Hoekom plant ons sonneblom?

Gepubliseer: 4 Oktober 2021

4268
Corné van der Westhuizen,
landboukundige:
Noordwes, Pannar Saad

Naas mielies is sonneblom een van die belangrikste wisselbougewasse in die westelike produksiegebiede. Redes hier­voor sluit in wisselbou, laer insetkoste as mielies, ’n korter groeiseisoen, groter droogte- en koueverdraagsaamheid, beter opbrengste en meer stabiliteit op marginale gronde. Winsgewendheid word egter selde eerste vermeld.

Aansienlike opbrengsverskille kom tussen proef- en kommersiële aanplantings voor. Suid-Afrika se nasionale opbrengsgemiddeld is 20% laer as die internasionale gemiddeld. Daarteenoor is die nasionale proefgemiddeld 24% hoër as die internasionale proefgemiddeld (BFAP, 2015).

’n Wêreldrekord-droëlandsonneblomopbrengs van 6,12 t/ha is in 2016 in Kabardino-Balkarië gestroop en plaaslik met Graan SA se Groei vir Goud-kompe­tisie is daar in 2020 4,44 t/ha behaal. Waarom bestaan hierdie aansienlike variasie in opbrengs? In hierdie artikel word daar op ’n paar punte van sonneblomproduksie gefokus wat ’n bydrae tot opbrengs en moontlik winsgewendheid kan lewer. Die sleutel tot suksesvolle sonneblomverbouing begin by beplanning en dit sluit aspekte soos landseleksie, basterseleksie, bemes­tingsbeplanning, plantdatum en plantestand in.

Landseleksie
Die doel van landseleksie is om ’n land se bestuursfokuspunte te identifiseer en die potensiële opbrengsmikpunt daar te stel. Let op die landgeskiedenis wat betref: die vorige gewas aangeplant, hoe onkruid daarin beheer is, die chemiese middels wat gebruik is, die moontlike onkruidspektrum wat verwag kan word en of daar ’n risiko vir chemiese oordrag is.

Sonneblom is meer sensitief vir lae grond-pH en hoë suurversadiging as mielies (pH(KCl) ≤4,5; suurversadiging ≤10%) en dit kan aanleiding gee tot molibdeentekorte en aluminiumtoksisiteit. Is daar onlangs bekalk? Kalk kan chemiese middels wat aan kleideeltjies in die grond gebind is, los maak en dit kan die sonneblom benadeel.

Basterseleksie
Selekteer basters wat getoets is vir beide opbrengspotensiaal en opbrengswaarskynlikheid met gebalanseerde agronomiese eienskappe. Stel ’n pakket saam wat bestaan uit twee of meer basters wat voldoen aan die opbrengs- en stabiliteitsvereistes, maar wat mekaar agronomies komplementeer wat blomdatum en groeiseisoenlengte betref.

Bemesting
Bemestingsbeplanning moet aan die hand van landseleksie, opbrengsmikpunt en basterseleksie gedoen word. Grond en omgewing bepaal die gewasproduksiepotensiaal, maar konstante hoë opbrengste kan net behaal word indien die gesamentlike effek van plantvoeding, grond, klimaat en kultivar gunstig is. Bemes vir die verlangde opbrengsmikpunt deur gebruik te maak van ’n akkurate grondontleding.

Stikstof (N) is die hoofvoedingselement en die belangrikste opbrengsbeperkende element. Die sonneblomplant benodig 28 kg N/ton graan. ’n Groot hoeveelheid kalium (K) word verder benodig vir sonneblomproduksie. Slegs ’n klein persentasie van die opgeneemde K, naamlik 6 kg/ton graan word van die land verwyder, die res bly as oesreste agter. Die toeganklikheid van K vir die plant kan egter deur verskeie faktore beïnvloed word, soos grond-pH, tipe kleimi­nerale, vogstatus en K:Mg-verhouding (kalium-magnesium-verhouding). Sonneblom benodig 3,7 kg fosfor (P)/ton graan afgehaal. P word deur die plant vir vinnige opkoms en vir plantenergie benodig en bandplasing daarvan word aanbeveel. Dit is belang­rik dat alle plantvoedingselemente in verhouding tot mekaar (N:P:K) aan die plant beskikbaar gestel word. ’n Wanbalans sal optimale opbrengste verhoed. Mikro-elemente belangrik by sonneblom is molibdeen (Mo) en boor (B). Molibdeentekorte kom gedurende die saai­lingstadium voor, hoofsaaklik op suurgronde (pH(KCl) laer as 4,7) en word omtrent altyd deur bekalking reggestel. Boor is belangrik by seldeling en is ’n noodsaaklike bestanddeel van die selwande. Plante met ’n lae B-vlak groei vegetatief normaal, maar ontwikkel probleme tydens saadset as gevolg van vroeë embrio-afsterwing. Ernstige tekorte kan lei tot nekbreek.

Plantdatum
Literatuur en plantdatum­proewe dui daarop dat sonneblom gunstig reageer op vroeë tot tydige plantdatums. Temperature tydens plant en vroeë plantontwikkeling kan ’n betekenisvolle uitwerking op opbrengs en saad­kwaliteit uitoefen. Met later plantdatums begin hoë grondtemperatuur (bo 40˚C) ’n rol speel in opkomsvermoë en finale plantestand. Die komponente van opbrengs by sonneblom word aangegee as die aantal blomme per hektaar (plantestand), blomgrootte (pitte per blom) en pitmassa. Sonneblom produseer ’n enkele blom per plant en kompenseer nie tot dieselfde mate as mielies vir goeie produksietoestande by lae plantestande nie. Sonneblom is die meeste koueverdraagsaam wanneer hulle opkom en in die saadlobstadium is.

Plantestand
Die optimale plantpopulasie is die minimum plantestand waarby die maksimum opbrengs behaal word. Proewe toon dat veranderende plantestand ’n duidelike effek op beide opbrengs en plantagro­nomie uitoefen. Die effek van verskillende plantestande is betekenisvol vir beide blomgrootte en pitmassa (Foto 1). Die laag­ste plantestand lewer die grootste blomme met die meeste pitte per blom. By die hoogste plantestand is die blomgrootte die kleinste en aantal pitte die minste.

Plantestande is betekenisvol vir beide blomgrootte en pitmassa.

Pitmassa en oliepersentasie word deur ’n toename in plante­stand beïnvloed. Medium tot hoë populasies produseer meer olie as laer plantpopulasies en die kleiner grootte blomme by hoër plantestande droog vinniger af. Uit plantestandproewe is waargeneem dat die opbrengskomponente aanpas soos wat die plante­stand verander. By hoëpotensiaal-sonneblomaanplantings is die kompensasievermoë tussen die drie opbrengskomponente egter nie genoeg nie en kan ’n verskil in plantpopulasie van enkele duisende plante per hektaar ’n merkbare invloed op die opbrengs uitoefen.

Produksieriglyne
Kennis van die sonneblomplant se ontwikkelingsiklus en die gebeure wat plaasvind tydens groei en ontwikkeling maak dit moontlik om bestuurspraktyke te optimaliseer om saad- en olie-opbrengs te maksimaliseer. Soos die sonneblomplant groei, vind fisiologiese en morfologiese veranderinge in die plant plaas. Hierdie prosesse word geneties bepaal en word deur die omgewing beïnvloed. Die omgewingsfaktore kan in twee opgedeel word, naamlik tempera­tuur (hitte-eenhede) en fotoperiode (dag/naglengte-verhouding). Vir sonneblom word die HE-formule aangegee as (maksimum temperatuur + minimum temperatuur)/2 minus T-gewas. Vir sonneblom is die minimum temperatuur (T-gewas) waaronder die plant groei staak 6,7°C, wat bietjie laer as die van mielies (10°C) is.

Plant tot opkoms
Die plantaksie het ten doel om ’n egalige, uniforme ontkieming en opkoms te bewerkstellig. Dit vorm die basis van suksesvolle sonneblomproduksie en bepaal die aantal plante per eenheidsopper­vlakte (die eerste komponent van opbrengs). Hiervoor is goeie saad-tot-grond-kontak, genoegsame water en optimale tempe­ratuur nodig. Sonneblomsaad moet 50% van sy pitmassa in die vorm van water absorbeer vir suksesvolle ontkieming. Lae grondtemperature verleng die ontkiemingsperiode en stel die ontkiemende saad/saailing vir ’n langer periode aan insekte en swamme bloot. Dit kan ’n afname in finale plantestand beteken en/of onegalige opkoms en onegalige vroeë plantontwikkeling veroorsaak.

Bestuursoorwegings: Plant in goeie grondvogtoestande met ’n grondtemperatuur hoër as 10°C. Die grond moet vir ten minste 80 cm tot 100 cm diep nat wees. Oor die algemeen word ’n plantdiepte van 2,5 cm (swaarder gronde) tot 5 cm (sandgronde) aanbeveel. Waak daarteen om te diep en by hoë grondtemperature (bo 40˚C) te plant. Moniteer en beheer grondinsekte. Wees versigtig vir kunsmisbrand. Plaas kunsmis weg en onder die saad en neem die soutindeks van die N en K in ag.

Opkoms tot blominisiëringstadium (V0 – V6)
Die stadium begin met die opkoms van die saailinge en eindig wanneer die groeipunt die blomknop inisieer. Die lengte van hierdie vegetatiewe periode word bepaal deur plantgenetika, temperatuur (HE) en die fotoperiode. Die vegetatiewe periode word gekenmerk deur aktiewe wortelontwikkeling en is meer as die bogrondse vegetatiewe ontwikkeling. Hierdie periode eindig wanneer die groeipunt verander vanaf vegetatiewe groei na die reproduktiewe fase op ongeveer sesblaarstadium. Wanneer die groeipuntverandering plaasvind vanaf vegetatiewe na reproduktiewe ontwikkeling (ongeveer V6-stadium) word die maksimum aantal blare wat die plant gaan hê, bepaal. Onder hoëtemperatuurbestralingstoestande en lang daglig­lengte sal hierdie periode tipies korter wees en dit beperk dus die aantal blare (Vn) wat kan ontwikkel.

Bestuursoorwegings: Hou die aanplanting­ on­kruidvry vir ten minste die eerste 30 tot 40 dae (Foto 2). Beskerm die aanplanting teen insekte, voëls en siektes. Verseker ’n voldoende hoe­veelheid plantvoedingstowwe, veral fosfaat se beskikbaarheid. Lae N- en P-vlakke benadeel plantgroei.

Egalige, uniforme ontkieming en opkoms vorm die basis van suksesvolle sonneblomproduksie.

Blominisiëring tot blomstadium (V6 – R5)
Gedurende hierdie ontwikkelingstadium word die blom geïnisieer (eerste opbrengskomponent) en die potensiële aantal sade wat die blomkop sal hê, word gedefinieer. Die periode eindig wanneer die blom begin blom (aan die begin van blom-antese of bestuiwing op die buitenste blomrand). Gedurende hierdie stadium gaan aktiewe wortelontwikkeling voort en blaaruitbreiding en verlenging vind konstant plaas.

Bestuursoorwegings: Dit is belangrik om tot by hierdie stadium te kom met ’n aanplanting wat nog skoon en onkruidvry is – die resultaat van goeie werk gedoen aan die begin. Tydens hierdie periode vind die grootste opname van voedingstowwe plaas. Afhangend van die opbrengsmikpunt is dit dan ook die periode (V6 – V8) wanneer bo- of topbemesting gegee moet word.

Let op ’n boorbespuiting aan die einde van die vegetatiewe stadium. Tussen die R3- en R4-stadiums vind aktiewe blaar- en wortelgroei steeds plaas en bereik die blaaroppervlakte 95% van die totale blaaroppervlakte-indeks (BOI). Erge waterstremming gedurende hierdie periode sal opbrengs nadelig beïnvloed. Die aantal sade per blom sal ingeperk word en blaarverlenging sal afneem, wat die BOI verklein. Monitor die aanplanting gereeld en kyk spesifiek vir bolwurm en landmeterwurms. Ondersoek en monitor lande ook vir siektes soos Alternaria en roes.

Figuur 1: Die sonneblomplant se ontwikkelingsiklus.

Blom en graanvulling (R5 – R9)
Gedurende die blomperiode of reproduktiewe groeistadiums (R5 en R6), wat sewe tot tien dae duur, word die aantal sade per blom vasgelê (tweede opbrengskomponent). Kruisbestuiwing vind plaas deur die werking van insekte, alhoewel sonneblom tot 95% selfbestuiwend is. Die blom is vir tot 14 dae vir stuifmeel ontvanklik. Gedurende R6- tot R9-groeistadium akkumuleer koolhidrate, vetsure en proteïene in die saad en word die pitmassa en oliepersentasie bepaal (derde opbrengskomponent).

Bestuursoorwegings: Lang periodes van bewolkte of reënweer gedurende die blomperiode kan swakker bestuiwing (swakker saadset) veroorsaak deur stuifmeel wat uitgewas word en/of deur ’n afname in bestuiwersaktiwiteit in die land. Droogte tydens be­stuiwing en bevrugting kan tot swakker saadset aanleiding gee of swakker skepelmassa en ’n laer oliepersentasie.

Vogtige, koel dae gedurende die blomperiode is gunstig vir die ontwikkeling van witroes (Sclerotinia sclerotiorum), Alternaria en Phoma, wat vroeë afsterwing van die plant veroorsaak. Langdurige hoë temperature bevorder weer die voorkoms van Phomopsis-stamkanker. Moniteer die aanplanting gereeld vir insekplae soos landmeterwurms wat die blaaroppervlakte verminder. Rhizopus-kopvrot word ook dikwels geassosieer met vreetskade op die kop as gevolg van insek-, voël- of haelskade. Droë weerstoestande na fisiologiese rypheid (vog van graan 30% tot 32%) bevorder die afdroging van die aanplanting en bespoedig die oesproses. Chemiese produkte kan gebruik word om die aanplanting vinniger te laat afdroog, byvoorbeeld in humiede omgewings waar afdroging stadig plaasvind, in die teenwoordigheid van kopsiektes soos Sclerotinia of in gebiede waar hoë druk van voëls ervaar word.