelei word dat die internasionale pryse van koring sedert middel 2014 ʼn meer afwaartse tendens begin toon het, vanwaar dit meer sywaarts begin beweeg het en vir die afgelope twee jaar sterk in ‘n sywaartse rigting bly beweeg het.

Plaaslike mark
Tabel 1 
toon die vraag-en-aanbodprojeksie vir koring vir die 2015/2016- en 2016/2017-bemarkingseisoen. Uit Tabel 1 is dit duidelik dat daar gedurende die 2015/2016- bemarkingseisoen (vorige seisoen) groot hoeveelhede koring ingevoer is.

Gemiddelde invoere as ‘n persentasie van die plaaslike verbruik is tussen 40% en 50%. In die vorige seisoen het hierdie syfer toegeneem tot en met 65%, wat dui op die groot aantal invoere wat gedurende die seisoen plaasgevind het.

Alhoewel die plaaslike produksie gedurende hierdie betrokke seisoen laer is, het die groot aantal invoere gelei tot groot eindvoorrade aan die einde van die 2015/2016- bemarkingseisoen, wat 30 September verlede jaar geëindig het.

Dit het onder andere die plaaslike pryse skerp onder druk geplaas en die pryse het vir ‘n geruime tyd in ‘n sterk sywaartse rigting verhandel. Verskeie faktore in die mark het bygedra tot hierdie omstandighede wat gepaardgegaan het met baie onsekerhede.

Produksie vir die 2016/2017-bemarkingseisoen het egter aansienlik beter gelyk met goeie toestande op kritieke tye in die produksieseisoen, wat gelei het tot gunstige opbrengste. Daar is ook gedurende hierdie seisoen aansienlik meer koring in die Vrystaat aan geplant met die reën wat laat in die somerseisoen in die Vrystaat voor gekom het.

Die beter produksie wat hierdie seisoen gerealiseer het, het die invoerbehoeftes vir die seisoen aansienlik laat daal en die geprojekteerde invoere vir die seisoen is tans 1,260 miljoen ton – wat ongeveer 40% van die plaaslike verbruik verteenwoordig.

Kyk uit vir geleenthede in die nuwe seisoen
Die nuwe plantseisoen vir koring het aangebreek en produsente moet hulself weer begin posisioneer vir die seisoen wat voorlê.

Volgens die NOK se eerste intensies om te plant vir wintergrane word die koringoppervlakte vir die komende seisoen op 469 350 ha geskat.

Dit is ongeveer 2,36% minder hektare as die finale aanplantings vir die 2016/2017-seisoen, wat 508 365 ha was. Hierdie eerste intensies om te plant is gebaseer op toestande gedurende middel April en daarom kan daar aanpassings in die oppervlakte aangeplant voorkom wanneer die finale oppervlakte en eerste oesskatting vir die seisoen bekend gemaak word.

Alhoewel daar die afgelope jaar goeie vordering in verskeie aspekte van die koringmark gemaak is, soos byvoorbeeld die nuwe metodiek rondom die berekening van die prysdiskonto tussen die graadverskille op Safex, is daar is steeds ‘n rits onsekerhede wat tans in die koringmark teenwoordig is, wat weer eens die bemarkingsbesluite van produsente kan bemoeilik.

Daar is steeds geen amptelike korrespondensie in verband met die hersiening van die koringtarief ontvang nie. Die tarief verhandel dus steeds op grond van die huidige metodiek en is tans R1 190,20/ton nadat dit vanaf R1 591,40/ton laer gesneller is met die onlangse versterking van die internasionale koringprys. Die tarief is egter weer opwaarts gesneller na R1 371/ton en daar is tans nog geen nuus oor wanneer hierdie tarief in die staatskoerant afgekondig gaan word nie. Faktore wat tans dopgehou word, is die weerstoestande in die Wes-Kaap. Die produsente het alreeds die meeste van die koring aangeplant, alhoewel daar min grondvog beskikbaar is. Die invoertempo sal ook fyn dopgehou word.

Die huidige tempo is aansienlik laer as die vyfjaar gemiddelde tempo van invoere op hierdie stadium in die seisoen.

Die invoere as persentasie van die jaarlikse invoerbehoeftes is tans ongeveer 44% voltooi, terwyl die vyfjaar gemiddelde invoertempo as persentasie van die behoeftes ongeveer 65% voltooi was op hierdie stadium in die seisoen (Grafiek 3).

Ten slotte
Verskeie uitdagings staar produsente in die komende koringproduksieseisoen in die gesig. Ten spyte van die weersomstandighede in die Wes-Kaap, wat die seisoen op hierdie stadium effe laat maak, is daar verskeie ander onsekerhede waarop die produsente moet let wanneer hulle bemarkingsbesluite neem.

Goeie bemarkingsbesluite gaan van kardinale belang wees en al die moontlike faktore moet oorweeg word. Probeer risiko sover as moontlik vermy en maak gebruik van die geleenthede wat die mark bied om die oes stelselmatig en oordeelkundig te bemark.

Publication: July 2017

Section: On farm level