October 2016

ESTIE DE VILLIERS, redakteur: SA Graan/Grain

Jan Taks se probleme met uitbetalings word aangespreek

Die dieselrabat-tameletjie wat die afgelope paar jaar voortgesleep het en gelei het tot agterstallige uitbetalings van dieselrabat- en BTW-eise aan produsente vorder goed, maar bly maar sukkel. SA Graan/Grain het met mnr Corné Louw (senior ekonoom: Graan SA) gesels om uit te vind wat die situasie tans is.

Wat was die probleem met die uitbetaling van dieselrabat-eise vanaf die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aan produsente?

Die afgelope jaar of twee het lede van Graan SA gekla dat hul dieselkorting en BTW-uitbetalings wat deur SAID hanteer word, nie gedoen word nie. Sommige lede se uitbetalings is sedert einde 2014 uitstaande.

Dit plaas geweldige druk op produsente se kontantvloei – veral in die heersende droogte. Die grootste probleem het voorgekom in die Noordwes Provinsie, waar ons op ‘n stadium ‘n lys van oor die 100 produsente gehad het wat al ‘n geruime tyd vir hul uitbetalings gewag het.

By sommige produsente het oudits maande geduur om gefinaliseer te word, terwyl daar by ander geen rede was waarom die rabatte en BTW nie uitbetaal is nie.

Is die probleem intussen opgelos en hoe het Graan SA sy lede in die proses bygestaan?

Graan SA het na ‘n ooreenkoms met SAID ‘n lys bygehou van produsente wie se uitbetalings nie gedoen is nie. Op ‘n weeklikse basis is die opgedateerde lys aan hul hoofkantoor deurgestuur vir verdere hantering.

Aan die begin was die vordering stadig as gevolg van die groot agterstand wat daar was. Graan SA het weer met senior amptenare van SAID hieroor vergader.

Hul verduideliking vir die oponthoud was:

  • Sleutelpersoneel wat in hierdie tydperk met verlof was;
  • 100% versus 80% van dieselverbruik wat deur produsente geëis is;
  • nat en droë basis-kontrakwerk wat verkeerd geïnterpreteer is; en
  • diverse “gemengde” industrieë – waar byvoorbeeld geboer en gemyn word.

Senior amptenare het aan Graan SA die bevestiging gegee dat hierdie probleme en agterstande prioriteit aandag en kapasiteit geniet. Alhoewel daar steeds sake uitstaande is, is die terugvoer wat ons kry dat dit al beter gaan.

Was die probleem slegs beperk tot die Noordwes Provinsie?

Meer as 90% van die probleme wat by ons aangemeld is, het uit die Noordwes Provinsie gekom.

Watter ondersteunende dokumentasie moet ‘n produsent saam met ‘n eis indien om te verseker dat dit vinnig afgehandel word?

Na lang konsultasie en kommentaar oor hoe ‘n praktiese uitvoerbare logboek moet lyk, word daar nou op die finale formaat van SAID se voorgestelde logboek gewag. Tot dan gaan daar maar nog steeds onsekerheid hieroor bestaan.

Graan SA beveel aan dat produsente op hierdie stadium ten minste die volgende inligting moet byhou en volledig boek moet hou van dieselverbruik op die plaas (vanaf die hoofverspreidingspunte):

  • Datum wat diesel ingegooi is;
  • hoeveelheid diesel ingegooi;
  • beskrywing van die voertuig;
  • en waarvoor die diesel aangewend is.

Publication: October 2016

Section: On farm level