August 2016


ALZENA GOMES, skakelbeampte: Graan SA

Die 2016 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar-finaliste is ieder en elk deur die afgelope droogteseisoen geraak, maar tydens die besoek deur die paneel van beoordelaars vroeg in Juniemaand, is ons net begroet met stories van hoop, dankbaarheid en oplossings vir die moeilike tye.

Wat ‘n besondere voorreg om hierdie uitstaande produsente te besoek ter voorbereiding van die toekenningsaand, wat plaasvind op Vrydag, 14 Oktober vanjaar in Midrand.

Die titel van Graanprodusent van die Jaar sal vir die 17de keer toegeken word aan dié mees effektiewe en doeltreffende graanprodusent, wat bo en behalwe ‘n ware rolmodel in die gemeenskap, ook die kuns bemeester om voortdurend winsgewende en volhoubare graanproduksie toe te pas.

Hierdie jaar se finaliste – ware entrepreneurs in elke opsig – is afkomstig van die mooie Riversdal/Albertinia-distrik in die Suid-Kaap, waar die Willemse-tweeling primêr op droëland plant met minimale besproeiing, die Krugers van Orania in die Noord-Kaap wat onder besproeiing saai en die Du Plessis Boerdery in Mpumalanga wat beide droë- en besproeiingslande in die Delmas-distrik bewerk.

‘n Kundige paneel van beoordelaars wat onder meer ‘n agronoom, ‘n landbou-ekonoom en ‘n grondkundige insluit, asook graanprodusente wat op die Graan SA Hoofbestuur dien, was weer eens beïndruk met die professionele en effektiewe bestuur van die beskikbare hulpbronne in elke gebied.

Finaliste word beoordeel op graanproduksie sowel as ander fasette van die boerdery, wat diversifikasie, bestuur van al die boerderyeenhede in totaliteit en georganiseerde landbou- en gemeenskapsbetrokkenheid insluit.

Die klem van die toekenning val steeds op effektiewe en doeltreffende graanverbouing en die noodsaaklikheid van volhoubare graanproduksie is tydens elke besoek deur die finaliste geopper. Produsente word gemeet aan hul hulpbron-, finansiële- en bemarkingsbestuur sowel as agronomie, produksiepraktyke, plaag- en onkruidbeheer, meganisasie- en arbeidsbestuur.

Dit is ook verblydend om meer te leer van die betrokkenheid van elke produsent in hul boerderygemeenskappe en om die optimisme ten opsigte van georganiseerde landbou se beleidsomgewing aan te hoor.

Die gesogte toekenning, verteenwoordigend van die somer- en winterreënvalstreke, verleen aan produsente die kans om medeprodusente te nomineer en gee Graan SA die geleentheid om erkenning aan uitmuntende graanproduksie te gee.

Verder bied dit die geleentheid om die rol van die graanprodusent in die waardeketting met trots ten toon te stel, die beeld van ons produsente te bevorder en om die waarde van die produsente as rolmodelle en voorbeeld vir die jonger geslag uit te lig.

Ons opregte dank gaan hiermee aan ons borge wat bydra tot die sukses en die voortbestaan van die gesogte toekenning. Ons stel graag met trots ons 2016-finaliste voor.

Ontmoet die 2016 Graanprodusent van die Jaar-finaliste

Ontmoet die 2016 Graanprodusent van die Jaar-finaliste

Ontmoet die 2016 Graanprodusent van die Jaar-finaliste

Ontmoet die 2016 Graanprodusent van die Jaar-finaliste

Publication: August 2016

Section: Grain SA