Agri SA & Fidelity ADT: Vennote teen misdaad

Mariëtta Cronjé, SA Graan/Grain medewerker

2125

Die erns van plaasaanvalle en ander misdade teen die boerderygemeenskap het Agri SA genoop om dringend geleenthede te ondersoek om die veiligheid van dié gemeenskap te verbeter. Gevolglik is daar ’n vennootskap met Fidelity ADT aangegaan, ’n filiaal van die Fidelity-dienstegroep, ten einde ’n reeks dienste en produkte aan Agri SA-lede en die landelike gemeenskap te bied as ’n maatreël teen die knellende probleem van plaasgeweld en landboumisdaad.

Volgens Agri SA het die onaanvaarbare vlakke van plaasaanvalle steeds toegeneem in 2017/2018, terwyl aangemelde veediefstalsake ook met ’n verdere 7,2% toegeneem het. Sewe uit tien boerdery-eenhede het die een of ander vorm van misdaad ervaar, terwyl 37,2% van produsente deurgeloop het onder diefstal van infrastruktuur. Die totale landbouverwante misdaadskoste beloop R7,7 miljard – wat bevestig dat die boerderygemeenskap in Suid-Afrika herhaaldelik slagoffers van verskeie misdade is.

Staan saam teen misdaad
“Die probleem van plaasveiligheid is te groot vir ’n enkele organisasie, gemeenskap of selfs owerheidstrukture om te hanteer,” sê mnr Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Landelike Veiligheid. “Die realiteit is dat geweldsmisdaad in ons landelike boerderygebiede nie slegs die gemeenskap raak nie, maar ook ’n negatiewe impak op voedselproduksie, nasionale stabiliteit en die ekonomie van die land het. Om hierdie rede bly die veiligheid van die boerderygemeenskap een van die uitdagings wat alle produsente oor Suid-Afrika heen moet aanspreek.

“Hierdie vennootskap bied ’n geleentheid vir Fidelity ADT om, danksy die aansienlike ondersteuningstruktuur van die Fidelity-dienstegroep, ’n magdom ervaring en sekuriteitskennis aan Agri SA en landelike kliënte beskikbaar te stel deur die lewering van ’n baie geïntegreerde en robuuste veiligheid- en sekuriteitsdiens aan boeregemeenskappe. Hierdie dienste is ook beskikbaar aan ander Agri SA-lede, soos korporatiewe lede en landboubesighede.

“Die veiligheidsvennootskap kan egter slegs suksesvol wees as dit met die samewerking van provinsiale unies, boereverenigings, plaaswagte en plaaslike sekuriteitsmaatskappye geskied,” sê Tommie.

“Bekostigbare maar tog voordelige veiligheidsoplossings via Agri SA is uiters noodsaaklik vir kwesbare boerdery- en landelike gemeenskappe. Ons sal ’n gesentraliseerde inligtingspunt bied om misdaadondersoeke en arrestasies te voorspel en te fasiliteer. Ons sal ook nou saamwerk met plaaswagte, plaaslike veiligheidsmaatskappye en boereverenigings om hul vaardighede op te skerp en hulle te bemagtig oor onder meer burgerlike inhegtenisname, aanmelding van verdagte gedrag, grondbesettings, nywerheidsonrus, veediefstal en opleiding in verskeie veiligheidsaspekte,” sê mnr Wahl Bartmann, hoof uitvoerende bestuurder van die Fidelity-dienstegroep.

“Die ooreenkoms met Agri SA plaas Fidelity ADT se veiligheidsinfrastruktuur, wat oor 62 jaar ontwikkel is en 55 805 veiligheidspersoneellede, 156 takkantore, 4 066 voertuie en 9 098 vuurwapens insluit, binne bereik van die landbougemeenskap.

“Fidelity bied ’n verskeidenheid tegnologieë en dienste aan die landbougemeenskap, insluitend alarm- en kamerastelsels, monitering, gespesialiseerde dienste soos misdaad- en forensiese ondersoeke, opleiding in misdaadtoneelbewaring en vuurwapenopleiding. Ons bied ook die koppeling van netwerke om die vloei van misdaadinligting te bewerkstellig, ontleding van sodanige inligting en die terugvoering daarvan as bruikbare inligting aan ’n boerevereniging met die oog op verdere optrede.

“Dié vennootskap bied die geleentheid vir ’n enkele toegangspunt vir landboubesighede en plaaslike veiligheidsmaatskappye om pasgemaakte sekuriteitsprodukte en -dienste te bekom teen ’n meer bekostigbare en volhoubare prysstruktuur,” sê Wahl.

“Ons glo dat die vennootskap ’n groot bydrae sal lewer om ’n veilige landelike omgewing daar te stel en sodoende voedselsekerheid en maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling te ondersteun en te reageer op die veiligheidsbehoeftes van landelike gemeenskappe. Hierdie is ook die oogmerke van die Landelike Beveiligingstrategie soos ontwikkel deur die polisie met behulp van Agri SA,” aldus Tommie.