October 2016

JOHAN SMIT, besturende redakteur: SA Graan/Grain

“As jy nie die geskiedenis ken nie, hoe weet jy waarheen gaan jy?” het mnr Crawford von Abo van Bothaville vroeër vanjaar opgemerk tydens ‘n persoonlike onderhoud vir Graan SA se opdragwerk oor die storie van die graan en oliesadebedryf.

Dié wyse woorde deur een van die graanmanne wat diep spore in die bedryf getrap het, bevestig die behoefte wat ‘n klompie jare gelede deur Graan SA se Hoofbestuur geïdentifiseer is, om die ontstaan en ontwikkeling van die graan- en oliesadebedrywe saam te vat en mylpale en hoogtepunte uit te lig. Verder was die mikpunt om by die voete van oudleiers, rolspelers en doeners te gaan sit om hulle persoonlike weergawe van gebeure nie verlore te laat gaan nie.

Verhaal van grane en oliesade in SA in e-formaat verpak

‘n Onbeperkte hoeveelheid navorsingswerke, artikels, skripsies, menings, ondersoeke, studies en ander materiaal, om nie eers van oorlewering te praat nie, is beskikbaar. Die benadering in ‘n Reis deur Tyd was egter nie om tegniese feite of die kronologiese verloop van gebeure vir akademiese doeleindes weer te gee nie, maar eerder om die verhaal van graanproduksie in Suid-Afrika te vertel, met spesifieke verwysing na die verhaal van Graan SA.

Mnr David Theron, ‘n regsgeleerde met jarelange ervaring in die graanbedryf, was die outeur van die publikasie. Hy wys daarop dat hoewel graanproduksie in Suid-Afrika reeds kort na die vestiging van Jan van Riebeeck in die Kaap ontstaan het, in dié publikasie feitlik uitsluitlik verwys word na die omstandighede en verwikkelings met betrekking tot graanproduksie en -bemarking in Suid-Afrika sedert die beëindiging van die Tweede Boere-oorlog in Mei 1902.

“Graan SA se ontstaan in 1999 is nie ‘n losstaande gebeurtenis wat in isolasie beskou kan word nie. Dit is voorafgegaan deur byna ‘n eeu se ontwikkeling van die graanbedryf en georganiseerde landbou in Suid-Afrika. Ten einde die vestiging van Graan SA en sy rol in die graanbedryf behoorlik te kan verstaan, bevat die eerste vier hoofstukke van die boek inligting oor die omstandighede en gebeure wat dit voorafgegaan het,” het hy gesê.

Sekere onderwerpe, soos die verhaal van ontwikkelende landbou, die NAMPO Oesdag en erkenning aan topprodusente en primêre rolspelers, word in aparte hoofstukke belig. Tabel 1 bevat ‘n uiteensetting en hoofstukindeling van ‘n Reis deur Tyd.

Verhaal van grane en oliesade in SA in e-formaat verpak

Verhaal van grane en oliesade in SA in e-formaat verpak

Getrou aan die unieke aard van ons volkie se samestelling, was die totstandkoming van die bedryf egter nie sonder konflik, strewe en strategiese aksie nie. Uit die inhoud van die werk kom die leser opnuut agter dat selfbeskikking, behoorlike verteenwoordiging uit produsentgeledere en die strewe na spesialisasie kenmerke is wat soos ‘n goue draad deur die dekades loop. Of dit markdominansie deur sekere groeperinge was, beweerde eenogigheid van die destydse georganiseerde landbou-strukture of “broederlike” drukgroepe…as dit nodig was om die bul by die horings te pak, was die durf en daad van stoere landbouleiers volbloed aanwesig.

Tussen ‘n goeie idee en ‘n eindproduk lê daar ‘n magdom van inligting en uiteenlopende weergawes van gebeure. Die wysheid van ‘n Geskiedenisprojek Redaksiekomitee, gelei deur mnr Jozeph du Plessis (‘n hoofbestuurslid van Graan SA) het dus handig te pas gekom. Ander lede van die komitee was mnre Neil Claassen, ook ‘n hoofbestuurslid, Nico Vermaak (bestuurder: Korporatiewe Dienste) as funksionaris en koördineerder en Johan Smit, eienaar/ bestuurder van Infoworks – as uitgewer van die publikasie. Die vertaalwerk is deur me Wilna Liebenberg – ‘n professionele taalpraktisyn – behartig.

‘n Eksterne leespaneel se kundigheid is ingespan om inhoud te verifieer en om die geloofwaardigheid daarvan te verseker. Die paneel het bestaan uit mnre Cerneels Claasen, Crawford von Abo, Vic Mouton, Leon du Plessis en Giel van Zyl. ‘n Voorwoord tot die publikasie is geskryf deur mnr Louw Steytler, oudvoorsitter van Graan SA, met ‘n inleiding deur mnr Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA. Hierdie publikasie – wat in elektroniese formaat beskikbaar is – is tydens ‘n afskeidsfunksie vir uittredende hoof bestuurslede op 26 Julie op NAMPO Park bekend gestel. Dit is sedertdien gratis beskikbaar op Graan SA se webtuiste by www.grainsa.co.za onder die Geskiedenis-skakel.

Die elektroniese blaaiboekformaat se funksionaliteite laat die leser toe om die leesskerm aan te pas by sy/haar behoefte. Dit leen hom tot lees op die skerm, maar selfs vir aflaai, aanstuur of vir die maak van kantlynnotas deur die leser. Interessante fotomateriaal en grafieke/tabelle asook video- en klankgrepe ondersteun die digitale leeservaring.
Die publikasie is tans in Afrikaans beskikbaar, maar sal na verwagting teen einde November ook volledig in Engels beskikbaar wees op Graan SA se webtuiste.

Publication: October 2016

Section: Grain SA