April 2017
ALZENA GOMES, skakelbeampte, Graan SA en foto’s: ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain en CHRIS MILNE, Infoworks
NAMPO Park was op 8 en 9 Maart vanjaar weer die middelpunt van gebeure met Graan SA se jaarlikse Kongres. Graan SA-lede, produsente, regeringsamptenare, landbourolspelers, akademici, vennote en belangheb bendes het saamgetrek om dié jaar se tema Graanroete vir die toekoms/Grain mapping the future te bespreek. Dié graanroete vir die toekoms het dit ten doel om weg te beweeg van onsekerheid en met seker treë die pad vorentoe aan te durf na volhoubaarheid en sukses.
Die Kongres is in drie hoofsessies aangebied en het afgeskop met ‘n aanbieding van mnr Mike Mlengana (Direkteur-generaal van die Departement Landbou, Bosbou en Visserye [DAFF]) wat op Beleidsriglyne na afloop van die Phakisa-beplanning gefokus het. Verder is die temas Graanekonomie en die beleidsomgewing, maatstawwe en die Graan SA-toepassing (App) sowel as die Graanbeleidsomgewing en die impak daarvan op die bedryf, bespreek.
Graan SA se voorsitter, mnr Jaco Minnaar, is onbestrede herkies en word deur nuutverkose visevoorsitters mnre Derek Mathews en Ramodisa Monaisa ondersteun. Die bestuurspan is gereed vir die taak wat voorlê en sal fokus om ten alle tye die belange van Graan SA-lede te bevorder en te beskerm.
In die oudiovisuele voorsittersverslag het Minnaar en mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA) die uitdagings van 2016 aangespreek, tesame met die wete dat verandering onafwendbaar is. Hulle het klem daarop gelê dat produsente, sowel as die organisasie, aanpasbaar moet wees om met die veranderende omgewing tred te hou.
Verder het hul die voorafgaande jaar se hoogtepunte uitgelig en die strategiese fokus van die organisasie vir die komende jaar beklemtoon. Die verslag het klem gelê op die impak van klimaatsverandering en die nuwe fokus van navorsing waar die droogte gebruik word om verstellings aan strukture en bestedingspatrone te maak.
Die impak van die droogte op die waardeketting het sy eie uitdagings gebied en tussen die droogte en die politieke omgewing moes ʼn nuwe pad vorentoe gevind word. Met hierdie uitdagings het die privaat sektor en landboubesighede na die tafel gekom en produsente bygestaan met terugbetalingstermyne, sowel as fondse vir dié landbou-ontwikkelingskantore waar dit die nodigste was.
Die verslag het afgesluit met die essensie van eenheid in landbou en alhoewel bedrywe die voortou neem, moet georganiseerde landbou die produsent op grondvlak vestig. Die groter behoefte van kommersiële en opkomende nuwe era-boere is dieselfde en Graan SA sal steeds fokus om meer geïntegreerd te word met die oog op die toekomstige uitdagings.
DAFF verbind tot samewerking
Kongres se openingstoespraak deur Mlengana het drie areas van kommer in Suid-Afrikaanse landbou uitgelig, naamlik eenheid, transformasie en die bydrae van die landbousektor tot ekonomiese groei.
Mlengana het bevestig dat die DAFF-leierskap één is met betrekking tot die inklusiwiteit van landbou en dat die sektor nie vorentoe kan beweeg ten koste van ander nie.
Die departement het ‘n gebrek aan ‘n oorhoofse kommersiële strategie vir landbou blameer vir die ongeveer R9 miljoen se beste ding waarvoor daar nie rekenskap gegee kan word nie, sowel as die mislukking van ‘n omvattende ondersteuningsprogram vir produsente oor die afgelope vyf jaar en homself verbind tot die reg stelling van dié beleid van onsekerheid.
Hy het produsente verseker dat alle Suid-Afrikaanse produsente moet bydra tot die ontwikkeling en evolusie van die landboustrategie en dat beplanning vir produsente nie meer sonder hulle sal plaasvind nie. Die DG het sy toespraak afgesluit met die bevestiging dat sy departement daarop sal fokus om strukture te skep wat vennootskappe moontlik maak en om geld te belê waar berekende resultate verkry kan word.
Die DG het ‘n beroep op produsente gedoen om vennootskappe tussen produktiewe plase en hul buurplase te sluit – ‘n móét vir transformasie in die landbousektor. Mlengana het produsente aangemoedig om kleinskaalse boere in hul besighede te integreer, aangesien hul mekaar nodig het. Geen regeringsbeleid sal slaag indien kommersiële en kleinskaalse boere nie saamstem nie.
Alhoewel opleiding ‘n uiters goeie begin vir die transformasieproses is, het die DG bevestig dat plase aan diegene met ‘n passie vir landbou verkoop moet word en dat die doelwit om kleinskaalse boere te bemagtig om volwaardige kommersiële produsente te word, steeds van krag is.
Graanekonomie die toekoms in
Prof Ferdi Meyer (direkteur: Buro vir Voedsel- en Landboubeleid [BFAP]) het tydens sy voorlegging die toekoms van graan- en oliesadeproduksie in Suid- en Suider-Afrika voorgehou. Hy het ondermeer die langtermyn-tendense vir areas wat in Suid-Afrika geplant word, bespreek en volhoubaarheid oor die lang termyn beklemtoon.
Megatendense wat lei tot onderliggende veranderinge in die landbou- omgewing is behandel en daar is benadruk dat ‘n omvattende landbousensus en grondoudit wat die algehele sektor sal bevoordeel, benodig word om beleidmakers in staat te stel om behoorlike strategiese beplanning te doen.
Die Graan SA Landbou-ontwikkelingspan, wat in staat was om 3 000 lande van kleinskaalse produsente te karteer, is deur Meyer geprys. Dié data en inligting kan nou aangewend word om vorderingverslae van onkruid- en plaagbestuur te genereer, sowel as om die algehele omstandighede van oeste op die spesifieke plase waar te neem en die essensie van waarvoor en hoe hierdie lande gebruik word, te bepaal.
Die inligting bekom deur hierdie inisiatief het die verskillende waardekettings wat in die Suid-Afrikaanse landbousektor bestaan, beklemtoon. Verder beklemtoon die langtermyntendens vir kommersiële boerdery in Suid-Afrika dat pryse daal en om in die speelvak te bly, produktiwiteit verhoog moet word, wat maatstawwe, navorsing en inligting absoluut krities maak.
Prof Meyer het afgesluit dat die sleutelelemente om volhoubaarheid te dryf, in konsekwente en gefokusde navorsing- en ontwikkelingsaksies opgesluit is, dat die toekoms van Suid-Afrika in vennootskappe lê, opvoeding en opleiding sleutelelemente bly en openbare en privaat sektor-beleggings die toekoms van landbou verder sal ontsluit.
In haar toespraak het dr Marinda Visser (bestuurder: Grain Research and Policy Centre, Graan SA) een van die grootste lesse van die seisoen benadruk in terme van oorgrenssiektes en -peste. Dr Visser het die hantering van die herfskommandowurm bespreek en bevestig dat daar, as gevolg van verskeie faktore, waaronder klimaatsverandering, moontlik meer peste en siektes sal voorkom.
Sy het die noodsaaklikheid van die opskerping van biosekuriteit bespreek en ‘n beroep op graanprodusente sowel as die graan- en saadindustrieë gedoen vir beter bewustheid in terme van biosekuriteitsrisiko’s, sowel as dat toekomstige addisionele beperkings en biosekuriteitsmaatreëls op die plaas in plek gestel moet word om peste en siektes te stop, of die verspreiding daarvan te verhoed.
Dr Visser het verder bevestig dat ander peste en siektes, soos die dodelike Mielienekrose-siekte (MLND) ‘n meer vernietigende impak kan hê – wat dié biosekuriteitsmaatreëls absoluut krities maak.
Graan SA se navorsingfokus is steeds op die verhoging van opbrengste – in die besonder op stapelvoedselgrane – gewasbeskerming, klimaatsverandering, beleids- en regulerende aspekte en bewaringslandbou.
Graan SA-toep
Einde 2016 is Graan SA se eie toepassing (App) bekend gestel. Dié toep is deur dr Dirk Strydom (Graan SA se bestuurder: Graan-ekonomie en Bemarking) aan kongresgangers voorgehou.
Die doel van die toep is om vir lede ‘n groter voordeel te gee en om ‘n uiters belangrike en onmisbare hulpmiddel vir ons lede te wees. Die belangrikheid van benchmarking kan nie onderskat word nie – en die gesegde “Om te meet is om te weet” is nou meer van toepassing as ooit.
Die toep bied Graan SA-lede ‘n stukkie gereedskap wat die meetaksie uitvoer en dan inligting weergee wat beter bemarkingsbesluite, sowel as inset-besluite, tot gevolg sal hê. Produsente kan ver gelykings per streek en nasionaal tref in terme van plantvordering, oesomstandighede en oesvordering.
In die nabye toekoms sal lede ook produksiekostevergelykings kan doen, maar inligting is van kardinale belang en hoe meer produsente deelneem, hoe beter sal die beskikbare inligting wees.
Handelsomgewing en sy impak op die graanbedryf
Dr Erhard Briedenhann van MIDS het aan kongresgangers die handelsomgewing en die impak daarvan op die graanbedryf voorgehou en bevestig dat politieke onsekerheid nie net Suid-Afrikaners beïnvloed nie, maar die res van die wêreld ook.
Dr Briedenhann het verder beklemtoon dat burokrasie en die gemak waarmee besigheidstransaksies beklink kan word, uiters belangrik is vir die suksesvolle beweging van produk wêreldwyd – veral in in- en uitvoermarkte. Invoerbelasting as sodanig, sowel as die onsekerheid wat gepaard gaan met ‘n moontlike verandering in belasting, kan ‘n grootskaalse impak op ‘n produsent en/of maatskappy wat produkte verskans en verhandel, hê.
Hy het afgesluit met ‘n oorsig van die verbruik van kommoditeite wat in Suid-Afrika geproduseer word en bevestig dat indien produsente globaal kompeterend wil wees, Suid-Afrika sy uitdagings met betrekking tot logistiek en die koste en doeltreffendheid ten opsigte van die verskuiwing van produkte, onder beheer moet kry.
In aansluiting hierby, het me Gerda van Dijk (Direkteur van die Internasionale Handelsdirektoraat) aan kongresgangers ‘n huidige handelsoorsig verskaf. Die uit- en invoere van primêre produkte en die verwerkingsoorsig was ingesluit, met ‘n oorsig oor die globale dinamika wat handel tans beïnvloed – ‘n teenreaksie op bilaterale handelsooreenkomste.
Van Dijk het bevestig dat beide Donald Trump se fokus op die beskerming van die Verenigde State, sowel as Brexit ‘n invloed op Suid-Afrikaanse handelsooreenkomste sal hê. Verder is die verlangsaming van wêreldekonomieë bevestig, tesame met die afname van die belangrikheid van tariewe.
Sy het ter afsluiting die belangrikheid van plaaslike handelsooreenkomste bespreek en die regering se prioriteit ten opsigte van die Afrika-kontinent, wat hom ten doel stel om samewerking te bevorder, benadruk. Sodoende kan ‘n mark vir produkte geskep word en met een stem – as Afrika – op internasionale velde handel gedryf word.
Die pad vorentoe
Graan SA bedank alle lede, vennote, rolspelers en borge, sonder wie se deelname ‘n uiters suksesvolle 2017 Kongres nie moontlik sou gewees het nie. In die komende jaar gaan ons saamwerk om georganiseerde landbou terug te vat na dít wat vir ons lede belangrik is – die fokus op die boerdery.
As bedryfsorganisasie onderneem Graan SA om die punte wat tydens Kongres aangestip is, sinvol te verbind, om daardeur die organisasie te groei en om die boodskap van hoop aan alle produsente oor te dra – ongeag elkeen se uitdagings het Graan SA hoop vir landbou en hoop vir die land.
Publication: April 2017
Section: Grain SA