December 2015

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Die jaar is op sy rug. 2015 sal in die annale opgeteken staan as seker een van die droogste jare ooit. Dit was droog in die noorde en in die suide. Dit is die jaar waarin so baie voorspel het dat grondhervorming sou rigting kry om die onsekerhede in landbou te verminder. Dit het toe nie gebeur nie: ‘n Heel nederige ervaring vir dié van ons wat dit voorspel het.

‘n Jaar waarin die agteruitgang van ons ekonomie ons almal bekommerd maak en oral tot protesaksies lei. Die korrupsievlakke het beslis ‘n “all time high” bereik! Ons kon nie die finaal van die Rugbywêreldbeker haal nie – ten spyte van al die produsente wat daar was om ons span te ondersteun. Dit is nie hoe ‘n mens na jou land wil verwys nie.

Die kommerwekkende tendens van stygende kosinvoere is ook nou nie juis iets wat ons as landbouers wil sien of hoor nie. Meer en meer dreigemente van staatsinmenging in die landbou hou ons snags wakker. Wanneer gaan die mensdom leer? Afrika met al sy inmenging van staatskant af is die enigste deel van die wêreld waar daar konstant voedselonsekerheid en -tekorte is. Dit was so amper of dit was in baie opsigte vir landbou ‘n interne ondersoekjaar.

Elke produsent moes eers sy eie huis in orde kry en die droogte oorkom. Ons het ook baie goed gevorder om ons interne strukture in georganiseerde landbou te vernuwe. Daar is nuwe bloed in die leierskapspan by Agri SA, wat gereed is om die nuwe bedeling met nuwe planne aan te pak. Graan SA het ook heelwat tyd aan ons interne befondsing en begrotings spandeer. As jy ‘n pak vat soos die afgelope jaar, is dit gewoonlik maar in stilte.

Een só ‘n pakslae wat nie in stilte was nie, was in my Standerd 3 (Graad 5)-jaar. Die moedelose Juffrou Joubert het al die stout kinders, onder toesig van die klaskaptein, na die hoof se kantoor gestuur. Mnr Barnard, of ´Plos´ soos ons hom genoem het, was nie in ‘n goeie bui nie en het sommer almal voor die voet gefoeter! Selfs die slim, soet en gehoorsame Hennie het ook sommer deurgeloop. Hy was nie stil daaroor toe hulle almal doodstil en stroopsoet weer terug in die klas ingekom het nie!

In só ‘n stilte is dit weer tyd om potlode skerp te maak en seker te maak daar is nie onnodige vet in begrotings nie en nie onnodige kostes in produksie-insette nie. Stilte is ook ‘n goeie tyd om na die hele plaaseenheid se volhoubaarheid te kyk. Volgens ons bewaringslandbou- opname onder Graan SA-lede wil dit blyk dat daar alreeds sowat 40% van ons hektare deur een of ander vorm van bewaringslandbou bewerk word. Dit is goeie vordering en ‘n goeie teenvoeter vir die droogte.

Die stilte van ‘n droë jaar skep baie dinktyd. Dink oor die toekoms, verhoudinge en prioriteite. Laat ek ook net weer elke lid van Graan SA die versekering gee dat ons, as personeel, julle op ons harte dra. Nie net wanneer ons die werk doen nie, maar wanneer ons, saam met julle, in stilte die wolke dophou en vir reën vra.

Publication: December 2015

Section: Features