Dié trustaktes gewysig sodat bedryf steeds baat

Gepubliseer: 8 Februarie 2022
Nico Vermaak, hoof: Maatskappysekretariaat, Graan SA

605

Instellings wat noodsaaklik vir die graanbedryf is, soos die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) en die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS) asook verskeie navorsers en telers, se dienste word deur trustfondse ondersteun. Dié instellings se werk dra by tot plaaslike landbou se mededingendheid en tot voedselsekerheid in Suid-Afrika.

In hierdie artikel word onlangse wysigings aan trustaktes bespreek.

SAWCIT
Die trustees van die Kommersiële Wintergraanprodusentetrust (KWPT) het tydens ’n spesiale vergadering in September 2020 besluit dat die naam van die trust gewysig word na die Suid-Afrikaanse Wintergraanbedryfstrust (SAWCIT). Hierdie besluit het gevolg na ’n ooreenkoms tussen die rolspelers in die wintergraanbedryf om ’n trust te aktiveer vir die administrasie van vrywillige heffings vir die befondsing van inligtings- en navorsingsprojekte in belang van dié bedryf. Dit het gevolg na ontevredenheid oor die wyse waarop die eksterne Wintergraantrust (WCT) bestuur is.

Leon du Plessis van L&L Agricultural Services is as administrateur van die nuwe bedryfstrust, SAWCIT, aangestel. Vrywillige heffings word tans deur produsente en invoerders aan SAWCIT oorbetaal. Die volgende persone uit die bedryf is as trustees aangestel:

  • Jannie de Villiers (as genomineerde van Graan SA)
  • Richard Krige (as genomineerde van Graan SA)
  • Wessel Lemmer (as genomineerde van Agbiz Grain)
  • Boikanyo Mokgatle (as genomineerde van die Nasionale Meulenaarskamer [NCM])
  • Geoffrey Penny (as genomineerde van die Suid-Afrikaanse Bakkerskamer [SACB])
  • Johanna van der Merwe *(as genomineerde van die Suid-Afrikaanse Nasionale Verbruikersunie (SANCU) – intussen oorlede)

Die trustees het besluit dat die fondse van die KWPT na die Kommersiële Mielieprodusentenavorsingstrust (KMNT) oorgedra sal word voordat SAWCIT geaktiveer word, sodat die betrokke trustfondse steeds tot voordeel van wintergraanprodusente aangewend kan word.

Commercial Producers Trust
Tydens ’n spesiale vergadering van die KMNT in November 2020 is goedgekeur dat die trustakte gewysig word deur die doelwit van die trust uit te brei om ook voorsiening te maak vir die befondsing van projekte tot voordeel van wintergraanprodusente en nie slegs projekte tot voordeel van mielieprodusente nie. Hierdie besluit het gevolg na konsultasie met PricewaterhouseCoopers se belastingkundige asook regsverteenwoordigers (Prinsloo Bekker Prokureurs) om te bevestig dat die akte van wysiging voldoen aan die toepas­like belastingwetgewing en regstegniese versorging wat benodig sou word.

Die trustees van die KMNT het besluit dat die fondse van die KWPT as donasie aanvaar word. Verder is besluit dat die naam van die trust verander na die Commercial Producers Trust (CPT).

Daar is ooreengekom dat indien die nuwe CPT ooit ontbind, die bates as volg hanteer sal word:

  • Bates van die trust vir mielieproduksie sal oorgedra word aan ’n weldaadsorganisasie wat deur die Mieliewerkgroep van Graan SA aangewys word.
  • Soortgelyk is besluit dat bates wat uitsluitlik vir wintergraanproduksie vanaf die KWPT ontvang is, na ’n openbare weldaads­organisasie wat deur die Wintergraanwerkgroep van Graan SA aangewys word, oorgedra sal word.
  • Die fondse van die CPT sal slegs deur die trustees aangewend word vir die hoofdoelstelling van die trust, tot voordeel van mielie- en wintergraanproduksie. Aanbe­velings van die Mielie- en Wintergraanwerkgroepe sal in ag geneem word. Die trustees sal egter oor die fidusiêre bevoegdheid beskik om besluite in eie reg te neem.

Trustees: CPT
Die Meesterskantoor van Pretoria het die akte van wysiging goedgekeur en die volgende persone is as trustees aangestel:

  • Dr Pieter Taljaard: HUB van Graan SA (ex officio)
  • Derek Mathews: Voorsitter van die Mieliewerkgroep (ex officio)
  • Marius Groenewald: Benoem deur die Mieliewerkgroep
  • Neil Claassen: Benoem deur die Mieliewerkgroep
  • Jose de Kock: Benoem deur die Wintergraanwerkgroep
  • Richard Krige: Benoem deur die Wintergraanwerkgroep

Algemeen
Finansiële state sowel as ’n verslag van werksaamhede van die CPT moet jaarliks aan beide die Mielie- en Wintergraanwerkgroepe van Graan SA voorgelê word.

’n Vergadering van die trustees is behoorlik gekonstitueer met ’n kworum wanneer enige vier van die ses trustees vir die duur van die vergadering teenwoordig is. Die voorsitter van die raad van trustees het slegs een stem en dus geen beslissende stem nie. Indien geskille sou ontstaan, kan ’n arbitrasiekomitee deur die Graan SA-hoofbestuur aangestel word.

Die CPT baan die weg vir die befondsing van projekte tot voordeel van beide mielie- en wintergraanprodu­sente. Vergaderings vind sesmaandeliks plaas waartydens projekaansoeke en verslae deur die trustees oorweeg en goedgekeur word.