Eindpunt-tantieme lei tot opwindende tegnologie

Dr Antony Jarvie, namens Corteva Agriscience
Gepubliseer: 8 September 2020

938

Sojabone is ná mielies die grootste kontantgewas in Suid-Afrika, met glifosaattolerante kultivars wat tans meer as 90% van die aanplanting beslaan.

Glifosaattolerante sojaboonkultivars word al vir 20 jaar in Suid-Afrika aangeplant. Alhoewel die somerreënvalproduksiegebied nog relatief min onkruidweerstand teen glifosaatonkruiddoder ondervind, bestaan daar kommer oor moontlike onkruiddoderweerstandsprobleme.

Die gebruik van gesertifiseerde saad dwarsoor Suid-Afrika se sojaboonproduksiegebied het die vermoë om die nasionale gemiddelde opbrengs te verhoog.

Die Corteva-maatskappy, waarvan Pannar deel is, beplan om die bekendstelling van sy Conkesta E3™-tegnologie in die komende jare aan Suid-Afrikaanse produsente uit te brei, sodat hulle ’n groter keuse kan hê in die bestuur van onkruidbeheer en plae soos landmeter- en bolwurminfestasies.

Hierdie vrystellingsproses moet volgens regulatoriese voorskrifte, soos neergelê in Wet Nr. 36 van 1947 en die GMO-wet, geskied. Conkesta E3 (CE3) kombineer twee insekweerstandsgene met drie onkruiddoderverdraagsame gene in ’n transgeniese stapelgeen wat aan die voorpunt van hierdie soort tegnologie staan. Die C in CE3 staan vir Conkesta, die insekweerstandsgene. Die E3 verwys na die Enlist-onkruiddoderverdraagsame eienskap.

Indien die deregulering soos beplan plaasvind, gaan Pannar sojaboonkultivars met hierdie stapelgeeneienskappe bemark – selfs voor sommige van die ander belangrike lande wat sojabone produseer. Een van die redes waarom hierdie projek enigsins vir Suid-Afrika oorweeg is, was die belofte van ’n eindpunt-tantieme (EPR). Ondanks die feit dat die sojaboonproduksiegebied in Suid-Afrika die afgelope paar jaar tot ongeveer 700 000 ha gegroei het, bied die saadbedryf vir alle praktiese doeleindes ’n onvolhoubare saadmark gelyk aan ongeveer 120 000 ha. Dit is weens die gebruik van eie geproduseerde of teruggehoue saad. Die eindpunt-tantieme het twaalf jaar geneem om te realiseer, maar die kollaterale gevolge van die implementering daarvan het reeds navorsing gestimuleer wat die land aan die voorpunt van wêreldwye sojaboonontwikkeling met CE3 en ander tegnologieë sal plaas.

Daar is nog ’n paar besonderhede wat ons moet uitpluis, maar ons is baie opgewonde oor die nuwe tegnologie waarmee ons sojaboonprodusente aan die voorpunt van beskikbare tegnologie in die wêreld sal plaas.