April 2016

SA GRAAN/GRAIN REDAKSIE

Suid-Afrikaanse graanbedryf staar verandering in die gesig

Grond is die hoeksteen van volhoubare voedselsekerheid. Dít is een van die belangrikste boodskappe wat mnr Louw Steytler (voorsitter: Graan SA), tydens sy voorsittersrede by die onlangse 2016 Graan SA Kongres op NAMPO Park naby Bothaville oorgedra het.

Steytler het in sy digitale boodskap bygevoeg dat enige onstabiliteit ‘n groot impak op die vermoë van Suid-Afrikaanse landbou sal hê, wat sal verhoed dat die sektor goeie kwaliteit, maar bekostigbare voedsel produseer.

Gepaard met kommer oor grondbesit en politieke onstabiliteit het die afgelope droogtejaar ‘n stokkie in landbou se speke gesteek – nie net in een of twee provinsies nie, maar landswyd. Dit het gelei tot die verswakking van die wisselkoers en het ‘n stadiger ekonomiese groeiproses tot gevolg gehad.

“Die Suid-Afrikaanse graanbedryf staar ‘n verandering in die gesig,”  het mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder: Graan SA)  in dieselfde digitale boodskap gesê. “Dit is amper asof die einde van 2015 ‘n era in die graanbedryf afgesluit het.”

Baie produsente wonder hoe hulle deur die nuwe strome gaan swem. De Villiers wys daarop dat die manier waarop graan in die toekoms geproduseer gaan word, by die nuwe “klimaat” sal moet aanpas om volhoubaar en winsgewend te bly.

“Dit blyk dat ons in ‘n meer beperkte omgewing is en dit is juis dáár waar die aanpassings sal moet kom – ook binne die organisasie,” aldus De Villiers. Hy het bygevoeg dat die graanbedryf meer onmiddellike oplossings sal moet vind om die rimpeleffek van die droogte teen te staan. “Dit is ‘n onderwerp wat almal raak.”

Steytler het die punt beaam en genoem dat die tragedie van die droogte die krisis van voedselsekerheid skerp onder die soeklig geplaas het. “Maar ons sal saamstaan en ‘n pad vorentoe vind.”

Dit is noodsaaklik dat die graanbedryf die regering nader om ‘n oesversekeringskema op die been te bring. ‘n Nuwe tipe oesversekeringskema word benodig vir ‘n langer-termyn volhoubare stabiliteit in die bedryf.

“Ons moet ‘n droogteplan, wat vra vir oesversekering en ondersteuning van die staat af, vir die regering aanbied. Dit word buitensporig duur en die risiko is baie hoog. Die graansektor kan nie altyd instaan vir die kostes nie. Ons sal maar sien hoe die staat op bogemelde reageer,” het De Villiers verder gesê.

Daar is verskeie goeie voorbeelde in Amerika en Kanada en Graan SA voel positief dat hulle regeringsondersteuning sal ontvang – veral noudat dit duidelik is watter verwoestende effek droogte kan hê indien daar nie só ‘n program in plek is nie.

Steytler voel dat dit uiteindelik baie goedkoper sal wees om die probleme en sosio-ekonomiese gevolge daarvan direk op die platteland aan te spreek.

Suid-Afrikaanse graanbedryf staar verandering in die gesigDe Villiers het verder genoem dat ten spyte daarvan dat die landbougemeenskap geneig is om bo hulle omstandighede uit te styg, hulle nog steeds die geleentheid gegun moet word om skuld af te betaal.

“Dit is een van ons grootste struikelblokke – dat finansiële instansies dit nie vir produsente binne die perke van die kredietwet moontlik kan maak om lenings af te betaal oor langer termyne nie.

“Te midde van moeilike ekonomiese tye en min werksgeleenthede is verbruikers nie in staat om die aanhoudende voedselprysstygings as gevolg van invoere te bekostig nie.” Hy het verder genoem dat mielies teen ‘n ingevoerde prys van R3 000/ton baie meer is as wat die plaaslike produsente verlede jaar ontvang het. “Verlede jaar het witmielies teen R2 200/ton verkoop en tans is dit R5 200/ton.”

Die droogte het weer eens beaam hoe noodsaaklik voedselsekerheid is. Dit kom direk terug na grondbesit-sekerheid.

Grondeise het sy tol geëis en enige verdere onstabiliteit sal ‘n negatiewe impak op verdere produksie hê.

Produsente sal moet fokus op volhoubaarheid deur die toepassing van wetenskaplike benaderings soos datawetenskap in boerdery.

Graan SA benadruk spesifiek die noodsaaklikheid van navorsing.

“Deel van ons leierskapsverantwoordelikheid is om die heel beste navorsers in die land bymekaar te kry deur middel van konsortiums. Dit lei dan na die resultate wat produsente benodig om ‘n pad vorentoe toe vind in die toekomstige Suid-Afrika,” het De Villiers benadruk.

Spesifieke aandag sal aan koring gegee word. Dit blyk dat die koringbedryf vir ongeveer vier jaar al onder erge druk verkeer. Die afgelope twee jaar was egter effens beter en daar is gewerk aan ‘n oplossing om die koringbedryf soos ons dit ken, ‘n hupstoot te gee. Dit sal nie oorleef soos sake nou daar uitsien nie.

“Die fokus van die navorsing – soos die pre-teling en vrystellingskriteria – is ongetwyfeld om oesproduksie te verhoog.”

De Villiers het verduidelik dat alhoewel die kwaliteitsaspek nie eenkant toe gestoot is nie, die graanbedryf nie kan toelaat dat kwaliteit die oesopbrengste belemmer en sodoende winsgewendheid negatief beïnvloed nie.

“Die nuwe strategie sluit in eindpunttantieme wat verseker dat die telers met die regte kultivars wat die beste resultate lewer, vergoed sal word.” De Villiers het bygevoeg dat die mark sodoende vinniger sal groei en dit sal lei tot beter, nuwer en meer kultivars.

“Dit is belangrik dat Graan SA ook die navorsing van hitte- en droogtebestande mielies fasiliteer.”

Slegs strategiese vennootskappe sal verseker dat daar aansienlike groei en verbetering is. Dit is van die uiterste belang. De Villiers het bevestig dat Graan SA reeds verskeie sulke vennootskappe met die regering gesmee het, wat onder andere nuwe fondse vir sojaboonproduksie insluit.

“Ons het in 2015 reuse-stappe gedoen om onafhanklike produsente te vestig en dit het groot sukses tot gevolg gehad.”

Graan SA het ook met Momentum saamgespan om ‘n groepvoordeelskema vir produsente te stig.

“Daar was dan natuurlik ook die vennootskap wat ons met Agri SA gevestig het om die sosiale opheffing van plaaswerkers te verseker.”

De Villiers het afgesluit deur te noem dat ten spyte daarvan dat 2015 ‘n moeilike jaar vir die landboubedryf was, Graan SA tog op ‘n positiewe noot geëindig het met ‘n effense bedryfswins en ‘n skoon oudit. Graan SA het ook die gebou op Bothaville verkoop – wat ‘n ekstra inkomste ingebring het.

“Ons terugblik op 2015 het ons daarom gelaat met ‘n gevoel van beide prestasie en teleurstelling.”

Publication: April 2016

Section: Grain SA