Kongres fokus op plaaslike groei in landbou

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

559

Die Agri SA-kongres wat op 13 en 14 Oktober in Pretoria gehou is, het plaaslike groei in die landbou asook die bedreigings wat groei kan belemmer, vanuit alle hoeke bespreek. Tydens die tweedagkongres is talle knelpunte uitgewys wat groot hekkies is wat oorkom moet word op die pad na plaaslike landbougroei. Winsgewende boerdery bly steeds die doelwit waarna almal mik.

Christo van der Rheede, hoof- uitvoerende beampte van Agri SA, het daarop gewys dat landbou ’n sektor is wat op hoop gebou is. “Geen boer sit saad in die grond en wag op mislukking nie. Nee, die boer wag vir daardie saad om te groei en te gedy sodat ’n nasie gevoed kan word. Landbou moet die saad van hoop in die land plant en in ’n tyd van hopeloosheid hoop bied.”

Minister Thoko Didiza het tydens die kongres ’n boodskap van president Cyril Ramaphosa voorgelees.

Landbou bring sy kant
In sy openingsrede het die president van Agri SA, Jaco Minnaar, beklemtoon dat die landbousektor ten spyte van die knelpunte en uitdagings die afgelope tyd steeds ’n belangrike bydrae gemaak het tot die land se ekonomie en maatskaplike welvaart. “Landbou het steeds sy kant gebring te midde van uitdagende tye.” Hy het gesê dat die landbou slegs sal kan groei en floreer as almal ’n gemeenskaplike doel en fokus het. “Ons is dit aan ons kinders verskuldig om saam te werk vir ’n beter Suid-Afrika,” het hy bygevoeg.

Minnaar het beklemtoon dat die grootste bedreiging vir die landbousektor die voortdurende stygings in insetkoste is. Hy het verder gesê dat Suid-Afrika op logistieke knelpunte moet fokus om op die globale markte te kan kompeteer. Die gevolge van die stakings en ander probleme by die hawens strek baie verder en het ’n groot impak op die land se ekonomie en werkskepping. “Die swak paaie op die platteland het ’n enorme impak op landelike ontwikkeling en die huidige toedrag van sake kan nie so gelaat word nie,” meen hy.

Wat armoede betref, het Minnaar daarop gewys dat dit nie opgelos sal kan word deur net diegene wat tans werk het, se salarisse te verhoog nie. “Daar moet meer werksgeleenthede geskep word. ’n Gesamentlike en hernude poging om meer produkte plaaslik te produseer en te vervaardig sodat die land minder afhanklik kan wees van invoere, kan ’n verskil maak.”

Elektrisiteitsvoorsiening is hoog op die lys van uitdagings wat die landbou negatief raak. Jan Oberholzer, hoof- operasionele beampte van Eskom, het erken dat ’n kragopwekkingsvermoë van onder 60% onaanvaarbaar is, maar het gesê dat fondse benodig word vir die instandhouding van eenhede. “Kragstasies word tans ver bo die norm gedryf, wat beteken dat beurtkrag vir die volgende ongeveer jaar en ’n half hier is om te bly.” Oberholzer het ook erken dat ’n gefokusde benadering nodig is sodat Eskom en landbou gesamentlik na beter oplossings kan soek.

Van Graan SA se afgevaardigdes by die Agri SA-kongres staan reg vir ’n foto. Voor is Willem Groothof, Ramoso Pholo en Jaco Breytenbach. Agter hulle staan Dr Pieter Taljaard, Danie Minnaar en Jeremia Mathebula.

Die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, het in haar toespraak gesê dat uitda­gende en swaar tye nie vir ewig aanhou nie, maar dat sterk mense wat hierdie uitdagings bemeester, die knoop sal deurhak. Sy het ook ’n boodskap van president Cyril Ramaphosa voorgelees waarin hy erkenning aan die landbousektor gee. Volgens Ramaphosa is dit die lewensaar van enige land en moet die landbou soos goud opgepas word. Hy het ook erkenning gegee vir die rol wat produsente speel en sy ontsteltenis oor plaasmoorde en misdaad uitgespreek.

In antwoord op die president se boodskap en Minister Didiza se toespraak het Derek Mathews, Graan SA se voorsitter, beklemtoon dat beleid en infrastruktuur bepalende faktore is wat die omgewing skep waarbinne die landbou kan groei. Hy het ’n beroep op die regering gedoen om aandag aan hierdie aspekte te gee en om ’n omgewing daar te stel waarbinne landbou kan groei.

Tydens die kongres is Jaco Minnaar onbestrede herkies as president van Agri SA. Die twee visepresidente, Nicol Jansen en Phineas Gumede, is ook onbestrede in hulle ampte herkies.