November 2016

Kopstukke gesels en geredeneer by Megaweek

ALZENA GOMES, skakelbeampte: Graan SA en LIANA STROEBEL, ontwikkelingskoördineerder: Graan SA

Agri Mega Week, wat vanaf 14 tot 17 September by Mega Park op Bredasdorp plaasgevind het, het verseker sy reputasie van uiterste weerstoestande gestand gedoen soos die week gevorder het. Dit is egter steeds ‘n platform waar Graan SA-lede kan ontmoet, ontspan en ware Kaapse gasvryheid geniet.

Die Graan SA-ledetent het hierdie jaar sy intrek in die Absa Events Centre geneem en het aan lede ruim geleentheid gegee om nuus oor plaasaktiwiteite op te vang, weerstoestande te bespreek en natuurlik oor die invoertarief te koukus – gewapen met ‘n stomende koppie warm cappuccino, geborg deur John Deere Financial.

Die Megaweek, wat die ideale geleentheid is om met sleutelrolspelers te skakel, het die Graan SA-bestuurspan, verteenwoordig deur mnr Jaco Minnaar (voorsitter), me Preline Swart (vise voorsitter), mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder) en dr Dirk Strydom (bestuurder: Graanekonomie en Bemarking), die geleentheid gegun om agente, lede en sakelui te ontmoet en dié informele netwerkgeleentheid is ten volle benut.

Debat

Graan SA, in samewerking met Standard Bank, het as gasheer vir die jaarlikse Landboudebat, wat op Donderdag, 15 September aangebied is, opgetree. Die onderwerp onder bespreking – wat hewige debat ontlok het – was die invoertariefbeleid vir wintergrane (koring en gars) onder leiding van De Villiers tesame met mnre Nicolaas Hanekom (graanprodusent en makelaar) en Nico Groenewald (hoof: AgriBesigheid, Standard Bank).

In die debat, wat ‘n sterk fokus op die koringtarief geplaas het, is uitgelig dat die tarief nie ‘n subsidie is nie, maar eerder beskerming teen subsidies bied. Hanekom het die gehoor weer eens daar op gewys dat persepsies oor die koringtarief se invloed op die verhoging in die prys van brood vir die verbruiker ‘n wanopvatting is.

Hy het verder ‘n pleidooi aan graanprodusente gerig om hul bedryfsorganisasie sterk te hou, aangesien hul afhanklik is van dié einste organisasie. Suid-Afrikaanse graanprodusente, anders as hul internasionale eweknieë, sal nie teen ‘n lae prys kan produseer of droogtes so goed kan hanteer nie – wat ‘n afname in graanproduksie in die land sal teweegbring – sonder beskerming.

Kopstukke gesels en geredeneer by Megaweek

Publication: November 2016

Section: Grain SA