Om ’n plan te maak

Gepubliseer: 28 Februarie 2023

418

Beste Grootneef

Die ander dag luister ek oor die draadloos na iemand wat dit sy werk gemaak het om na die toekoms te kyk. Nou nie soos ’n fortuinverteller nie, maar soos om ag te slaan op wat om jou gebeur. In jou gemeenskap, in die provinsie waar jy bly, die Republiek of die wye wêreld.

Sy boodskap was dat indien jy nie vir jou toekoms be­plan nie, jy jouself kort voor lank in ’n toekoms kan bevind wat iemand anders beplan het. Wat hy toe sommer op die koop toe byvoeg, is dat daar min nut daarin is om te veel tyd aan die verlede af te staan. Goed en wel om te weet en te verstaan waar goed vandaan kom, maar die toekoms is waar jy die grootste deel van die res van jou lewe gaan deurbring.

Ou Neef, sedert die wieg van die mensdom was daar een groot vraag wat niemand nog ooit kon ontknoop nie – en dit is wat in die dag van môre wag. Teeblare, seekatte en kristalballe is al ingespan om die toekoms te lees. Maar na die wierook gesak het, het diegene wat die uitslag van 2022 se wêreldbekersokker reg voorspel het, meer geluk as wysheid in pag gehad!

Die drywer vir die soeke na wat môre en oormôre gaan bied, is deel van die mensdom se hunkering na ’n veilige hawe – om betyds planne te maak. As ’n mens geweet het van die midsomer se droogte het jy dalk later geplant. Of vroeër. As jy vandag kon weet watter perd môre die July sou wen, was jy oormôre ’n skatryk man. As jy vooraf van beurtkrag geweet het, het jy nie ’n slaghuis gekoop nie. As jy maar net geweet het dat Covid kom, of dat die Russe hulle buurland gaan inval. Of wat ook al.

Soos die ou mense egter gesê het, as is verbrande hout. Om rond te krap in die asse van wat kon, bied geen wins nie.

Maar planne moet gemaak word. Deur bloot saam met die stroom te dryf en te hoop dat jy op die regte plek gaan uitspoel, is ook nie die antwoord nie. ’n Boer maak ’n plan – dis ons handelsmerk. Of dit nou ’n goeie seisoen of ’n seisoen van droogte is, ’n plan moet gemaak word, anders gaan die bank planne vir jou begin maak. Lees wat jy kan oor die mark, luister wat wie ook al van die weer sê, kyk die wêreld uit. Maar hou aan om die sif te skud sodat die kaf en die koring kan skei. En neem dan jou besluit met die beste inligting wat op daardie stadium beskikbaar is en moenie terugkyk nie. As dit op daardie stadium ’n goeie prys was, was dit ’n goeie besluit, al wip die mark nog effens boontoe in die week na jou mielies verkoop is. Jy wou tóg jou seisoen met ’n wins afsluit en nie spekuleer nie. Want dieselfde mark wat boontoe neig, kan ook soos ’n klip val.

Onthou, op elke veiling gaan ’n bees vir ’n bargain – en dan moet jy bie. Maar jy moet vooraf jou huiswerk doen om te weet wat kos ’n bees op die hoef, anders koop jy ’n kat in die sak. Ou Neef, sterkte met al die besluite wat te neem is. En moenie só besig raak dat jy vergeet om dit te geniet nie.

So ’n laaste Kaapse draai – ek hoor die ander dag die storie van Adam en Eva wat na ’n funksie uitgenooi is. Tipies vrou, kon Eva net nie besluit wat om aan te trek nie. Einde ten laaste vra sy Adam se raad. Goeie man wat Adam is, vra hy uit oor wat in Eva se kas hang. Eva blom en begin vir Adam wys waarmee sy kan opdollie. Die vyeblare is altyd gepas, maar nie meer in die mode nie. Vir ietsie meer formeel, kan sy ’n delicious monster-blaar oorgooi. Vir ’n meer gewaagde uitrusting, kan ’n paar bloekomblare die ding doen. Einde ten laaste vra Adam toe of Eva weet wie óók die geleentheid gaan bywoon. Na Eva bietjie rondgevra het, lig sy vir Adam in dat sy gehoor het Sarel, Jaco en Richard gaan ook by die funksie wees. Adam het eers in sy koffie gestik – en toe vir Eva gesê om haar turksvyblare te loop aantrek!

Mooi loop

Lesers kan ’n e-pos vir Kleinneef stuur na kleinneef@graingrowers.co.za.