Die jaar van saamstaan om die bult uit te stap

866

January 2016

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Voor ek begin skryf het aan dié hoofartikel, het ek gaan naslaan wat ek alles in Januarie 2015 gereken het aandag moet kry en wat deurslaggewend sou wees. Het ek dit darem verkeerd gehad?! Ai, dit hou my maar nederig met al die voorspellings.

Die grondhervorming, biobrandstof en uitvoere van mielies na China het toe nooit bó kom dryf nie. Die koringbedryf is steeds na vele pogings nie omgedraai nie, maar darem op pad. Die droogte, swak ekonomie en chaos in die politiek het ‘n stokkie voor al ons mooi drome kom steek.

As ek eksamen moes skryf, sou ek maar min punte gekry het, maar met die studentestreke deesdae sou hulle my seker in elk geval deurgesit het en my toekomstige werkgewer sterkte toegewens het. Tog was daar darem vordering met sake soos die herstrukturering by Agri SA, die rekord sojaboonoes ten spyte van die droogte en die graanprodusentontwikkelingsprogram se vooruitgang.

Graan SA is tans in die proses om scenario’s op te stel van hoe erg die droogte kan wees. Met die lees hiervan, sal almal al beter ingelig wees oor wat om in 2016 te verwag. Dalk is dit die jaar waaroor ek gedroom het, waar daar dalk nie genoeg witmielies in Suid-Afrika gaan wees nie – met meulenaars wat gaan bontstaan om hulle mieliemeel wit te hou. Dit is dalk ook nie onrealisties om weer ‘n mengsel geelmieliemeel in 2016 te sien nie. Die nare gedagte wat my soms oorval, is dat die staat dalk in hierdie jaar kan besluit dat hulle die graanmark beter kan beheer as die vryemark en dan is beurtkos ‘n realiteit.

Ons fondament dikteer egter iets heel anders! Ons kan niks verander deur ons te verdrink in slegte scenario’s nie. Dit is juis wat ons onderskei van die webjoernaal- (blog) skrywers van ons land. Hulle wat net heeldag oor die swart kant van die lewe kan skryf en dit so besing dat mens dink dit is die enigste realiteit. Miskien is dit maklik om te voorspel dat dit ‘n baie moeilike jaar gaan wees – produksiegewys en ook ekonomies. Die verkiesing kan dalk meer en meer geweld voortbring met hoë voedselpryse as die dryfveer.

Ons het ‘n gebruik in die huis dat, as almal baie besig is, ons om die tafel te sit en mekaar weer daaraan herinner dat ons daar is vir mekaar en dat ons nie met mekaar moet besig raak nie. Dus gefokus bly met die regte doel voor oë.

2016 gaan ook ‘n verandering in ons leierskapspan meebring met Louw Steytler (voorsitter: Graan SA) se aankondiging dat hy tydens Kongres 2016 gaan uittree. Na soveel jare en jare se diens aan georganiseerde landbou en sy medeprodusente (om nie eers van die duisende kilometers se ry na vergaderings te praat nie), wens ons Louw sterkte toe as hy weer gaan “begin” boer. Ons wat agterbly sal weer saam om die tafel moet sit en opnuut fokus.

Ek gaan nie hierdie jaar weer voorspellings waag nie, maar een ding is seker en dit is dat ons by Graan SA onsself rat om die tuiste te wees vir ons lede op wie ‘n moeilike jaar wag. Ons gaan saam met julle juig as die reën kom en saam met julle huil as die oes nie daar is nie. Laat 2016 dan die jaar wees van saamstaan om die bult uit te stap.

Voorspoed vir 2016 aan alle graanprodusente van Suid-Afrika!

Publication: January 2016

Section: Features