October 2015

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Dit is algemeen bekend dat enige besigheid nie al sy eiers in een mandjie moet plaas nie. Dieselfde geld ook vir die graanprodusent. Die vraag is net: Waarin moet die produsent verder investeer en hoeveel gaan die rendement wees?

Die inbring van ‘n skaapstelsel is verseker ‘n baie goeie alternatief wat oorweeg moet word. Hierdie skaapstelsel het egter beslis sy eie probleme wat bestuur moet word. Diefstal is verseker ‘n groot probleem en die bekamping daarvan moet deel uitmaak van die boerdery se kostestruktuur. Daar is verskeie metodes wat gevolg kan word, wat onder meer die huur van voltydse wagte en die gebruik van honde kan insluit.

Kombinasie van komponente

Binne hierdie stelsel kan daar nie net een komponent uitgesonder word wat die winsgewendheid van die stelsel sal verhoog nie. Dit is die kombinasie en komplementering van al die komponente in die stelsel wat tot die voordelige effek daarvan aanleiding gee en wat die winsgewendheid verhoog.

Die voervloei en die produksie van vee wat saamval met die voervloei, is die goedkoopste manier om volhoubare veeproduksie te bewerkstellig. In hierdie lusern-, mielie- en skaapstelsel is dit ook nie anders nie.

As daar diere is wat produseer, moet hul toegang hê tot voldoende kos wat die nodige voedingselemente kan verskaf om volhoubaar, effektief en doeltreffend te produseer. In hierdie stelsel voldoen beide die lusern en mielies aan daardie vereiste – beide mielies en lusern is hoëkwaliteit-kos wat redelik maklik deur die dier in geld omgesit kan word.

As diere nie produseer nie, moet hulle op goedkoop voer loop wat óf net die kondisie handhaaf óf dalk sonder koste ‘n bietjie groei teweegbring. Die lusern-mielie-wisselboustelsel voldoen baie goed aan hierdie vereistes.

Die diere wat nog groei, kan op lusernweidings loop en as die ooie nie produseer nie, kan hulle op goedkoop mieliereste wei. Omdat die lusern in die somer op droëlande groei, beteken dit dat die ooie in die lente moet lam en dat die ooi die lammers op lusern moet grootmaak en dat die lammers vanaf hierdie lusernweiding verkoop word.

Sodra die lammers gespeen word, kan die ooie na natuurlike veld of aangeplante weiding of oesreste verskuif word en in die winter kan die ooie dan oesreste benut of dalk natuurlike weiding benut.

Lusern-mielie-wisselboustelsel

Daar is heelwat navorsing oor die lusern-mielie-wisselboustelsel by die Nooitgedacht Landbou Ontwikkelingsentrum (LOS) op Ermelo gedoen. Hier is ‘n lentelamstelsel gebruik om die lusern in geld om te skakel. Op Wildebeesfontein het OTK ook soortgelyke werk gedoen. Die voervloei wat by Nooitgedacht gebruik is, is hoofsaaklik soos volg:

  • 15 Oktober tot 28 Februarie: Droëland-lusernweiding
  • 1 Maart tot 15 Mei: Droëland-lusernweiding aangevul met hooi, mielies of mieliereste (soja-oesreste kan ook lekker hierby inpas)
  • 15 Mei tot 30 Julie: Mieliereste
  • 1 Augustus tot 15 September: Mieliereste, proteïenlek en hooi
  • 15 September tot 15 Oktober: Proteïenlek, mielies, hooi tot en met oorskakeling na droëland-lusernweiding

In die speenlam-produksiestelsel maak die ooie die lammers op die lusern groot waar die lammers gespeen word en dan word hulle op die lusern afgerond voor die lammers bemark word. Die ooie is in die herfs gedek en prikkelvoer in die vorm van mieliegraan is voorsien om die konsepsie te verhoog. Koggelramme is gebruik om die ooie te sinkroniseer en sodoende kon die ooie in ‘n redelike kort tyd klaar lam.

Ten einde goeie beweiding van die lusern te bewerkstellig, is die lusern in kleiner kampe verdeel en is drukbeweiding gebruik om lusernproduksie te verhoog. Dit is baie belangrik om die lusern te rus om sodoende te verseker dat die lusern aanhou produseer en daarom is die kampe nie langer as sewe dae bewei nie.

Aangesien die lusern in rye geplant is, het die skape dit verkies om eerder in die bane te loop, wat vermorsing beperk het. Ongelukkig is die bane vinnig vasgetrap en moes dit meganies losgemaak word.

Lusern is ‘n gewas wat bekend is daarvoor dat hy kan produseer. Sodra hierdie gewas op hoëpotensiaalgronde gevestig word, kan die opbrengs maklik 1 ton droëmateriaal per 100 mm reën wees. In die Oostelike Hoëveld is dit moontlik om tot 12 ton droëmateriaal te produseer. Op Nooitgedacht is die lusernlande met tien Merinolammerooie per hektaar belaai vir ongeveer sewe maande of ongeveer 17 kleinvee-eenhede (KVE) per hektaar.

‘n Uitstekende daaglikse gewigstoename is bereik. Die jong lammers het maklik met 215 gram/dag gegroei oor ‘n periode van 165 dae. In Tabel 1 word die hoeveelhede vleis en wol per hektaar op Nooitgedacht se lusern geproduseer, weergegee.

Vleis- en wolproduksie

Gegewe die huidige wol- en vleispryse, is dit ‘n allemintige inkomste per hektaar. As al die skaapkoste in berekening gebring word, is die bruto marge van die skaapstelsel steeds positief en kan die skape gemaklik die vestigingskoste van die lusern terugbetaal. Die verhoging in die mielie-inkomste dra ook ‘n groot gedeelte by tot die algehele winsgewendheid van die stelsel.

Probleme

Ongelukkig is dit so dat daar nêrens ‘n paradys sonder ‘n slang is nie. Lusern het verseker ook probleme wat die produksie dramaties kan beïnvloed. Sodra daar met vee op so ‘n intensiewe stelsel geboer word, raak die klimaatrisiko baie hoog. Dit is maklik dat daar in ‘n droogtejaar nie genoeg kos kan wees nie. Die belangrikheid van ‘n goeie voerbank kan nie genoeg beklemtoon word nie.

Opblaas is verseker ook altyd ‘n moontlikheid. Daar is verskeie metodes om hierdie risiko te bestuur. Die regte lek en die bestuur van die diere en die uitsit van goeie kwaliteit hooi is net ‘n paar voorbeelde van hoe hierdie opblaasrisiko bestuur kan word.

Daar is heelwat vermorsing van die weiding as die weiding toegelaat word om te groot te word. Die diere sal dan baie selektief die lusern benut en as die diere geforseer word om die stingel te benut, kan die diereprestasie drasties verlaag.

Ten einde die gewas se vermorsing te beperk, moet die diere gereeld verskuif word. Dit maak die stelsel arbeidsintensief en die stelsel sal beslis ook heelwat van jou as bestuurder se bestuurstyd opneem. Jou oog en spore moet daar wees.

Lusern se lewensverwagting is ongeveer vyf jaar en daarom moet daar jaarliks ‘n nuwe gedeelte gevestig word. Dit is algemeen bekend dat die suksesvolle vestiging van lusern nie so maklik is nie. Maak dus seker dat die vestiging reg gedoen word en dat die gewas reeds groei voor die ou gedeeltes uitgewerk word.

Die wisselbou-effek van lusern is eintlik die gedeelte waar die geld in die stelsel gemaak word. Mielies wat die lusern opvolg se produksie is gewoonlik baie beter. Op Nooitgedacht is die topbemesting van die mielies op lusernlande nie gedoen nie en die opbrengste was steeds vir die eerste drie jaar beter as monokultuurmielies wat vol bemes was.

Resultate wat op OTK se proefplaas Wildebeesfontein gedoen is, het opbrengsverhogings van ongeveer 65% in jaar een bewerkstellig. Vir jaar twee was dit ongeveer 45% en in jaar drie was dit steeds ongeveer 16%. Daarna was die opbrengste omtrent gelyk. Gegewe hierdie syfers is dit al klaar die moeite werd om die stelsel te implementeer.

Dieregesondheid

Vir die diere om te produseer, is dit belangrik dat die diere se gesondheid op standaard moet wees. Gereelde inentings moet gedoen word. Die inwendige en uitwendige parasiete moet bestuur word en die diere moet in ‘n baie goeie algemene kondisie gehou word. Daar moenie net aan die ooie aandag gegee word nie; die ramme moet ook kan werk as dit van hul verwag word.

Die opbou en bestuur van weerstandige parasiete in enige intensiewe stelsel is altyd ‘n groot probleem. Deur die diere gereeld te verskuif en hulle dalk vir ‘n lang tydperk weg te hou van ‘n gebied, is een metode om die probleem te bestuur. Die lusern-mielie-wisselboupraktyk is ‘n baie goeie manier om hierdie probleem op te los.

Die ooie moet ook verkieslik tydig gesonar word sodat die meerlingooie en enkeling-ooie afsonderlik bestuur kan word. Tydens lamtyd moet alles moontlik gedoen word om mortaliteite so laag as moontlik te hou, want soos almal weet, kan net lewendige lammers verkoop word. Doen daarom alles in jou vermoë om hierdie lammers te beskerm.

Die meerderheid van inligting in hierdie artikel is aangehaal uit en kom uit werk wat dr A. Moore, F. Steynberg, K. Odendaal, M. Swart en talle ander op Nooitgedacht LOS gedoen het. In hierdie artikel is net ‘n paar van die belangrikste aspekte aangeraak.

As daar meer vrae is, kan produsente gerus vir Pietman Botha by 082 759 2991 kontak.

Vleis- en wolproduksie

Publication: October 2015

Section: Focus on