July 2016

LEONARD OBERHOLZER, tegnologie ontwikkelingsbestuurder: Monsanto

Kultivarskeuse is een van die belangrikste besigheidsbesluite wat ‘n produsent jaarliks moet neem. Produsente word oorval met inligting, proefresultate, bemarkingsmateriaal en ander media. Dit word al hoe moeiliker om goeie besluite te neem en sin te maak uit al die inligting waarmee produsente gebombardeer word.

Met hierdie artikel wil ons poog om die belangrikste punte uit te lig waarna produsente moet oplet wanneer hulle besluite ten opsigte van kultivars en waar hulle hul geld in die komende seisoen gaan spandeer, moet neem.

Saadmaatskappye het ook ‘n verantwoordelikheid teenoor die bedryf om genetika aan die mark vry te stel wat aan die produsent se behoeftes voldoen en ook die volhoubaarheid van die bedryf verseker. Die kompetisie tussen maatskappye is sterk en die algemene gejaag na die mielie met die hoogste opbrengs, hou almal op hulle tone.

Dit hou ook groot voordeel vir die produsent in. Vanjaar se droogte het weer eens die belangrikheid van stabiliteit beklemtoon. Mielies moet goed doen in goeie en slegte jare anders kan dit tot groot probleme lei.

Opbrengsdata

Opbrengsdata word jaarliks deur verskeie bronne gepubliseer. Beide die saadmaatskappye en die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR)-IGG, met die Mielie Inligtingsgids (MIG), is voorbeelde van dié inligting. Die inligting is vryelik beskikbaar en verskillende same stellings en interpretasies van data kan baie verwarring veroorsaak.

Mielie-opbrengsdata
Kom ons kyk na die interpretasie van mielie-opbrengsdata en die effek van variasie.

Data is die sleutel tot suksesvolle mielieproduksie

Soos data bymekaargevoeg word, word ‘n volledige prentjie van die kultivar gevorm om sodoende akkurate opbrengsvoorspellings te kan maak. Daar is deesdae ‘n neiging by presisieboerderymaatskappye en masjinerievervaardigers om produsente by te staan om bestuursbesluite te neem.

Dit het tot gevolg dat addisionele data by die vergelykings gevoeg word, wat dit nog moeiliker kan maak om besluite te neem.

Evalueer veelvuldige lokaliteite

Data vanaf ‘n enkel perseel of lokaliteit gee slegs een dimensie van die prestasie en gee nie ‘n geheelbeeld van die opbrengspotensiaal van die baster nie. Die klimaat, insekpopulasiedruk, siektes en grondvrugbaarheid is slegs enkele faktore wat ‘n kultivar se prestasie oor verskillende omgewings heen kan beïnvloed.

Die evaluasie van kultivars oor veelvuldige lokaliteite heen bied die geleentheid om ‘n akkurate beeld van die kultivar en sy stabiliteit te kan vorm. Ten minste 30 lokaliteite is die aanvaarde norm.

Die evaluasie van kultivars oor verskillende seisoene heen

In ‘n land soos Suid-Afrika is dit baie belangrik om kultivars ook oor verskillende jare heen te evalueer. Seisoenale verskille is groot en groot verskille tussen temperature en reënval kan jaarliks voorkom.

Stabiliteit van opbrengs is baie belangrik vanweë die gemelde seisoenale verskille. Dit is vir die produsent krities om na meerjarige data te kyk en nie net na een jaar se data nie. Daar word algemeen aanbeveel dat daar na ten minste drie jaar se data gekyk moet word.

Verminder die variasie sodat ware verskille gemeet word

  • Bestuurspraktyke kan ook kultivaropbrengs beïnvloed.
  • Wanneer te veel veranderlikes gemeet word, raak dit moeilik om sin te maak uit die interaksie van die kultivar met die omgewing.
  • Slegs een veranderlike, soos byvoorbeeld bemesting, kan op ‘n slag getoets word en al die ander praktyke soos onkruidbeheer, rywydte en plantpopulasie moet konstant gehou word.
  • Variasie in die perseel – soos grondtipe (Figuur 1) – kan ook ‘n groot invloed op resultate hê. Dit is belangrik om hierdie variasie te identifiseer.
  • Ander omgewingsfaktore wat ‘n rol kan speel, is die volgende:
    • Plantdatum;
    • gewasrotasie (wisselbou);
    • bewerkingspraktyke;
    • insekbeheer;
    • onkruidbeheer; en
    • biotegnologie in die saad en die bydrae daarvan tot opbrengs.

Kultivareienskappe

Opbrengs word dikwels gesien as ‘n kultivareienskap, terwyl dit eintlik die resultaat is van verskeie bestuurs- en omgewingsfaktore se interaksie met die genetika.

Maatskappye evalueer verkeie eienskappe voordat hulle ‘n nuwe kultivar aan die mark vrystel. Dit kom gewoonlik daarop neer dat ‘n kultivar deur ‘n toetsfase van ongeveer sewe jaar gaan voordat dit die mark betree. Die ideale mielie bestaan nie en dikwels probeer maatskappye om die beste eienskappe saam te voeg om sodoende die oplossing aan die produsente te bied.

Sleuteleienskappe
Sekere eienskappe is krities vir alle kultivars om die mark te kan betree. Figuur 2 toon die belangrikste eienskappe wat volgens navorsing onder produsente gedoen is in volgorde van belangrikheid.

KULTIVARKEUSE: Hoe om die regte een te kies

Eienskappe wat vir kultivarkeuse belangrik is, sluit in:

Opbrengsstabiliteit
‘n Stabiele opbrengs is baie keer belangriker as opbrengste wat net in goeie jare hoog is, maar in droër jare ondergemiddeld presteer. Opbrengsstabiliteit oor veelvuldige proewe en verskillende groeitoestande heen is krities omdat die volgende seisoen nie voorspel kan word nie.

Opbrengspotensiaal
Die opbrengspotensiaal van die kultivar is baie belangrik omdat dit die produsent in staat stel om in goeie seisoene hoë opbrengste te behaal. Die keuse van só ‘n baster stel hoë verwagtinge vir die komende seisoen en die keuse moet ondersteun word deur langtermyndata oor verkeie lokaliteite heen.

Groeiseisoenlengte

Dit is een van die belangrike faktore tydens kultivarkeuse en word bepaal deur die aantal dae wat die kultivar neem om fisiologies ryp te word. Kultivars moet hierdie stadium ten minste twee weke voordat die eerste swaar ryp in die omgewing voorkom, bereik.

Die verspreiding van kultivars met verskillende groeiseisoenlengtes hou die volgende voordele in:

  • Dit verlaag die risiko vir hitte- en droogtestres.
  • Dit verminder die gevaar dat alle kultivars tydens die midsomerdroogte blom en bestuif.
  • Die bestuiwingsperiode word verleng.
  • Sommige kultivars kan vroeër gestroop en bemark word.
  • Die impak van siektes en plae kan verlaag word.

Dit is ook belangrik dat alle vinnige kultivars nie later geplant word nie, maar dat vinnige en mediumgroeiers vroeg en laat geplant word om risiko te versprei.

Staanvermoë

Staanvermoë is belangrik, want dit vergemaklik die oesproses. Kultivars wat vroeg omval, het ook opbrengsverliese tot gevolg omdat sapvloei- en fotosintetiese prosesse beïnvloed word.

Dit is ook baie belangrik dat mielies wat teen hoë plantestande geplant word, ‘n goeie staanvermoë het.

Siekteverdraagsaamheid
Siekteverdraagsaamheid is baie belangrik, want sekere siektes kan die totale oes vernietig. Dit is ook belangrik om te kyk na die effek wat bestuurspraktyke soos monokultuur op die kultivar het. Die kultivar kan nie al die foute regmaak nie. Maak seker jy ken die siektes in die omgewing en kies dan kultivars met die beste weerstand.

Biotegnologie-eienskappe
Kies biotegnologie-eienskappe wat inpas by jou praktyke en gebruik dit tot jou voordeel. Gebruik die nuutste en ook die mees effektiewe tegnologie.

Agronomiese eienskappe
Agronomiese eienskappe is baie belangrik en verskeie daarvan kan ‘n rol in kultivarkeuse speel. In ligte sandgronde in die Vrystaat moet kultivars sterk opkom en groeikragtig wees om vinnig uit die wind uit te kan kom.

KULTIVARKEUSE: Hoe om die regte een te kies

Kultivars vir verskillende stelsels

Kultivars is ontwikkel om aan verskillende vereistes te voldoen. Daarom is daar ultra-kort-, kort-, medium- en langgroeiers en ander kultivars wat meerkoppig is. Ander kultivars is weer bekend vir hulle vermoë om te spruit. Behalwe vir hierdie bekende verskille, is daar kultivars wat besondere sterk wortelstelsels het en sodoende die vermoë besit om binne byvoorbeeld ‘n direkte plant-stelsel goed te vaar.

Jy as produsent kan dus ‘n kultivar kies wat binne jou plantvenster en verwagte midsomerdroogte inpas, maar ook binne jou boerderystelsel. Die regte kultivar sal gekies moet word en op die regte manier bestuur moet word.

Dit mag aspekte soos plantpopulasie en bewerking insluit. Hoe korter die kultivar, hoe minder sal die kultivar vir ongunstige toestande verdraagsaam wees. Gewoonlik sal hierdie kultivars se plantpopulasie ook ‘n bietjie hoër moet wees. Praat gerus met jou verteenwoordiger of landboukundige om jou met hierdie aanbeveling vir jou spesifieke gebied te help.

Jy as produsent moet seker maak of die kultivar enkelkoppig of meerkoppig is. Hierdie aspek sal ook help om te besluit hoeveel die kultivar sal aanpas as daar baie gunstige omstandighede voorkom, of hoe die kultivar sal reageer as die omstandighede baie ongunstig raak.

Soms mag dit wees dat ‘n kultivar baie spruite maak wat dalk in goeie omstandighede die opbrengs dramaties kan verhoog, maar as dit baie ongunstig raak, die opbrengs baie kan benadeel.

Weer eens is daar vir elke kultivar ‘n stel reëls wat toegepas moet word. As die reëls nie optimaal vir die kultivar toegepas word nie, kan dit die opbrengs erg benadeel en aan die kultivar ‘n slegte naam besorg.

Maak seker dat jy die kultivar volgens sy eie stel reëls bestuur.

Samevatting

  • Kultivars moet geselekteer word met soveel inligting as moontlik tot jou beskikking.
  • Kultivars se prestasie wissel oor seisoene heen en daarom is meerjarige data noodsaaklik.
  • Veelvoudige lokaliteite is ook noodsaaklik om omgewingsfaktore uit te skakel.
  • ‘n Pakket van drie tot vyf produkte word aanbeveel om onbeheerbare risiko’s te minimaliseer.
  • Maak seker dat die kultivar volgens die optimale produksiepraktyk vir die kultivar bestuur word.

Geen kultivar, al het dit ‘n baie hoë opbrengs, sal elke keer elke proef wen nie. Hoe meer data ingesamel en vergelykings gedoen word, hoe groter is die kans dat jy die regte kultivarkeuse sal maak.

Wees versigtig om nie net op opbrengs te fokus en ander agronomiese eienskappe te ignoreer nie.

 

 

Publication: July 2016

Section: On farm level