Wat jy moet weet oor lidmaatskap

1215

October 2016

Wat jy moet weet oor lidmaatskap

DIRK KOTZÉ en TOIT WESSELS, albei ledebemarking en kommunikasiebeamptes: Graan SA

Graan SA is ‘n outonome bedryfsorganisasie wat in belang van die graanprodusent in Suid-Afrika optree. Lidmaatskap is onderworpe aan ‘n vrywillige bedryfs heffing wat tydens die jaarlikse Kongres goedgekeur word.

Indien daar meer as een produsent by ‘n boerdery betrokke is, kan hulle ook as koppellede lidmaatskap bekom. Koppellede het dieselfde ledevoordele as ‘n gewone lid, mits lede geld opbetaal is vir al die lede.

Hoe word ek lid van Graan SA?

Enige produsent wat graan produseer, kan lidmaatskap bekom deur slegs ‘n magtigingsvorm by Graan SA se kantoor, of die vorm wat op die webblad beskikbaar is, te voltooi. Na ontvangs van die magtigingsvorm, stuur Graan SA die vorm na die invorderingsagent waar lewering van graan gaan plaasvind. Met die vorm magtig jy as produsent die betrokke agent om ‘n heffing van die bedrag aan jou verskuldig, af te trek en aan Graan SA oor te betaal. Met ontvangs van die magtigingsvorm, word jy dan op Graan SA se databasis geregistreer.

Wat beteken dit om opbetaal te wees?

Volwaardige lidmaatskap behels ‘n minimum betaling van R1 000 (plus BTW). Die finansiële jaar strek vanaf 1 Maart tot 28 Februarie van enige gegewe jaar. Indien daar meer as een persoon by ‘n boerdery betrokke is, moet elke koppellid derhalwe die minimum bedrag betaal om opbetaal te wees.

Opbetaalde lede kan die Graan SA Kongres as stemgeregtigde afgevaardigdes bywoon en kwalifiseer ook vir gratis toegang tot Graan SA se NAMPO Oesdag. Die bedryfsheffing (soos goedgekeur op die Kongres van 2016) word in Tabel 1 weergegee.

Hoe word die heffing gevorder?

Graan SA het ooreenkomste met landboubesighede en graanafnemers gesluit, wat namens Graan SA ondersteuning verleen met die invordering van heffings. Daar word egter tans baie graan direk by plase gelaai. Daarom bly dit die produsent se verant woordelikheid om sy heffing aan Graan SA oor te betaal en sodoende ‘n opbetaalde lid te bly.

Indien ‘n lid sy graan by een van die geregistreerde vorderingsagente lewer, bly dit die lid/produsent se verantwoordelik om toestemming vir die aftrekking van die heffing te gee.

Indien jy as produsent verkies om jou heffing volgens tonne gelewer, direk aan Graan SA oor te betaal, moet die bewys van betaling, asook die besonderhede van die tipe gewas na Patricia Mahlatsi deurgestuur word by patricia@grainsa.co.za. Dit is ook baie belangrik om jou BTW-nommer in te sluit. Daarna sal Graan SA ‘n faktuur aan jou uitreik.

Rekeningbesonderhede

Graan SA
Absa Bank
Rekeningnommer: 790 810 007
Takkode: 632 005

Aanwending van die bedryfsheffing

Die oorgrote meerderheid (41%) van die bedryfsheffing word hoofsaaklik aangewend vir navorsings- en ontwikkelingsprojekte. 5% van die bedryfsheffing word teruggekanaliseer binne Graan SA-strukture na boereverenigings en studiegroepe en ‘n persentasie word aangewend om met georganiseerde landbou te affilieer. Sien Grafiek 1 vir meer besonderhede.

Wat jy moet weet oor lidmaatskap

Takbefondsing
Die betrokke strukture en verenigings verskaf jaarliks ‘n ledelys aan Graan SA, waarna die berekeninge gedoen word om die oorbetaling van gelde te fasiliteer. Die 5% dra by tot die betrokke strukture se effektiewe funksionering op grondvlak en elke Graan SA-hoofbestuurslid is verantwoordelik daarvoor dat sy/haar streek se fondse geëis word. Ledebetrokkenheid is die sleutel tot ‘n dinamiese organisasie en Graan SA nooi elke lid om aktief aan die aktiwiteite van die organisasie deel te neem deur onder meer tak-, streeks- en boere verenigingsvergaderings by te woon. Tydens hierdie vergaderings ontvang lede direkte terugvoer oor sake rakende hul bedrywe.

Kommunikasie

Ledekommunikasie is van kardinale belang en die korrektheid van die Graan SA-databasis is dus belangrik. Deur die voltooiing van ‘n magtigingsvorm kan jou kontakinligting opdateer word, hetsy e-pos of telefoonnommers, om sodoende te verseker dat elke produsent die relevante Graan SA-kommunikasie ontvang.

Kommunikasie met lede geskied op die volgende maniere:

  • Markinligting word daagliks per e-pos aan lede gestuur.
  • SA Graan/Grain (wat aktuele sake en bedryfsinligting verskaf) word op maandelikse basis aan lede gepos.
  • Elektroniese briewe word tweeweekliks aan lede gestuur.
  • SMS-boodskappe vorm ook ‘n integrale deel van kommunikasie met lede. Dit is dus belangrik dat die organisasie jou korrekte selfoonnommer het.
  • Relevante inligting en gebeurtenisse kan ook op Facebook (www.facebook.com/GrainSA) en Twitter (@GrainSA) bekom word.
  • Besoek gerus Graan SA se webblad by www.grainsa.co.za vir meer inligting.

Bewerkstellig jou eie gemoedsrus deur lid te word van Graan SA. Skakel gerus vir Patricia Mahlatsi (patricia@grainsa.co.za) of Elray Stuurman (elray.stuurman@grainsa.co.za) vir enige navrae oor jou heffing.

Publication: October 2016

Section: Grain SA