April 2016

image

Die donderslag

Beste Grootneef,

Buurman kom leun anderdag oor die heining. Hy vertel toe van die groot blits en hoe dit sy lewe verander het.

Hy sê dit was so half drie die Sondagmiddag. Alles was stil en rustig soos dit op ‘n plaaswerf hoort. Met ‘n weer wat veraf gedreun het, vloerplanke wat liggies kraak en ‘n Sondag-soelheid wat middagslapie koning maak. Die volgende oomblik was daar ‘n lig en ‘n blits en ‘n donderslag wat Buurman skoon in ‘n ander bloedgroep ingeskok het.

Buurman vertel dat die weerlig by die venster se bo-lug in is, oor die vloer soos ‘n geelslang geloop het en toe deur die spieëlkas teruggekaats tot onder die kooi – die pot se erd af. “Pieng…,” beduie Buurman met arms alkant toe.

Buurman vertel verder dat die donderslag hom soos ‘n prop uit ‘n warm bottel “sjempyn” van die bulsak geskiet het, amper tot bo teen die dak. Dit was op pad terug aarde toe, dat sy lewe in slow mo voor sy oë afgespeel het.

Die groot skrik ná die donderslag het soos ‘n brander oor die werf gerol. Die koeie se melk was ‘n week lank suur en die hoenders het vierkantige eiers gelê. Die honde wou vir dae nie onder die eetkamertafel uit nie. Hy moes hulle met ‘n streep biltong na buite lok!

Buurman sê hy het besluit om sy lewe drasties te verander ná die noue ontkoming. Hy vat nou net naweke en saans ‘n knertsie. Soos hy ná die tyd vir mevrou Dominee in die bad gesê het,  die wêreld is boos…niks is vanselfsprekend nie.  Nie eers ‘n middagslapie nie.

Ou Neef, die groot donderslag op Buurman se werf is vergete, maar geraasbesoedeling is weer met ons. Of jy nou draadloos luister of Dallas se heruitsending probeer kyk, in al die advertensies bodder die politieke partye. Al wat kader is, maak beloftes wat hul nie kan nakom nie. Maar as die honourable members eers in die sagte stoele van die praathuise wegsak, vergeet hul algar hoekom hul eintlik daar is…en reël terstond vir ‘n beter lewe vir hulself.

Deursigtigheid en al daai strooi is vir diesulkes wat dit nie in die verkiesing gemaak het nie en nou buite staan en raas. Die paaie vol gate en die pompe wat nie pomp nie is gou vergete in  ‘n land van eindelose ritsery, met belastingbetaalde hoenderboudjies en frikkadelle by elke noenmaal.

Ou Neef, so nou en dan is ‘n donderslag op ‘n Sondagmiddag nodig om ‘n sussende gewete te laat wip. Net om weer te weeg wat nou eintlik saak maak. Die donderslag van die jaar was nie die een op Buurman se werf nie, maar die koue realiteit dat geld nie aan bome groei nie en mieliemeel nie vanself op ‘n winkelrak klim nie.

Mielies moet pit-vir-pit deur regte boere geplant word. En as daar met genade van Bo en genoeg reën geoes word, moet mielies trokvir- trok tot in die stede aangery word om gemaal te word. Dan eers kan daardie pakkie mieliemeel op die winkelrak geplaas word. Dis nie so maklik soos dit lyk om kos oor die diep water te laat kom nie.

Hopelik sal die nuut-verkose lede van die goewerment in die jaar wat kom, graanprodusente soos ‘n edel kultivar hanteer, met respek vir die deursettingsvermoë en kundigheid om goedkoop kos in Afrika te produseer.

Want ‘n oes op die land praat harder as ydele politieke beloftes.

Sterkte op die Oosgrens!

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication: April 2016

Section: Features